Search This Blog

Sunday, February 24, 2013

Die skat






























Onbewus van die twee opgeskote bokwagtertjies wat hom vanuit die skadu van ‘n oorhangende rots dophou, tuur Pieter oor die dorre rotsbesaaide landskap voor hom uit.

Met ‘n sagte klik klak druk hy  die coke blikkie met sy vingers plat.  Hy het so pas die laaste koel lafenis afgesluk.  Al is dit nog redelik vroeg in die oggend, brand die son alreeds warm op die skurwe graniet rotse rondom hom.

 Met moeite en stram spiere wat pyn kom hy langsaam  orent vanaf die klip waarop hy sit. Nou soek hy ‘n plek waar hy van die platgedrukte blikkie ontslae kan raak.  Sy pa het hom van kleins af geleer dat mens nie sommer blikke en papiere oral in die veld rond strooi nie.

Terwyl hy so ingedagte staan kan hy dit nie verhelp om die ruwe skoonheid van die fantastiese gevormde rotse in grysblou en donker bruin kleure van hierdie wêreld te bewonder nie.  Daar vêr  onder, deur die somerdeinserigheid, kronkel die bruin waters van die Oranjerivier op sy  lang en moeisame tog na die Atlantiese oseaan.

Sy gedagtes gaan onwillekeurig terug na daardie dag toe hy vol opwinding besluit het om na hierdie onherbergsame deel van die wêreld te kom.  Hierdie avontuur  het eintlik  al begin die dag toe hy so  tussen al die ou boeke en koerante deurgesnuffel het.  Hy was vir die winter vakansie met besoek by sy oupa en ouma op hul  Vrystaatse plaas.

 Dit was sy laaste dag op die plaas en omdat hy nou al alles gedoen het wat hy wou doen en ook alles gesien het wat hy wou sien, het hy uit skone verveeldheid besluit  om ‘n  bietjie op die solder van die ou plaashuis  te gaan rond snuffel.

Daar, tussen ‘n klomp ou stofbedekte boeke het hy dié besonderse klein boekie ontdek.  Terwyl hy vlugtig deur die boekie blaai kon hy agterkom dat die verhaal te doene gehad het met die een of ander skat wat in die middel 1800’s iewers in die land begrawe was.  Daar was ook ‘n rowwe handgetekende skets van waar die skat begrawe sou wees.
  
 Vol van nuuskierigheid is hy boek in die hand vinnig met die ou houttrap na benede.  Met ‘n lekker koppie koffie langs hom het hy homself op die hout bankie onder die druiwe prieël tuisgemaak.  Na sowat ‘n uur moes sy ouma hom byna dwing om nou eers die boekie neer te sit en om aandete saam met haar en oupa te kom nuttig.

So tussen die ete deur het sy oupa al laggend meer kommentaar oor die verhaal van die boekie gelewer. 

Sy oupa kon nog goed onthou watter groot opskudding dié boekie destyds onder die mense veroorsaak het.  Die verhaal gaan oor ‘n sekere Engelsman wat sy fortuin hier in Suid Afrika kom soek het.

Daardie jare was die diamant delwerye in Suid Afrika ‘n baie gewilde manier om te probeer om  jou rykdom aan te vul.  Gedurende 1867 het iemand ‘n diamant op die oewer van die Oranjerivier naby Hoopstad opgetel.  Daarna was daar geen keer aan fortuinsoekers nie.  Daar word geskat dat daar teen 1870 ongeveer 10000 delwers in dié gebied was.

So het dit dan gebeur dat hierdie Engelsman een aand in ‘n kroeg in Londen tehore gekom het van die “maklike” manier om rykdom te verwerf.   Tussen al die ongelooflike verhale deur kon diamante so te sê in die rivier beddings opgetel word.  Dan was daar ook nog die storie van siener van Rensburg wat voorspel het dat ‘n diamant so groot soos ‘n skaapkop, gevind sou word.    

Na al hierdie stories het die Engelsman sonder versuim besluit om per boot vanaf Engeland na Kaapstad te vaar waar hy dan ook deel van al die ander fortuinsoekers sou word.  Met sy aankoms in Kaapstad het die man dan ook so gou as moontlik te perd na die diamantvelde vertrek.  Daar aangekom het hy gou deel geword van die brandarm bywoners, handearbeiders en boere wat met pik, graaf, sif en kruiwa die grond omgedolwe het. 

Swendelaars en skelms wat jou uit jou diamant rykdom kon kul was natuurlik op die voorstoep van die diamant velde te vinde.  So was hierdie Engelsman dan ook nie verniet die “swartskaap” van sy welgestelde familie in Engeland gebrandmerk nie.  Al te gou het hy sy rykdom bymekaar gemaak en het hy besluit om die pad te vat, terug Engeland toe.

Met sy terugtog na Kaapstad, het hy een aand langs die Oranjerivier in die Noord-kaap, kamp opgeslaan. Hier het hy die idee gekry om ‘n deel van sy diamant rykdom in die onherbergsame gebied te versteek.  Hy wou nie al sy  geld en diamante met een slag saam met hom terugneem nie.  Sy plan was om dan later na Suid Afrika terug te keer met die hoop om dan vir hom grond aan te koop en om met skape te boer.

