Search This Blog

Sunday, May 26, 2013

Ek salueer my vrou























Ek salueer my vrou

Het jy al in die oggend wakker geword en tot jou ontsteltenis moes uitvind dat jou vrou ewe skielik baie, baie kwaad is?

Gisteraand het ons voor ons aan die slaap geraak het nog vir oulaas lekker rustig gelê en gesels, en nou, ‘n paar uur later,  hierdie skok!  Sy is boos!

Terwyl ek die beker lekker warm swart  koffie versigtig op haar bedkassie neersit en nog nie regtig kon uitvra wat nou eintlik verkeerd is nie,  kom dit soos die atoombom wat destyds  bokant Herosjima losgelaat is!  Sy ís kwaad vir my!

Sy het gedroom!  My vrou droom nooit nie.  So sê sy.  Maar, laasnag het sy gedroom!  En om alles te kroon, sy het van mý gedroom!  ‘n Nagmerrie, di’s wat sy gehad het, nie dat ek so lelik of boos is nie!  Nee, in haar droom was sý reg en ék verkeerd!

As sy die nag droom, is dit soos die werklikheid self.  Sy droom in “detail”.  Ek vermoed sy droom ook nie soos ander mense in swart en wit nie, maar in kleur.  Volkleur!

“Ek is nog stééds kwaad vir jou!”  sis sy hier langs my in die bed.  En op haar gesig kan ek sien dat dit die waarheid is.  Ek vermoed sy is nog nie heeltemal wakker nie en bly maar vir eers stil.  “Ek het vir jou koffie gemaak,” sê ek ietwat  later toe ek hoor dat haar asemhaling rustiger word.  “Dankie” sê sy nou  rustiger.

Wanneer mý vrou iets in haar kop het kan mens maar doen of sê wat jy wil.  As sý besluit het verwag sy dat dit so gedoen moet word.  Nie omdat sy lelik of selfsugtig is nie, nee, sommer maar net omdat sy SY is.  So, omdat sy graag omgee en ‘n baie goeie hart het.  Omdat sy ‘n “omgee” hart het.  As daardie soort hart besluit het om aan iemand iets goeds te doen of iets lekkers te gee, sal sy die hemele daarvoor  versit.

Ek dink nou maar aan die kere, en dit is elke jaar,wat sy na die kinders in Nederland vlieg.  Wanneer sy die tasse hier pak word daar net die nodigste  klere gepak.  Sy het haar klere daar by hulle gelos, die eerste keer toe sy daarheen gevlieg het.  Die res word sommer daar gekoop.  Nee, die twee tasse is albei volgepak met geskenke, kondensmelk, droëwors, kits poedings, Mrs Balls chutney  en…en…en… So is dit dan ook as sy terugvlieg.  Dan is die twee tasse volgepak met sjokolade, koekies, klein geskenkies, Hollande tee, drop, kaas  en…en…en.  En die meeste is geskenke! So is sy, al is sy ‘n  introvert!  En dit is nou presies oor hierdie “omgee” waarom sy gedroom het!

Die hele episode kom al  ‘n lang pad.  Dit het een oggend daar in die nuwe inkopie sentrum begin.  Om presies te wees, binne in Ackermans. 

Daardie oggend was sy vasbeslote om vir my ‘n nuwe denim broek te koop, en ek moes aanpas!  Haar argument was dat ek nie met so ‘n broek saam met haar Nederland  toe kan vlieg nie.   Nou, ek is in die eeste plek nie ‘n ou vir  nuwe broeke koop nie en in die tweede plek haat ek aanpas!  Maar sy was hierdie keer beslis, dit was mos darm nie al van vandag af dat sy so geneul het oor die ou denim broeke wat nie meer oor my maag gepas het en ook al hier en daar begin verweer het nie.  En dan was daar nog die skoene waarmee ek so lank mee loop en die hemde wat ek ‘n paar jaar gelede gekoop het.  Ou goed! 

Wanneer sy beslis is trek haar lippe so styf en dan weet ek, vandag gaan sý wen!  Hierdie beslistheid kom mos darm al ook ‘n lang pad.  Destyds al, toe ons mekaar net een maand geken het, het sy besluit dat ons sommer so gou moontlik verloof moet raak en drie maand daarna is ons getroud.  Daarna het al die ander beslissinge gevolg.

My hare was te kort en ek moes dit langer laat groei, tot oor die bak ore.  My gunsteling “check” broek moes plek maak vir ‘n meer modieuse  “bellbottom”   broek.  Die hemde moes meer kleurvol raak.   Ek was darm te rustig en moes ook darm my stem laat hoor.  En so het ons aangegaan.

Ek moet toegee, baie van hierdie “beslissinge” was seker ook nodig.  Ek meen nou, ek kom uit ‘n huis waarvan ons sewe kinders was.  Ons het ook maar net die nodigste gehad.  Jy moes daardie broek en daardie hemp dra totdat dit noodgedwonge eendag  tyd geword het vir ‘n nuwe.  In daardie tyd kon dit nogal lank neem want die goed was nogal sterk.  Sy weer was die enigste dogter van vier kinders.  Dit speel nogal ‘n rol, dink ek.

Daarom daardie droom!  Ek dink al die goed wat jou pla hoop nogal op in jou onderbewusyn en as jy nou nie ‘n dromer is nie en jy dan tóg die nag ‘n geleentheid kry om te droom, nouja, dan bars die bom!

