Ek kyk by die venster uit terwyl die elektriese trein teen ‘n
spoed van ongeveer een honderd en veertig kilometer per uur verby huisies,
motors, mense, groen landerye met bont
koeie, en af en toe ‘n paar bote op die
water kanale verby spoed.
Dit was
Saterdag oggend. My reis na Amersfoort
het ongeveer vyftien minute gelede op die trein stasie van Heerenveen
begin.
Ek het my
treinkaartjie teen ‘n spesiale aanbiedings prys by die supermark groep Albert Hein gekoop. Daar langs die
kasregisters, terwyl jy wag op jou beurt om vir jou goedere te betaal, koop jy
sommer jou treinkaartjie,afslag aanbiedinge by pretparke ensovoorts. So het ook honderde ander Nederlanders hulle
spesiale aanbiedings prys kaartjies gekoop, het ek agter gekom toe ek op die
stasie vir die trein gestaan en wag het. Almal was oppad iewers heen. Hierdie
spesiale aanbieding het nog tot die naweek gegeld.
Toe die geel
en blou elektriese trein die stasie binnekom moes ek vinnig speel. Nadat ek met
baie moeite uiteindelik in die gangetjie van die rytuig gestaan het, kon ek verstaan waarom almal
gelyktydig probeer het om binne die rytuig te kom. Die trein was stampvol! Al twee honderd en
dertig sitplekke in die tweedeklas en veertig sitplekke in die eersteklas
rytuie was alreeds beset. Die wie saam met my op die stasie gestaan en wag het,
het natuurlik goed geweet wat die situasie was en het heimlik gehoop dat daar
darm nog een of twee sitplekke oop sou wees.
Die
gelukkiges wat vroeër opgeklim het het rustig op die gemaklike donkerrooi
sitplekke rug aan rug gesit. Sommige verdiep in die nuutste nuus in die koerant
en andere was weer met die iphone
aan’t speel. Die een spesifieke man het sy hele reis op die iphone dopgehou. Hy kon presies bepaal waar hulle op enige
gegewe oomblik was. Kort kort het hy dan vir sy vrou wie blykbaar nie so ‘n
groot belangstelling in die nuwe speelding getoon het nie, probeer wys waar
hulle op daardie stadium was.
Twee
Nederlandse dametjies wie so skuins regoor my gesit het, het weer kort kort hul
cv’s uit hul handsakke gehaal en dit
dan druk bespreek. Van waar ek gestaan het kon ek so te sê elke woord daarop lees. Ek kon aflei dat beide oppad was
vir onderhoude as lugwaardinne. Die een het dan ook tot vervelens toe die klein handspieëltjie uit haar sak gehaal
en haar dan van alle kante af daarin beskou terwyl sy terselfdertyd besig was om haar grimering op te knap. Onder
die bespreking deur het hul dan ook met groot inspanning en met die “oulikste”
aksent die Engelse taal teenoor mekaar probeer bemeester.
Terwyl ek
probeer het om my voete so ‘n bietjie te
verskuif trap ek byna op ‘n korterige
vroutjie so regs langs my se toon. Haar vinnige en duidelike uitdrukking van
misnoeë laat ‘n paar sittendes vinnig opkyk. Ek merk hoedat ‘n lang maer vrou wie aan my
linkerkant langs die venster sit my op en af beskou. Ek besluit om vir haar te glimlag maar sy dog
seker ek is mal en met ‘n ruk van haar kop besluit sy om liewer die wêreld
buite die trein dop te hou.
Die
passasiers wat heel agter in die rytuig gestaan het was die “gelukkiges”. Hulle
kon met hul rug teen die muur staan en so die gewig op hul voete beter beheer.
Tot die
ergenis van die “staandes” het een sittende omie besluit om toilet toe te gaan.
Met die rondskuiwery om dit vir hom moontlik te maak om tussen almal deur
te beweeg kon ek die geleentheid aangryp
om ‘n beter staanplek te bekom. Ek kon myself so posisioneer dat ek my rug teen
‘n klein gedeelte van die hoekmuur kon stut.
My nuwe
staanplek het my langs twee opgeruimde ouerige dames aan my regterkant gebring. Met reisbrosjures in alby hande het
hulle sonder om asem te skep, geklets.
Terwyl ek my aan hulle opgeruimtheid bewonder het het die een skielik opgekyk.
