Search This Blog

Monday, January 14, 2013

Swart op Swart




Daar is soveel wonderlike kleure waarmee ons vandag omring word, maar dit is die kleur swart, wat in die verlede ‘n baie gewilde kleur was, die meest pertinentste kleur saam met donker bruin, donker groen, donker blou en wit.  Vandag is swart nog steeds ‘n gewilde kleur, sal ek sê ‘n besonderse kleur?  Dit is ook ’n kleur van elegansie!  

Baie mense sien die kleur egter as somber, maar dit is ook tog dié kleur wat die hele verlede van ons voorvaders oorheers het.  Kom ons kyk na die simboliese betekenis van die kleur swart.  Deur die eeue heen was die negatiewe oorwegend aan hierdie sogenaamde sombere kleur gekoppel.  Swart ontken die aanwesigheid van lig.  Simbolies word swart  ook gesien as die kleur van die dood, die kleur van duisternis, donker tonnels, swart dae, en ‘n toestand van depressie.  In ons nuwe generasie moes swart egter terugstaan vir die pragtigste variasies van helder geel, rooi, blou, groen, pers, en bruin skakerings.  Nieteenstaande die soms negatiewe siening van die eens magtige kleur swart bly dit in ons moderne leeftyd voorbestaan.



 Dink maar aan die 1950’s en vroër.  As jy te jonk is vir daardie stoere goue ou jare, doen jou dan ‘n guns en gaan “google” fotos en films van daardie jare.  Sal ons ouer garde dan ooit die ou swart en wit rolprente, swart en wit TV beelde, swart en wit fotos, en die swart en wit illustrasies in die koerante van toé, kan vergeet?. 

 En wie onthou nog die wonderlike ou swart stoom lokomotief wat al blasend en rokend soveel mense van sy tyd se belangrikste vervoer middel was ?.  Die was ook in swart.  Tog was dit so mooi!  Tot en met en gedurende die wonderlike 1950’s was so te sê alles en almal maar in swart en wit getooi    Ek dink dat mense eers regtig kleur ontdek het vanaf die middel 1960’s.  Mans met swart pakke klere, die ouderlinge en diakens se swart manel pakke, (my ma het hulle die “swart kraaie” genoem) vrouens met swart rokke, selfs die kinder klere was daardie jare in swart en wit.  Swart was ook ‘n kleur vir rou as iemand gesterwe het.  Ek onthou nog die swart rou bandjies wat die mans en seuns om hulle arms moes dra as iemand in die familie gesterwe het.  Die blink swart lykswa en die begrafnis ondernemers getooi in hulle swart pakke klere bly my ook nog by.  Vroue moes vir tenminste drie maande lank net swart rokke en swart sykouse dra terwyl hulle oor ‘n geliefde gerou het.

Dit is ook net met dié kleur waarmee ‘n mens soveel mêêr kan sê, soos..................

Uit die Nederlandse taal het ons byvoorbeeld die van, Swart verkry.  Die verskillende haarkleure van mense het dan ook verskillende vanne opgelewer waarvan die van Swart een daarvan is.  Die van Swart dui dus op die swart haarkleur en nie op ‘n swart velkleur nie.
Dan is daar ook swartskaap.  Hier is die kleur gekoppel aan ‘n persoon in die familie wat deur die sekere familie lede uitgestoot is.  Ons sê hy of sy is die swartskaap in die familie.  Dit kan ook gekoppel word aan die verhaal waar Jakob sy skape uit die kudde van Laban uitgekeer het.  Ons lees dit is Genesis 32.
Zwartschaap (swartskaap) is ook die naam van ‘n dorp in die provinsie Drente in Nederland. 
Toe ons kinders was het ons ‘n liedjie gesing wat so klink:   Swartskaap swartskaap, het jy baie wol, ja baas ja baas drie sakke vol.                                                    
En onthou jy nog die swart kat reeks soos geskryf deur Gert Basson wie onder die skuilnaam Chris Sasner geskryf het?  Dit was baie gewild onder die tieners van toe en baie van hulle het van hierdie swart geklede held gedroom.
Henry Ford het daarop aangedring dat sy Ford karre swart geverf moes wees.  Hy het ook gesê dat die karre enige kleur geverf kan word so lank as wat dit swart is.
Dan is daar ook nog swart Piet.  Toe ek ‘n kind was het dié knaap nog bestaan, maar jammerlik dat hy saam met die ou Suid Afrika die pad gevat het.  Swart Piet, oftewel “Zwarte Piet” is nog ‘n lewende tradisie soos wat kan kom in Nederland.  Zwarte Piet is Sinterklaas se handlanger en tydens Sinterklaas fees bring Zwarte Piet geskenkies as hy deur die skoorstene van die huise klim, en niemand sien as hy inkom nie want almal slaap.
Een van die gevaarlike spinnekoppe in Suid Afrika is die swart knoppies spinnekop.  Oorsee word hulle ook weduwee spinnekoppe genoem seker maar omdat die weduwee swart klere dra.
Dan is daar nóg ‘n swart kat waarvoor jy versigtig moet wees as dit jou pad kruis.  Volgens oorlewering kan jy baie ongeluk op jou pad verwag wanneer hierdie swart kat jou pad kruis.  (veral as dit Vrydag die 13 de is)
En wat van daardie mooie swart blinkleer tiekie hak dames skoene!  Hoe die dame daarmee kan loop is nog een van die wondere van die wêreld.
Die ou mense het ook in die aande toe daar nog nie T.V. was nie, om die kombuis tafel stories van die swart spoke vertel.  Hierdie spoke is baie gevaarlik omdat hulle swart is.  Die tradisionele kleure van die Halolween spoke is ook swart en oranje, alhoewel deesdae ook persblou, groen en rooi spoke gesien kan word.
Volgens oorlewering is die duiwel ook swart
En wat van ‘n koppie lekker swart koffie so vroeg in die oggend!  Die Afrikaanse “boeretroos” woordjie word gebruik om ‘n lekker koppie swart koffie, sonder melk of room te beskryf.
jy beitel my met jou swart oë en spits woorde jy draai jou leiklipkop jy lag en
breek my tente op maar jy offer my elke aand vir jou Here God.  jou moesie-oor is
my ............  Dit is hoe Antjie krog die pragtige swart oë besing het.