“Ek was laasnag só kwaad vir jou!” sê sy darm nou ietwat rustiger.  Sy neem ‘n slukkie van die lekker koffie wat ek gemaak het en ek kan sien dat die kwaadheid nou bietjie afneem.  “Wat ek nie kan verstaan nie” sê sy weer,” is dat jy geld het om vir ander mense te gee maar jy kannie vir jou ordentlike klere koop nie,” kom dit weer bietjie driftig.  “Jy gee vir Liena,” di’s nou haar ma se bediende wat ook maar swaar kry,” sommer so maklik R500  maar jy kannie eers vir jou nuwe skoene koop nie, jy maak dit liewer met “silikoon” reg!”  “Ek verstaan jou nie”  brom sy verder.  Ek glimlag.

Ek lê met my kop teen die kopstuk van die bed en slurp stadig aan my warm tee.  In so ‘n situasie moet ‘n man baie wysheid aan die dag lê, het ek oor die jare geleer.  En jy moet ook stilbly totdat die waters weer rustig vloei.

Na nog so ‘n paar opmerkings van misnoë oor my hardkoppigheid ontdek ek die geleentheid om te begin praat.  “ja” sê ek rustig, en begin verder praat.  “Ek het eintlik ‘n verrassing vir jou,” sê ek droog.  Met ‘n “en wat is dit?,” plaas sy haar koffie beker op die bedkassie langs haar neer, gereed om te hoor.

Nou is dit my beurt om beheer oor hierdie situasie oor  te neem.  Ek glimlag skalks en sê.  “Wat jy nie weet nie is dat ek eintlik self besluit het om vir my ‘n nuwe broek te koop, maar jy het my voorgespring.”  Daarvan hou sy!  “Ek weet dat ek die wind nou heeltemal uit haar seile gehaal het.  Sy lê nou heelwat rustiger terug teen haar kopkussing en draai haar kop in my rigting.  Ek verlustig my nou terdeë in hierdie oomblik en met ‘n glimlag om my mond gaan ek rustig voort.

“Ja,” sê ek weer.  “Ek wou jou eintlik daardie oggend verras, maar toe spring jy my wéér voor,” sê ek glimlaggend.  Ek sien die glimlag wat om haar mondhoeke begin speel en weet, “ons” het weer gewen!  “Ek kan dit nog steeds nie glo nie, ek meen dat jy vir jou ‘n broek wou koop,”  sê sy weer.  “Ja” sê ék weer.  “Ek het eintlik daaraan gedink om nog ‘n tweede  broek te gaan koop, daardie een wat jy gekoop het sit nogal lekker”

Hierdie laaste sinnetjie was die kersie op die koek!  Die droom is vergete.  Die geveg is gewen, en die stof het gaan lê.   Ons besluit om nog ‘n bietjie langer in die bed te lê, net om sommer lekker te lê en gesels.

Dít is mý vrou met wie ek nou al byna ses en dertig jaar mee getroud is, en sy met my natuurlik.  Ja, so is ek nie net met háár getroud nie maar is ek  ook met haar unieke persoonlikhed getroud.   Somtyds mag sy maar reg wees en somtyds mag ek maar reg wees.  Ons elkeen is mos ook maar mens! 

Die een ding wat ek oor die jare geleer het is dat God haar as  ‘n persoonlike en ‘n unieke mens gemaak het.  Ek kan nie God se handewerk verander nie, ek het lankal opgehou probeer,  maar ek kan wel leer om saam met Sý  handewerk te lewe.  Ek haal graag aan: Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.

En dit is presies wat sy vir my geword het.  ‘n Hulp, ‘n onmisbare hulp om by my te pas.  ‘n Hulp om my somtyds “anders” te laat dink, anders  te laat doen en anders  te laat praat.    Ja, ‘n hulp om somtyds op te steun en  wat bereid is om te luister as ek so baie praat.  Iemand wat saam met my 5 uur in die oggend gaan stap en iemand wat seker maak dat ek my bloeddruk pilletjies drink. Iemand wat saam met my ‘n bak warm gestoomde vrugte met vla kan eet en in die aand kan sê, “nou was hierdie bord groente wat jy gemaak het  darm lekker!” Selfs iemand wat in stomende warm water bad, net sodat die water nog warm kan wees sodat ek lank in die bad kan lê en ontspan, al het ek al in die oggend gestort. Ja, selfs ‘n hulp as ek kar bestuur! (vrouens dink mos jy kan nie behoorlik sien nie)

Seker daarom dat ek so geseënd is.  Die Psalm së:Jou vrou is soos ‘n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel.     Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik eet; gelukkig is jy, en dit gaan met jou goed!”
Ja, gelukkig is ek.  En dit gaan met my goed omdat ek hierdie vrou gekry het.  Die les wat ons miskien ook moet leer is: As God iets goed gemaak het, moenie dan probeer om dit af te breek en oor te maak nie.  Jy gaan nie die kar wat jy ry afbreek en oormaak nie.  Jy gaan die kar geniet!  So, geniet dan ook jou vrou! 
Sy mag miskien somtyds dink dat sy my nou “verander” het, maar dit is nie so nie.  Deur haar unieke persoonlikheid het sy eintlik van my ‘n beter mens gemaak, en sy weet dit miskien nie eens nie, maar ek het ook in die proses van haar ‘n beter mens gemaak.  Job sê mos: Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand op ons twee kan lê nie.  Nee, ons twee is mos een, soos die Prediker sê:  Twee is beter as een, want hulle het ‘n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. 
En dan, as ek miskien weer eendag die geleenheid mag kry om te kies, dan kies ek maar die wie ek ken!

So salueer ek dan my vrou!

Groete, van man tot vrou.
Jimmy




2 comments: