Search This Blog

Sunday, March 31, 2013

Die groot skrik



Sakkie gaan staan doodstil en luister aandagtig.  Die nag is pik giet swart en aan die linkerkant van die teerpad waar hy nou staan, kan hy  ‘n paddakoor iewers verder weg hoor.  Dit moes vroeër in die nag gereën het want die warm bedompige reuk van die reën hang nog sterk oor die teerpad en die veld.  Met die windjie wat liggies begin waai kry hy ook nou die reuk van verrotte water. Dan hoor hy weer die gedempte stemme iewers verder weg voor hom .


 Hy wonder hoeveel hulle is en hoe vêr hulle vanaf  hom af is. Soos wat hy kan aflei is hulle oppad in sy rigting.  Dofweg kan hy ook die ge-girts garts van hul voetstappe op die los grys langs die teerpad duideliker hoor.


Vannaand sal hierdie van der Merwe ‘n plan moet maak, dink hy terwyl hy   sy eie hartklop kan hoor. Hy is man alleen en het geen wapen van enige aard by hom nie. Nie eers ‘n knipmes nie!  Weghardloop kan hy nie want dan sal hulle hom beslis hoor en hom agterna sit.  Gewoonlik  het hulle ook nog messe of knopkieries  by hulle, dink hy nou benoud.  ‘n Kriekie begin eentonig hier langs hom in die grassies te kriek.  Enige beweging van sy kant sal nou verkeerd wees. Dink Sakkie dink! As jy nog nooit ‘n plan gemaak het nie sal jy dit nou moet maak,! Flits  dit deur sy gedagtes.


Vroeër die aand toe dit nog half lig was het ‘n ou omie en tannie hom goedgunstiglik opgelaai daar waar hy net buite Hanover langs die afdraai na Middelburg gestaan het. Hy en die ander ouens het vanaf Prieska met ‘n oop vragmotor ‘n “lift” gekry tot net voor Hanover. Daar was hulle egter gestrand.  Die feit dat hy in uniform was en rooi hare het het natuurlik ook gehelp om hier ‘n “lift” te kry, dink hy nou met ‘n effense glimlag.  Hy onthou hoe die ander ouens wat saam met hom op pas was en ook duimgegooi het gespot het en gesê het dat hulle nie langs die rooikop wil staan nie,  want niemand sal so ‘n lelike rooikop oplaai nie.  Hulle het dus aan die anderkant van die pad gestaan. 


Met ‘n groot glimlag het hy agter in die Ford ingeklim en terwyl die omie wegtrek het hy vermakerig vir sy “pêlle” deur die oop venster  gewaai.
Soos dit nou maar met duimgooi gaan, kon die oumense hom net tot anderkant Cradock help.  Daar by die afdraai pad na hul plaas,  het hulle hom afgelaai.  Hy het eers ‘n rukkie gestaan om te sien of daar nie nog motors oppad was nie maar het later maar begin aanstap.  Feit dat dit Sondag was en daar nie veel voertuie op die pad was nie het die moonlikheid vir ‘n “lift” nog moeiliker gemaak. Die sewe dae pas was in elk geval te kort om  nog so te staan en wag, het hy besluit.


Sy ouers moes seker al teen hierdie tyd baie bekommerd gewees het. Hy moes al gister namiddag by die huis in Port Alfred gewees het, het die gedagtes deur sy kop gemaal.  As die weermag bus nie by Prieska gebreek het nie, sou hy al lankal by die huis gewees het. Die bus drywer het gesê hulle sal die bus regkry, maar ‘n paar van hulle wou dit nie hoor nie en het besluit om verder duim te gooi. Tyd was kosbaar!


 As jy so lank van die huis af weg was maak elke sekonde saak. Gelukkig is daar nog net drie maande van diensplig oor, het hy tevrede gedink.  En om te dink dat hulle byna die “rumours” geglo het wat gesê het dat die regering die diensplig  tydperk met nog ses maande gaan verleng!  Baie van die manne het gevloek toe hulle dit hoor.  Ander weer het net doodstil gesit, so met hulle eie gedagtes geworstel.  Terwyl hy so aan’t stap was het hy gemerk dat die groen fosfor wystertjies van sy arm horlosie op kwart voor twaalf staan.


