Search This Blog

Sunday, May 19, 2013

Mens ! Wat praat jy!




Mens !  Wat praat jy !

Daar is ‘n spreekwoord wat sê, “Jy sien ‘n man voor die kop maar nie in die krop”  Dit kan ook tereg gesê word van wanneer ‘n mens praat.  Spandeer 15 minute in iemand se geselskap en jy weet wat in sy of haar hart en kop aangaan.  Dit wat in die hart woon kom gewoonlik gou gou uit deur die opening van die mond.

Partymaal het die gesprek nog nie behoorlik begin nie of die rugby entoesias vertel jou breedvoerig oor gister se wedstryd.  So stort die stories gou gou uit die monde van die natuur liefhebber, die boer, die sakeman ensovoorts.

Party mense val sommer behoorlik met die deur in die huis wanneer dit oor hulle siektes, hulle probleme of hulle gesukkel om die mas op te kom, gaan.

Die “weer” mense sal jou baie gou inlig oor die weers toestande, die wind wat so verskriklik waai, die koue of die hitte waarvan hulle glad nie hou nie of die verskriklike reën wat net nie wil ophou nie.  Die son wat so warm is kom ook aan die beurt en die maan wat so helder skyn pla hulle so verskriklik baie dat hulle in die nag nie ‘n oog kan toemaak nie.

Groet iemand en luister hoedat die meeste van die mense sommer dadelik negatief begin praat.  Min mense begin positief praat.  As die gesprek negatief begin en albei die persone negatief is,  kan jy maar luister, dit sal al hoe meer negatief raak.  En dan praat hulle darm lekker!

 As die gesprek negatief begin en jy wie positief is draai dit in ‘n positiewe rigting, weet die persoon wat negatief is gewoonlik nie wat om verder te sê nie en loop maar liewer. 

Somtyds egter kan die positiewe persoon dit tog regkry om die gesprek heeltemal positief te draai en sonder dat die negatiewe persoon daarvan bewus is, begin hy “lig” sien en gesels julle baie lekker verder.

Die een omie sê die ander dag vir my. “Die dorp is so vuil! Di’s net papiere en gemors wat rondlê en die burgemeester en die  munisipale raad doen ook nie hulle werk nie.  So skiet hy sy sigaret stompie op die grond neer en trap dit in die grond in. Dan begin hy sommer so terloops ook oor ‘n hele paar ander dinge kla.

Ek sê vir hom. “ Oom, het jy al gesien hoe lyk dorp X wat altyd so netjies was?, en het jy op die tv gesien hoe sukkel dorp Y met hulle water en riool?” Nou begin daar ‘n glinstering in sy oë kom en hy begin gretig te luister.  Ek sê verder, “ons kan darm bly wees dat ons in hierdie dorp bly, ons water is nog drinkbaar, ons strate is darm nog rybaar en ons krag gaan darm nie so  baie af as in dorp Z nie”  “Ja” sê hy.  “Ons is gelukkig,” en draai om en loop.

Nou, as ons dan “gelukkig” is, waaroor dan so negatief en “ongelukkig”?

Waar begin die probleem van positief en negatief praat, of dan, reg of verkeerd praat dan nou eintlik?

Ek lees iewers dat iemand sê, “Praat jou kind slim”  Is dit nie miskien waar die saadjie van reg of verkeerd al reeds geplant word nie?

Ons leer mos ons kinders praat, of moet ek sê, ons kinders leer mos by pa en ma praat.  Ek hoor iemand sê, “ek weet nie waar my kind aan hierdie vloekwoorde kom nie.  Ons vloek dan nie”  Die omie met die “african grey” pappegaai sweer hoog en laag dat hy nie die een is wat die voël leer vloek het nie!  Nou as hy en die tannie die enigste twee mense is wat die pappegaai van kleins af groot gemaak het, wie het dan?

Het jy al na “praat saam” op RSG radio geluister? Toe Nicky nog die program aangebied het, dit was voordat dit nog “praat saam” was, het ek baie maal lekker gelag as hy die mense wat sommer twak wil praat so mooi afgesit het.  Dan blameer hy net die swak lyn.

Ongelukkig, of gelukkig?, kan ons nie mense in ons alledaagse lewe sommer net so “afsit” nie.  Ek dink die regte manier is om maar geduldig te luister en dan met alle wysheid terug te praat.  Dit is mos so dat verskriklik baie Suid Afrikaners deesdae verkriklik negatief teenoor die regering van die land en dan ook teenoor die land is.

Ja, ek stem staam dat al die “slegte” goed wat onder ons oë en tussen ore gebeur nie net goedgepraat kan word nie.  Maar, moet ons nie dan liewer daarteen waak dat hierdie “negatiewe praat” ons nie oorneem en geheel en verswelg en as volk verwoes nie?

Miskien is dit ook so dat ons al hierdie negatiewe goed, die wat ons nie kan ontken nie, toelaat om ons blydskap te steel en ons ook so van ons vryheid beroof.  Die vryheid om gelukkig te wees, om te lag, en sommer net om te lewe.

Hoe gesels ons oor hierdie dinge rondom die braaivleis vure? Somtyds begin die gesprek mos met “het jy gehoor, of het jy in die koerant gelees,” en dan kom die negatiewe dinge na vore en hang almal se gesigte.  Het dit nie miskien tyd geword dat ek en jy die mense moet word wat weer “hoop” in hierdie hopelose toestande kom saai nie?  Dit is voorwaar ‘n uitdaging.

Hoeveel keer het ek myself nie al betrap dat ek mense en myself berowe van hulle en my “vryheid” nie! Net omdat ek myself toegelaat het om nie die verskil te maak nie.

Ek dink dit het tyd geword dat ons onsself moet her –posisioneer in hierdie mooi land van rugby, sonskyn en braaivleis .  Siende dat ons menslik nie veel aan al die geweld, roof en onreg kan doen nie, kom ons begin ‘n nuwe strategie. ‘n Strategie van reg praat!  Dan gaan daar miskien mense opstaan wat deur ons gesindheid tog ‘n verskil kan maak.  Wie weet?  Miskien is die uitkoms in óns hande!

Die strategie van “reg “ praat, oopkop praat, dink voor ons praat en nie die koerante en tydskrifte na- praat nie!  Hulle het dit tog per slot van sake al klaar gesê.  Dit is nie nodig om dit weer óór te vertel nie. Dit is ou nuus!

Ek kyk en luister baiemaal na Joel Osteen op tv.  Hy begin sy “preek” altyd met “something funny.”  As hy na sowat 30 minute klaar gepraat het voel jy of jyself die wêreld van negatief na positief kan verander.

Ja, dit is nie “ou Suid Afrika” vir baie van ons nie.  Maar, ek en jy kán ‘n positiewe verskil in die “nuwe Suid afrika” maak, bloot deur mekaar te ondersteun deur ons positiewe woorde.

Tot volgende keer, kom ons maak daardie verskil.

Jimmy

No comments:

Post a Comment