Search This Blog

Sunday, October 11, 2015

Die tameletjie van die "naaste"















S
oveel mense het al so baie oor die “topic” “my naaste” gepraat, gepreek en geskryf. Andere laat maar liewer die gordyn daaroor val en wil nie daaroor praat nie. Het jy al mooi daaraan gaan sit en dink, wie is nou eintlik my naaste, of, wie se naaste is ek? Is dit ras gebonde? Is dit kleur gebonde ? Om iemand as jou naaste te sien, moet jy kan onderskeid tref tussen ryk en arm, man, vrou,oud, jonk, mooi, lelik of  christen of nie christen?

Kom ons lees eers  ‘n stukkie uit die Bybel wat oor die naaste handel.
Luk 10:25  En daar het ‘n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?
Luk 10:26  En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?
Luk 10:27  En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.
Luk 10:28  Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe.
Luk 10:29  Maar hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste?
Luk 10:30  En Jesus antwoord en sê: ‘n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê.
Luk 10:31  En bygeval het ‘n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby.
Luk 10:32  En net so het ook ‘n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan.
Luk 10:33  Maar ‘n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel,
Luk 10:34  en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en vir hom gesorg.
Luk 10:35  En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.
Luk 10:36  Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?
Luk 10:37  En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so.

H
ierdie hele gelykenis handel oor liefde en oor genade, en nie oor hoe goed mense die wet nakom  en hulself daarin beroem nie. Die wet was goed toe God dit in- gestel het, maar die mens het die gebod wat die lewe moes wees, die gebod van die dood gemaak, (Rom.7:10) deur dit vir hulle eie gewin en sondige begeertes te  verdraai en verbuig soos dit hulle gepas het.( Rom 7:12  Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed.) Daarom het die gebod wat die lewe moes wees,  nie vir die priesters, skrifgeleerdes en wetgeleerdes gewerk nie. En so het hulle soos gewitte grafte pakke gebind wat swaar en moeilik was om te dra en dit dan op die skouers van die mense gesit om te dra. Verder het hulle net gelewe om deur die mense gesien te word.
 Die priester het die wet geken en so ook die Liviet, maar nodeloos om te sê,  het albei maar met twee gesigte geloop en nie wat die wet sê gedoen nie. Wat sê die wet?  Die 10 gebooie  is in twee dele verdeel. Die eerste deel gaan nl. oor liefde tot God (Deut. 6:5) en die tweede deel oor liefde tot ons naaste (Lev. 19:18,34). Dit wil sê, 9 van die gebooie het oor liefde gegaan.  Die Samaritaan het liefde en genade aan hierdie arme man betoon.  Maar, lees nou  weer ‘n bietjie hierdie gelykenis.  Jesus vra vir die wetgeleerde:
 “Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”  en die wetgeleerde antwoord: “Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het.”  Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so. (met ander woorde, gaan en leef jy die wet net so uit) Uit die mond van die wetgeleerde kom dit luid en duidelik: “Dit is die Samaritaan wat die beroofde man se NAASTE geword het!  Hy, die Samaritaan, (die naaste) was genadig teenoor die beroofde man.  En Jesus sê vir hom, “Gaan en word JY ook ‘n NAASTE vir andere”  - moenie wag totdat iemand ‘n naaste vir JOU word nie! Moenie selfsugtig deur die lewe gaan nie.  Maak soos Jesus gemaak het.  Hy, sonder sonde, het sonde vir ons bevryding geword sodat ons kan LEWE - Wees vir jou naaste lief soos jy jouself liefhet!  (aan die liefde hang die hele wet en die profete)
Die Liviet en die priester het gerieflikheids halwe, omdat hulle nie uitgeleef het wat die wet sê nie, God onteer deur die wet te verdraai net soos dit hulle pas, en ‘n draai om die man geloop.  Hoor wat Paulus van diesulke mense sê:  Rom 2:21  “jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ‘n mens nie mag steel nie, steel jy? Rom 2:22  Jy wat sê dat ‘n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat ‘n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof? Rom 2:23  Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet?”
