Search This Blog

Sunday, January 13, 2013

Baie welkom by my blog




Baie  welkom  by  my  blog.  
Met hierdie blog wil ek graag met jou gesels, of praat, soos party mense sal sê.   Sommer net lekker tong in die kies praat!    Om graag lekker tel praat, aard ek daar na my pa. Hy was ook lief om met mense te praat.   Net soos my pa gaan ek nie politiek praat of mense met woorde aanval nie.  Ek wil ook nie lelik van mense praat nie, want dit is nie soos my pa was nie.  In my pa se lewe was daar nie so iets soos internet, scype, selfone ensovoorts nie.   Hy moes, as hy met iemand wou praat, iemand gaan opsoek om mee te praat en dit kon hy baie goed doen.  Hy was soos hulle sê, ‘n mens mens, of sommer ‘n regte praat mens.   O ja, hy kon ook baie lekker lag!  As hy gelag het moes ons ook lag.   Dit was aansteeklik.   Weer, net soos hy, mag ons ook maar lag as ons mét mekaar praat.    Dit het hom ook besig gehou!, ek bedoel nou die gepratery.    Eintlik dink ek persoonlik dat dit ‘n baie goeie eienskap is om te kan praat.....om dit wat jy weet of wat jy dínk jy weet, met ander te kan deel.   (ek praat nou nie van skinder nie)   Daarom ook dat ek hierdie blog noem : weetjedat.   Daar is ook nog ‘n ander storie verbonde aan hierdie naam van my blog.  

Jy sal miskien vir my  sê dat die naam ‘n bietjie vreemd klink!   Sooo.... Nederlands.    Ja, in ‘n mate is jy dan tog reg.    Jy sien, ek het ‘n kleindogter van so ongeveer 6 jaar oud.   Haar naam is Rebecca en sy woon in Nederland.   Vandat sy begin praat het het sy altyd begin met : Weeeet je?   Sy kon dit so uitrek as sy dit sê.    Alles wat sy weet wil sy aan andere vertel.    As sy praat, móét jy luister.   Sy aard weer na haar ma, Jennifer, wie ook as kind eindeloos kon aanhou en aanhou met praat.   Ek is verseker dat dit ‘n gawe is!   Ook geen wonder dat Jennifer nou Engels in Nederland doseer nie!
Nou wil ek ook met hierdie blog vir jou vertel wat ek dínk ek weet en somtyds wat ék dink my opinie oor ‘n saak is.   Sommer net so lekker my kop leegmaak en jy luister.

‘n Ander vraag wat jy miskien vir my wil vra is, nou waarom is die blog in Afrikaans en nie in Engels nie, of tweetalig nie?    Nou ja, as jy dan wíl weet, ek is ‘n boertjie, groot geword in Upington in die Noord Kaap waar ons nóóit Engels gepraat het nie, wat nog te sê Nederlands!   Snaaks, die Griek met die kafee moes ook maar noodgedwonge Afrikaans aanleer!

Ek onthou nog goed dat as ek die telefoon beantwoord het en daar met ‘n “vloekskoot” iemand aan die anderkant Engels gepraat het, het ek sommer die foon neergeplak!   My onderwysers kon darm Engels praat, of so dink ek, want hulle het ons die taal probeer leer praat en ek het die taal darm elke keer geslaag met 33 1/3%.   Dit was die slaag syfer! 

My ander familie wat ook in die dorp gebly het, was weer Engels.   Hoe dit gebeur het dat hulle Engels en ons Afrikaans was, weet ek nie.   Ek  was nog nie gebore toe dit gebeur het nie.   Ek dink dit het ook maar te doene gehad met die Natte en die Sappe van daardie jare.   Tot die ontsteltenis van my een “auntie”, was ek nogal ‘n uitgesproke Nat.   Sy kon my nie baie veel nie, of soos die Nederlanders sou sê, sy het geen sin in my gehad nie.   Volgens ‘n ander “auntie,” sou ons wat net op daardie stadium Afrikaans magtig was, maar moeilik deur die lewe kom!

Maar, die tye het verander.   Vandag sien ek op die internet dat stoere Afrikaans sprekende mense nou liewer in Engels kommunikeer.   Seker ook maar omdat dit byna die gebruikstaal geword het.    Ek onthou nog dat die naaste groot plek aan ons, ek praat nou nie van Kakamas nie, Kimberly  was en hierdie plek was nét Engels!   Somtyds moes my pa na Kimberly  ry vir besigheid.   Ek het een of twee maal saam met hom daarheen gery, maar dit was beslis nie om Engels te gaan praat nie.   Daar was ‘n winkel waar jy enigiets onder die son kon koop.   Ek het altyd die advertensies van die winkel in die koerant dopgehou en dan  dae en nagte om gedroom van die dag wanneer ek my spaargeld daar kan gaan bestee.   Maar om terug te kom na die taal storie.

Dan moet ons ook nie vergeet dat die land nog daardie jare onder die Britte was nie.   Die Republiek van Suid Afrika het eers gedurende 1961 tot stand gekom.      Ek was toe in standerd 4.   Ek onthou nog hoe ons as skoolkinders met ons grys kort broekies en ons wit skool hempies aan en  die nuwe Suid Afrikaanse vlaggies in die hand, langs die teerpad gestaan het terwyl die optog ter ere van die Republiek van Suid Afrika by ons verby beweeg het en die “army” verby marsjeer het.    Dit was ook die tyd toe die pennies, die sjillings en ponde na Rande en sente verander het en my poskantoor spaarboekie se balans inskrywing ook verander moes word na Rand en sent.
Maar om nou nie te vêr van my storie af te dwaal nie, kom ons kom wéér terug na die Engelse taal.    Ek het darm met verloop van tyd ook geleer om in Engels te kan kommunikeer, en nou, met die kinders in Nederland, moet ek ook myself in Nederlands kan uitdruk.     Die spreekwoord sê mos: “Nood leer bidde.”  

Dit is waarom ek graag wil hê dat nie net die Afrikaans sprekendes my blog moet lees nie, maar ook die Engelse en selfs die Nederlanders.   As hulle die blog in óns taal kan lees sal hulle mos ook leer. ( dit is soos wanner jy in plaas van die “You” die Huisgenoot lees om ook die taal te kan leer)   Ek kan ook van tyd tot tyd met daardie Engelse en Nederlandse vriende in hulle taal komunikeer en dan leer ons mos so van mekaar!  

So, met die taal kwessie nou ook uitgesorteer, hoop ek dat jy hierdie blog van my van harte sal geniet.     Ons kan ook gedagtjies en storietjies met mekaar uitruil. 
                                                                               

                                              

As  jy  vir my e- pos wil stuur is jy ook welkom om dit aan jimmydeacon@yahoo.com te stuur.    O ja, en moenie vergeet om ‘n draai by my ander blog, www.angazi-jimmyd.blogspot.com te gaan maak nie.    Daar kan jy na my fotos kyk wat ek geneem het toe ons vir 3 jaar getoer het.
Tot later dan  
Jimmy  

No comments:

Post a Comment