Hy het sommer na sy lekker warm bed by die huis verlang.  In die weste kon hy die blitse sien uitslaan.  “Dit moet nou  nét nie besluit om nog vannag te reën ook nie,”  het hy met homself gepraat.  Op die grens het hy oorgenoeg van reën gehad.  Daar was tye dat hy tot op sy onderbroek natgereën het.  Daardie reën in Ovamboland kon vir dae, vir weke,  aanmekaar aanhou, onthou hy. 


Toe hy ‘n voertuig op die teerpad agter hom hoor aankom het hy gaan stilstaan en sy duim in die lug uitgehou. Die voertuig het merkbaar spoed verminder maar dan op die ingewing van die oomblik het die bestuurder besluit om nie stil te hou nie. Met die rooi agterliggies wat al verder in die donker voor hom uit  verdwyn het, het  hy teleurgesteld besluit om maar aan  te hou met stap. 


Die werklikheid van die oomblik tref hom toe hy die rooi gloed van ‘n sigaret nou net ‘n paar tree voor hom gewaar.  Die gepraat is ook nou baie duideliker. Hy evalueer die situasie vinnig.  Hulle moet beslis meer dan twee mense wees, skiet dit deur sy gedagtes.  Dit is duidelik dat hulle hom nog nie in die donkerte  gewaar het nie.


Om nie soos ‘n paal bo water uit te staan nie, buk hy stadig en laag af tot op sy hurke.  Dan, nét toe die drie mans vlak voor hom kom spring hy met ‘n onaardse geskreeu op en trap  hard met sy stewels op en af  op die los gruis.  “Ek  is die duiwel! – die duiwel! – ek kom om jou te haal!” skreeu hy so hard as wat hy kan.  Die arme drie mans weet nie wat hulle tref nie!  Hulle gil en skreeu, en huil  deurmekaar! “Oooo my mamma! Ooooo my pappa! Help ons ! help ons! Ons is verlore! Ons is verlore siele! Los ons tog net asseblief!” So tussen die geskreeu en die gille deur hoor hy takke kraak, klippe rol en water spat. Die rumoer eggo op en neer deur die klofie totdat dit heelwat later, wat vir hom soos ‘n ewigheid voel, vêr weg in die stik  donker nag verdwyn. Dan is dit stil. Doodstil.


Uitgeput gaan sit hy plat op sy sitvlak op die teerpad.  Die weer dreun nou hard  net hier bokant hom en hy kan al die eerste druppels op sy gesig en arms voel val.  Nou  is dit asof die sluise van die hemel bokant hom oopgemaak word.  Groot druppels begin hard op die teerpad neer te val.  Blitsende weerligstrale skeur deur die donkerte en verlig die wêreld wyd rondom hom.  Opeens  sien hy die motorlige deur die vallende reën nader kom en hoor hy die gedreun van die voertuig bo die van die reën. Met ‘n gepiep en ‘n gekreun kom die voertuig vlak langs hom tot stilstand.  “Die bus!  Die weermag bus!” roep hy verbaas uit en bestyg vinnig die paar gladde nat  trappies tot by die deur.


Wanneer  een van die soldate hom herken skreeu dié hard. “Di’s die rooikop!” Almal begin lag.  “Hy lyk vir my so baie na tant koek se hoenderhaan” sing hulle dit luid uit en klap hom hard op sy nat  rug.  “Welkom terug ou rooies!” skreeu een.  “Het jy lekker met die Ford gery?” gil ‘n ander. “Gedag jy sal voor ons by die huis wees, né?” roep ‘n ander een vermakerig  uit.  


Uiteindelik,  nadat almal tot bedaring gekom het en die meeste alweer begin snork het, sak hy stadig in sy sitplek weg en maak sy oë toe.   Hy wonder wat van die arme drie vreemdelinge geword het. Hulle het beslis die skrik van hulle lewe gehad.  Glo hulle regtig dat dit die duiwel was wat hulle kom haal het,? wonder hy en kan nie help om saggies te begin lag nie.  Hy wens hy kon hulle gesigte sien,  maar nog meer die “storie” hoor wanneer hulle by hulle huise aankom. 


Wat sý “storie” betref, nou ja, dit is seker nie nodig dat hy dit aan enigiemand hoef oor  te vertel nie! Hy is mos ‘n soldaat, en ‘n soldaat wat van die grens af kom het mos geen banghaar op sy kop nie!  Al wat nou saak maak is dat hy oppad huis toe is.  Met die gedruis van die bus se wiele  op die nat teerpad raak hy vinnig aan die slaap.

Groete
Jimmy

No comments:

Post a Comment