Search This Blog

Friday, March 23, 2018

DIE VLOEK VAN DIE KETTINGBRIEF




  
Die vloek van die kettingbrief.


Ons almal kry dit een of ander tyd op ons foon. As jy ‘n nuuskierige persoon is, of selfs ‘n rebel is, sal jy dit gráág wil lees. Nadat jy die storie gelees het sal jy iets soos die volgende lees: "As jy dit nie na tien mense aanstuur nie, sal jy binne agt en veertig uur sterf." Of, "Stuur asseblief aan 10 mense. As jy dit nie doen nie sal ‘n ramp jou binne die volgende half uur tref.” Of, Stuur hierdie na 10 mense binne die volgende 24 uur en sien hoedat jy baie geld gaan ontvang.

Dan kry ook die ‘Christelike’ ketting briewe. Jy lees die pragtige boodskap met Bybel tekste en al. Dan aan die einde: “Stuur asseblief aan 10 mense. As jy dit nie aanstuur nie bewys jy dat jy God nie lief het nie” Of, "Hierdie is 'n toets. God is liefde. Stuur dit na 10 mense As jy God liefhet sal iets goeds met jou môre gebeur. Moenie die ketting breek nie, anders ontken jy God. Deel om seker te maak dat jy môre 'n seën kry! "


Miskien het jy ook al hierdie een gekry. Dit kom van Bill Gates en vra dat jy sy fortuin met hom moet deel. Al wat jy moet doen is om hierdie brief aan soveel mense moontlik te stuur en siedaar! Jy gaan binnekort jou deel in jou bankrekening ontvang. (jy sal miskien later net vir jou bankrekening nommer gevra word)


Hoe onsinnig hierdie kettingbriewe ook al mag wees, glo my, dit word gelees en sélfs uitgevoer! Dit slaan my nie net dronk nie maar dit lig ook my bloeddruk tot op daardie vlak waar dit nie hoort nie!


Hoe is dit selfs moontlik dat mense 'n opgemaakte storie met ‘n bangmaak of gierige einde en wat deur 'n anonieme ‘hoaxer’ geskep is, kan glo en ander onskuldige mense daarby insleep? Dit gaan my verstand te bowe.


Hoe om hierdie euwel uit te roei. STOP! Miskien besef jy wel dat kettingbriewe 'n oorlas is, maar jy is moontlik nie bewus van die gevare nie. Moenie dit aanstuur nie! Baie mense is te bang om dit te stop. Daar is niks om te vrees nie. Deur dit in sy spore te stop breek jy die bose ketting en verhoed jy dat ander liggelowige en nie liggelowige mense dit kry. Jy kan dit doodeenvoudig stop deur die kers dood te blaas en te verhoed dat dit by mý uitkom!


As jy egter een van die mense is wat op kettingbriewe teer en dit geniet om dit na andere aan te stuur, onthou net dit. Jy kan paniek veroorsaak en wantroue bevorder. Dink jy regtig dat ons dit in ons samelewing nodig het? Daarbenewens kan hierdie ‘hoaxes’ jou in gevaarlike situasies stel en jouself ook aan geestelike skade blootstel.


Op watter tipe kettingbriewe moet jy veral bedag wees? Die volgende kan miskien vir jou bekend voorkom. ‘Kinders in nood’ ‘petisies’ ‘vals waarskuwings’ ‘monetêre belonings’ en bygelowe.
Kettingbriewe en ‘hoaxes’ sal waarskynlik altyd by ons wees. 

Kom ons bly dus maar by wat die Engelse sê: “Delete it or ignore it.”