 Die Liviet en die priester het hul op die wet beroem, maar helaas, sonder liefde en so het die wet nutteloos vir hulle geword.
Hulle was die wettiese manne. (in hulle was daar wynig liefde en genade)  Die Samaritaan was nie ‘n Jood nie. Die Samaritane en die Jode het immers ook nie brandhout van die dieselfde tak gebreek nie!  Hulle het in verbittering met mekaar gelewe.  Hulle was ‘n baster volk en die Jode het hulle as heidene uitgeskel.  Indien net die skaduwee van ‘n Samaritaan op ‘n Jood geval het, sou die Jood dadelik huis toe gegaan het en gaan bad het!   Hoekom het Jesus die wet kom vervul?  Sodat  mense  wie  hulself op die wet beroem het, vry kon word!
O
nthou jy nog die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put?  Hierdie vrou was so verbaas dat ‘n Joodse man, Jesus, met haar gepraat het en vir haar water gevra het! Hy het selfs uit haar kan water gedrink!  Hier het Hy, Jesus , alreeds die grense tussen Jood en heiden, nie met ‘n wet nie, maar met Sy liefde en genade, Sy lewende water, begin afbreek. Hy, die “saad” aan wie die belofte gedoen is, (Gal. 3:16 en 3:19) het vir hierdie vrou ‘n naaste geword en haar so gered. Die skrifgeleerdes was so vyandig gesind teenoor Jesus, veral omdat Hy die Sabbat in hulle oë ontheilig het, dat hulle Jesus op een geleentheid as ‘n Samaritaan uitgeskel het.( Joh 8:48  Die Jode antwoord toe en sê vir Hom: Sê ons nie met reg dat U ‘n Samaritaan is en van die duiwel besete is nie?)  Soos ons gesien het kon die Liviet en die priester as gevolg van hul dwaling  nie ‘n naaste vir die arme beroofde man wees nie. Hulle was blinde leiers! - Mat 15:14  Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.  Hulle harte was verhard en daar was ‘n bedekking oor hulle verstand, hulle wie die wet kamstig so stiptelik nagevolg het.  (2Ko 3:14  Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. )   (Die bedekking word deur Christus afgehaal vanaf ons oë en liefde open ons oë sodat ons kan sien en in die LIG kan wandel ) Paulus het ook met sy bekering hierdie ondervinding deurgemaak. (Hnd 9:18  En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.) -  Jes 42:6  Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies,
Jes 42:7  om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.
Jesus is in ‘n wêreld waar die wet sonder liefde die oorhand gehad het, ingebore en het gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”  (deur liefde te vervul)  Die Fariseërs en die skrifgeleerdes het die wet gebruik om mense mee te veroordeel en te straf.  Hulle was altyd op die loer of iemand nie miskien die wet verbreek nie. Daarom sê Jesus: “  Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van die kruisement en die wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.” – (Luk. 11:42)
Met blinde oë en sonder om die wet behoorlik uit te leef loop die Liviet en die priester ‘n draai om die man wat langs die pad lê en kyk hulle ander pad. Blind, self geregverdig en sonder liefde kan hulle nie die man se naaste word nie en kan hulle ook nie die gebod van liefde wat Jesus so mooi verduidelik het, uitleef nie.   (Mat 22:37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. )
Wat sê dit vir ons?  Ons moet tot die besef kom dat die Een (Jesus) wie vir ons deur liefde ‘n naaste geword het, ons baie liefhet.  Dit moet ons deur die geloof IN HOM en Sy werke aan die kruis aanvaar.  Rom 3:28  Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet. (Die wet het net ‘n werk van geloof en liefde)  Rom 3:31  Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet. Joh 13:35  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.
 As ons ophou om deur ons eie werke (pogings)  die wet te wil onderhou en ons oë op Jesus rig, Hy wie die wet deur liefde volbring het, sal Sy Gees van liefde (die Helper wie vir ons gestuur is)  in ons kom woning maak en sal ons ook met SY hulp die tweede wat daarmee gelykstaan kan uitvoer. 
