Hamsteraar, opstapelaar
of sommer, bêre mense
Dit is nou vier jaar gelede
wat ons besluit het om van alles wat ons oor die laaste 32 jaar “gebêre” en
bymekaar gemaak het ontslae te raak.
Maklik was
dit beslis nie.
Ons was nie
regtig “hoarders” of soos die Nederlanders sê “hamsteraars” nie. Al die goed
wat ons bymekaar gemaak het het maar net so met die tyd gekom. Daar was die meubels, die boeke, die
breekgoed, die kinders se speelgoed, die “garage” met al die gereedskap,
planke, skroewe en spykers. Dan was daar
ook die dvd’s, die langspeel plate, die VHS video bande en die musiek
kassette. My vrou se pragtige klere,
skoene en veral handsakke asook my dasse was deel van ons bymekaarmaak
goed.
Onder die
bank in die tv kamer was daar ‘n plat kartondoos vol van Huisgenoot se
middelste bladsye, dit is nou die hulpmimiddels vir skoliere om met die skool
take te kan help en dan was daar al die
ornamentjies wat sy by ouma ge- erf het en ook die wat ons oor die jare as
geskenke ontvang het en ook self gekoop het.
Daar was die klippies wat ons in Rio de Jeneiro gekoop het, die
poskaarte en mooi goedjies wat ons in Mauritius aangeskaf het en ook die
poskaarte en aandenkings wat ons in Zimbabwe en “Sun city” gekoop het.
My
persoonlike bymekaarmaak goed het ingesluit die briefies wat die kinders met
vadersdag vir my geskryf het, die boekie waarin ek aantekeninge gemaak het toe
ons grensdiens verrig het, die eerstedags koevert wat ek met Republiek dag in 1961 gekoop het en die tweede wêreld
oorlogs medaljes wat ek weer van my pa
gekry het. Daar was ook my ou muntstukke
en my “pro patria” medalje wat ek met grensdiens ontvang het. Ongelukkig het die rooi hemp wat ek in 1969
by Pep Strores vir 5c gekoop het, met die tyd verlore geraak.
Ja, ek het
besluit om met pensioen te gaan en ons sou ‘n “motor home” aanskaf, ons huis
verhuur en dan die pad vat. Iets waaroor
ek nog altyd oor gedroom het. Daarom die
besluit dat ons van alles ontslae sou raak.
Soos wat die
31 ste Oktober 2009, die dag wanneer ons huis leeg moes wees, nader gekom het,
het ons stelselmatig begin
“leegmaak”. Kaste is uitgepak, garage is skoongemaak, en die huis het al hoe
kaler begin word.
Met so ‘n
leegmakery moet jy ook mooi kophou. Jy
besluit byvoorbeeld dat jy sekere boeke
gaan hou, maar dan, teen jou sin in moet jy maar die handoek ingooi en daarvan
ontslae raak.
Sentiment speel ook ‘n groot rol. Daar is so baie herinneringe waaraan ‘n mens
onwillekeurig aan vasklou. Wanneer al
die groeps fotos van jou en jou kollegas asook al die sertifikate wat jy oor
die jare heen ontvang het voor jou op die tafel opgestapel lê, raak dit bitter
moelik om voort te gaan.
Soos ek reeds
gesê het, was en is ons nie “hoarders” nie, maar ons was beslis
“opgaarders”. Ja, ons het onwillekeurig
oor al die jare nodige en onnodige goed bymekaar gemaak.
Die gevaar van
bymekaarmaak is dat die “goed” jou
uiteindelik kan oorheers. Iemand het
gesê, “as jy iets nie vir die laaste ses maande gebruik het nie, raak ontslae
daarvan! Die moontlikheid dat jy dit wel
gaan gebruik is so te sê nul” Weer, makliker gesê as gedaan. So stelselmatig begin die “goed” jou tog
oorheers. Jy raak verknog aan dit.
Die laaste
week voordat ons uit die huis sou gaan het ons nog net die bed, die stoof,
yskas, die twee mikrogolwe en ons nodigste eetgerei oorgehad. Twee bekers, twee borde twee messe en twee
vurke. Hier en daar ‘n pan en ‘n kastrol
en dit was dit! Die stoof, yskas, mikrogolwe en kombuistafel met stoele het ons
saam met die huis verhuur.
In die
sitkamer was ‘n hopie met kartondose en
twee groot tasse op die vloer opgestapel. Hierin was ons klere, noodsaaklike
benodighede vir ons toer en natuurlik, dit wat ons NIE kon wegmaak nie.! Al ons aardse besittings wat oorgebly het moes agter in die
Isuzu dubbelkajuit bakkie en die sleepwaentjie inpas.
Snaaks
genoeg, ons het geensins armer gevoel nie!
Saterdag
oggend, die 31 ste Oktober 2009 het ons ons wortels finaal uitgetrek en die pad na die Suidkus van KZN
gevat. Daar het ons vir een maand in ‘n
vakansie huisie gebly en toe daarvandaan na Port Elizabeth vertrek. Terwyl ons
in P.E. was, het ons die Isuzu bakkie verkoop en ons nuwe tuiste, die “motor
home,” aangeskaf.
Nodeloos om
te sê, ons moes ALWEER van sommige van
ons “kosbare” besittings ontslae raak.
Mens kan ook net soveel in
hierdie “huis” laai, anders is dit te swaar en mag dit nie op die pad nie.
Miskien is
dit nie vir jou nodig om op te ruim nie, maar onthou! Terwyl jy lewe moet jy tog maar probeer om
nie so “vas” aan daardie “waardevolle” goedjies
te wees nie. Miskien is dit nodig om “asem te haal”, terwyl jy nog in
die lewe is.
Stap gerus
maar deur jou huisie en kyk na alles rondom jou. Maak die kaste oop en aanskou al die goedjies
wat netjies weggepak is, weggepak is om “eendag” weer te gebruik. Gooi maar daardie extra skroewe en spykers
weg en onthou, die moontlikheid dat jy weer daardie half verrotte planke en
geroeste ysters gaan gebruik, is maar skaars.
Ek weet nie
of daar ‘n verskil tussen versamel en opgaar is nie. Ek dink daar is nogal ‘n
baie dun lyn tussen bymekaarmaak en opgaar. As ek na die werklikheids –
televisiereeks (hoarders) kyk, dan maak dit my nogal bang om te dink dat ‘n
gewone “bymekaarmaker” uiteindelik geheel en al deur sy of haar goed verberg en
verswelg kan word.
Die baie
lappies en die lakens en slope wat in jou kas se rakke ook miskien al half
deurgelê is, en daardie spesiale tee stelle wat jy ook nooit weer gaan gebruik
nie, gaan jou net slapelose nagte besorg.
Miskien het
dit tyd geword dat jy jou moet begin losmaak en weer lekker rustig slaap. Dan
sal jy nie bang wees vir die dief wat inbreek en die mot en die roes wat verniel
nie.
Miskien het
jou bymekaarmaak goed soveel waarde vir jouself dat jy net eenvoedig nie
daaraan kan dink om van dit minder te maak nie.
Dit laat my
dink aan die liedjie van die lappop, die stukkende band en die ou koerant wat
ook eens baie waardevol was, maar ook maar uiteindelik op die ashoop beland
het.
Ek groet met lekker
leegmaak groete.
Jimmy
No comments:
Post a Comment