“Is uw ook van Nederland?” vra die een naaste aan die paadjie terwyl sy stip na
my kyk. “Nee, ik ben van Zuid afrika” probeer ek op my beste Nederlands. “Ooo?,
dan waarnatoe is uw op reis?” vra sy weer. “Ik ben op reis naar Amersfoort” sê
ek en glimlag vir haar. “Dan gaat uw ook zeker een bezoek aan de
dierenpark bringen?” vra sy weer. Ek
dink vinnig hoe om korrek te antwoord. “Já!,”
sê ek vinnig.”já!, ik zal graag een
bezoek aan het dierenpark wil brengen,” se ek. Ek het geleer dat as jy nie weet
wat om te sê nie jy dan maar “já!”
sê. Dit gee jou ook ‘n bietjie tyd om te
dink oor hoe jy kan antwoord.
Die “já!” is ‘n manier om iets te beklemtoon
en kan ook sommer as ‘n vinnige antwoord gebruik word. Somtyds is dit ook ‘n woordjie wat sommer so in die lug kan
hang. So niksseggends. Somtyd sal iemand
so tussen die praat deur ook “já,já!” sê, en almal sal glimlaggend en met
groot begrip met ‘n “já,!” beaam. Ek
het ook geleer dat na- praat nogal somtyds ‘n maklike manier kan wees om te
kummunikeer. Mens moes net mooi luister
wat iemand sê en dan die dieselfde sin net omdraai en bevestig wat die ander
persoon gesê het.
Die groot
probleem kom egter as die ander persoon uit nuuskierigheid of neus instekerig oor die Suid Afrikaanse politiek wou gesels. Gewoonlik het hulle met Nelson Mandela begin. Dan het ek hulle maar toegelaat om te praat en
gewoonlik met ‘n, “já,!” “dit kom tog wel goed,”
geantwoord, waarop die ander een my dan half onseker en miskien bietjie half
verward aangekyk het en dan maar
stilgebly het.
Skielik stop
die trein. Ek lees op die naambordjie dat ons nou in Zwolle is. Gelukkig is
daar nou nog net so ongeveer ‘n half uur van staan oor voordat ek by Amersfoort
moet afklim, dink ek verlig. Die deur
van die rytuig gaan oop en uit alle rigtings bestyg nog mense die trein.
Niemand klim af nie! Waar gaan almal
staan? Dink ek met verbasing. Wat ek egter nie in berekening mee gehou het nie
is dat in hierdie land baie mense is en dat hulle teen hierdie tyd al gewoond
daaraan is om so te reis.
Die deur
skuif toe en tot my verbasing het almal iewers ‘n staanplekkie gevind. Met ‘n
skril fluit van die trein vertrek ons
alweer oppad na Amersfoort. Nou herrangskik al die staandes hulself en selfs
mense uit ander rytuie kom kyk of hier nie miskien ‘n beter staanplekkie is
nie.
Die trein
beweeg nou heelwat stadiger. Nog huise,
mense en motors swiep verby die oop venster aan my regterkant. Hier en daar
begin passasiers hulle koerante opvou en die twee ou dames druk hul reisgidse terug in hul
handsakke. Die een kyk op na my en glimlag vriendelik. So asof sy my ‘n lekker
wil toewens. Die omie wat toilet toe was
probeer ook nou sy pad na sy sitplek terugvind.
Die twee dametjies het ook hul cv’s veilig in hul handsakke weggebêre en
die een beskou haarself nog vir oulsaas in die klein handsplieëltjie voordat sy
dit ook haastig terug in haar handsak druk.
Die man met die iphone kyk ook
nou oor sy vrou se skouer by die venster uit.
Die iphone het beslis gehelp om die reis te verkort.
Dan sien ek
die stasie naambord raak en verskuif vir oulaas my moeë voete.
Die besoek
aan die dierenpark was nogal baie interessant maar ek was baie dankbaar toe ek
later daardie namiddag weer in die trein kon klim. Hierdie keer was daar
omtrent geen siel in die rytuig nie. Almal hou natuurlik nog lekker naweek iewers
by vriende of familie, dink ek. Môre sal natuurlik weer ‘n ander storie wees as
almal weer besluit om huiswaarts te keer. Dankbaar dat ek nie weer die heeltyd
hoef te staan nie sink ek heerlik terug in my donkerrooi sitplek.
Het die twee
dametjies toe hulle onderhoude geslaag,? Het die laaste bietjie grimering toe
die ding gedoen,? En hoe het dit met die Engels gegaan,? Wonder ek.
Dit is net
skemer, so twintig oor tien die aand, toe die trein op die spoorweg statión Heerenveen stilhou. Die deur skuif oop en ek klim dankbaar uit.
“Já,!” praat ek moeg
en saggies met myself as ek die pad huis toe vat terwyl dit net net wil donker word.
Groete
Jimmy
No comments:
Post a Comment