Mat 22:39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste  (ook Jesus) liefhê soos jouself.  (Identifeseer jouself eers met Jesus – sien Hom raak – aanvaar in die geloof wat Hy kom doen het – en jy sal ook andere kan liefhê, ‘n dissipel van Jesus word en andere se naaste kan word en so die wet vervul. Op jou eie werke kan jy nie staatmaak nie) Daar is geen ander gebod groter as dié nie. Geen gebod is groter as die liefde nie!  Daarom is dit in Christus volbring. (dit het klaar plaasgevind) (Mark.12:31) en sonder liefde kan jy geen gebod gehoorsaam nie. Verder sê Jesus: “Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.” (Joh.15:12) (Jesus het kom toon hoe om soos ‘n naaste te lewe)  Liefde het aan die kruis gehang. Liefde het die wet aan die kruis vervul. (nie afgeskaf nie) en vir ons ons naaste geword.  Onthou wat het Jesus vir die wetgeleerde gesê: “Gaan en doen jy net so” (gaan word jy nou ook ‘n ‘n naaste) Die wet sonder die vervulling daarvan  sal nie van jou ‘n naaste maak nie. Dit kan nie! Jy het die liefde (Jesus) nodig om die wet te onderhou en so ‘n naaste vir andere te word.
Nou goed, ek verstaan nou al so ‘n bietjie dat ek die een is wat ‘n naaste vir andere moet wees. Maar, wie is my naaste dan?  Teenoor wie moet ek dan naasteliefde toepas?  Ek dink ons kan dit so antwoord:  Toe Jesus aan die kruis vir die sondes van die hele wêreld gesterf het, (1Ko 15:3  Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;)  - toe het Hy vir ALMAL ‘n naaste geword om  ALMAL te help om uit die sonde uit op te staan en in Hom te glo en Hom te volg, en so die wet te onderhou. Deur uit liefde vir die wêreld, het Hy aan die kruis vir ALMAL ‘n naaste geword, ongeag of hulle in Hom gaan glo of nie. Die Vader het ALMAL (die hele wêreld) op Sy pad gesit. (Kol 3:11  waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.) Hy het ongeag wie of wat die mens is, besluit om vir ALMAL wat op Sy pad aan die kruis kom, ‘n naaste te word.
Maar nou het ek en jy natuurlik ‘n keuse of ons wil hê dat Hy ons naaste word of nie. Die man wat deur die rowers oorval was kon besluit het om nie gehelp te word nie. (omdat  sy helper nie ‘n Jood was nie) Die Samaritaan het nie geweet of hy sy hulp gaan aanvaar of nie. Hy het gaan stilstaan by hom en hom gehelp.  Dit is presies wat Jesus gedoen het. Baie sal in Hom glo en Sy disiipels word, maar net so sal baie nie in Hom glo en nie Sy dissipels word nie.  So glo ek moet dit dan ook in ons geval wees. Ons kan nie elke ou in die dorp of straat help nie, maar as God iemand op ons pad plaas, moet ons vir die persoon ‘n naaste wees en so die wet vervul.  As ons die Gees van God in ons het, sal ons weet wie op ons pad geplaas is . Ons weet nie wie ons hulp gaan aanvaar of wie dit nie gaan aanvaar nie. Ons weet ook nie wat elkeen se behoeftes is nie. Net God weet dit. (God ken almal) Ons sal immers Sy stem ken. (Heb 3:7  Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,)
Dit het al gebeur dat ek op ‘n sekere dag met baie mense gepraat het, baie mense het by my verbygeloop op straat, ek het baie mense in die oë gekyk en daar was baie mense met nood waarvan ek nie bewus was nie. Maar, byna teen die einde van die dag, praat ek met ‘n sekere swart prediker wat ek glad nie ken nie en duidelik sê die Gees aan my om vir hom R100 te gee. Onmiddelik weet ek dat ek dit moet doen en gee ek die geld aan hom. Wat was my verbasing groot toe hy en sy mede werkers begin hande klap en God prys.  Op daardie oomblik het hy my naaste geword. 
Dieselfde het met my gebeur terwyl ek met my motor ry. Terwyl ek by ‘n spoedlokval (kamera) verby ry, sê die Gees vir my om stil te hou en om vir die verkeersbeampte wat in die motor sit, te gaan sê dat Jesus hom liefhet. Ek moes verby die vroue verkeersbeampte loop om by die man te kom.  Op daardie oomblik  toe ek aan hom sê dat Jesus hom liefhet, het daardie man my naaste geword. Ek het in beide gevalle nie deur ‘n wet opgetree nie, maar deur Jesus se liefde,  so die wet vervul. Ek het hul nie om die nek gegryp en gesê hoe baie ek hul lief gehad het nie, maar Jesus se liefde het oorgeneem en hulle deur my met liefde behandel en so het ek deur Jesus en die Heilige Gees, as ‘n dissipel van Hom, ‘n naaste vir hulle geword.
R
om 13:8  Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.
Rom 13:9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Rom 13:10  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.


Jimmy