En dan kan die see ook swart wees!  Die swart see is ‘n binnelandse see by Europa.  Dié see is die skeiding tussen Oos Europa en Wes Asië.  Die rede vir dié naam is egter nie die kleur van die water nie, maar kan aan ‘n antieke toewysing wees soos swart het Noord aangedui, rooi het het Suid en geel het Oos aangedui.

Kit was die blitsige, pratende swart motor van Michael Knight.  Wie kan hierdie ongelooflike swart gevaarte vergeet!  Dit moes nét swart wees.  Geen ander kleur sou deug nie.


Bly jy in die Swartland ?  Dan beteken dit dat jy een van daardie gelukkige mense is (watter kleur jy ook al is) wat net ongeveer 50 km.  Vanaf Kaapstad bly, en jy sal heel moonlik ook brei as jy praat.

Die “192 pages COUNTER BOOK” waarin skool kinders skryf is ook nog altyd swart.  Is nie verbaas dat die boek nog nie hier by ons van kleur verander het nie!

Ook die Bybel was ook altyd swart.  Ek het darm al wit Bybels gesien maar dit wil voorkom asof swart maar die oorheersende kleur vir dié Boek is.

Ons het ook mos die geneigdheid om te sê:   Iemand het nou my naam letterlik swart gesmeer.  In ons moderne tegnologiese era kan die gewraakte kleur ook seker maar verander word na “rooi,” of “pers”.

Hier is ook ‘n paar Nederlandse spreekwoorde wat van toepassing is op die kleur “swart” Zwart werken: werken zonder belastingen te betalen - Zwartrijden: rijden met de bus, trein of tram zonder te betalen -De pot verwijt de ketel dat hij zwart ziet: iemand beschuldigen van iets dat men zelf ook doet   -   Hij liegt dat hij zwart ziet: een grote leugenaar zijn.

Ander dinge wat oorspronklik swart was en waarvan sommige nog steeds swart is, is: Mans kamme, oog mascara, stowe, bad proppe, motor bande, mans pakke, muur proppe en teerpaaie.

Soos wat ons oor die afgelope jare gesien het is daar wel op goot skaal wegbeweeg vanaf hierdie alles oorheersende kleur van die verlede, maar tog is daar sommige dinge wat nét swart kán wees!  Geen ander kleur, hoe helder ook al, sal vir hierdie dinge deug nie.  So is daar ook mense in ons tyd wat in ekstase kan raak oor hierdie kleur, swart.  (diegene wat weier om ‘n ander kleur motor te ry as net swart.  Hier by ons kan jy hulle ook al van vêr af hoor aankom, die gedoef doef doef doef!) Is jy ook ‘n aanhanger van swart?
Wat sê jý van die, kleur, swart?      -  Jimmmy
Ps.  Jy kan ook vir my “reply” – sien hier
Onder  - ek sal ook graag van jou stories wil hoor!



No comments:

Post a Comment