Ongelukkig vir die arme man het hy malaria opgedoen en is hy op sy terugreis op die boot oorlede.  Langs sy lyk in die bed van sy kajuit, is daar egter ‘n briefie gevind met ‘n kort verduideliking en ‘n handgetrekte kaart van waar die diamante versteek was.  Volgens oupa het baie mense na die verskyning  van die boekie dan ook met ossewa of perdekar die pad gevat om na die skat te gaan soek.  Niemand kon egter bevestig of die diamante wel gevind was nie. 

Omdat hy van nature ‘n avontuurlustige mens is, het Pieter besluit dat hierdie ‘n groot uitdaging vir hom sou wees. Om te dink dat hy ‘n skat, net soos in die stories wat sy ma kleintyd vir hom gelees het kon vind, het hom nog meer vasberade gemaak om na hierdie gebied te reis. Met die aanbreek van die somervakansie het hy sy pik, graaf, eenmanstentjie en slaapsak agter in sy bakkie gelaai. Toe het hy die lang pad vanaf die Kaap na Riemvasmaak aangepak.

Dit was ‘n lang rit hierheen en hy moes halfpad  op Springbok oornag.  Die volgende oggend baie vroeg het hy die volgende skof tot by Kakamas aangepak.  In kakamas het hy die bakkie volgemaak met brandstof en het hy by die Pink padstal stilgehou en vir hom nog ‘n paar eetgoedjies gekoop. Hy moes natuurlik ook seker maak dat hy genoeg drinkwater agter in die bakkie het.   Net buite die dorp op die pad na Upington, het hy stadig  oor die lang brug oor die Orangerivier gery. “Wat ‘n besonderse wêreld” het hy met homself gepraat en byna by die bordjie aan die linkerkant van die pad wat lees Riemvasmaak, verby gery. Hier het die teerpad na ‘n grondpad verander. Behalwe vir ‘n paar sandstukke wat mens nogal onverhoeds vang, was die pad redelik goed. Na sowat 55  kilometers en ‘n paar keer se hekke oop en toe maak, het hy die Riemvasmaak nedersetting bereik. Stadig,  om nie van die hoenders wat voor die bakkie verby hardloop dood te ry nie, het hy tot by die Rooms katolieke kerk gery.
Hier het hy toestemming verkry om verder na die Norbit Kai kamp te ry.  Volgens wat hy van die handgetrekte kaart kon uitmaak, is die diamante tussen die huidige Norbit Kai en Wabrand kampe versteek.  ‘n Moeilike, somtyds half onbegaanbare pad, en verby die indrukwekkende rafyn het hy  teen laatmiddag  sy eindbestemming bereik.  Hier het hy ook gou agter gekom dat hy maar die selfoon in die bakkie kon los.  Hier is geen selfoon opvangs nie.
Daardie aand,  terwyl hy die reuk van die hardekool vuurtjie deur sy neusgate insnuif, kon hy hom  verlustig aan die duisende skitterende sterre in die donker hemelruim. Terwyl sagte naggeluide hom geselskap hou het hy rustig die warm koffie uit sy blikbeker opgeslurp.  Hy was nogal moeg!

Vroeg die volgende oggend het die bosduiwe hom wakker gekoer. Toe het sy soektog met alle erns begin. Die son was warm en so af en toe kon hy hoor hoedat die ou bobbejaan brandwag die ander waarsku dat hier ‘n indringer in die omgewing is. Die koel nagte het hom darm met ‘n rustige slaap beloon.  Na drie dae van gate grawe, rotse omrol en op hande en knieë op die harde grond rondkruip, het hy tot sy teleurstelling,  in plaas van skitterende  diamante,  met slegs stukkende vingers en seer spiere daarvan afgekom. Tog weet hy dat onder die sand en tussen die klippe ‘n ander skat, een van halfedelgesteentes weggesteek lê, gereed om deur nog ‘n ander tipe fortuinsoeker ontdek te word.

Omdat sy kos en water ook nou gedaan was, het hy besluit om maar net soos die baie onsuksesvolle skatsoekers voor hom, liewer huiswaarts te keer. Met ‘n laaste blik oor hierdie speelplek van die reuse,  trek ‘n vet ou bloukop koggelmander wat die kuns aangeleer het om rustig op sy gusteling klip te sit en wag,  sy aandag.  Hierdie outjie is miskien die enigste een wat die geheim van die versteekte diamante ken, dink hy met ‘n glimlag en draai om om sy laaste goedjies bymekaar te maak.

Hy besluit om die laaste twee snytjies brood en drie appels daar op ‘n skurwe plat klip te los.  “Die bobejane sal wel hierdie vonds waardeer”, sê hy vir homself.  Dan, nadat hy sy goedjies alles in die bakkie gelaai het, klim hyself in en skakel die enjin aan.  Stadig ry hy met die klipperige tweespoor paadjie aan.  Wie weet,  dink hy.  Eendag kom ek dalk weer terug nét om die wonder van hierdie volmaakte skepping weer te kan ervaar…………en verdwyn dan stadig om ‘n paar massiewe rotse.

Die twee bokwagterjies wag totdat die bakkie heeltemal verdwyn en hardloop dan nuuskierig na die plek waar Pieter vir die drie dae na sy skat gesoek het. Gulsig raap hulle die brood en appels op.  Dan onthou die een dat Pieter iets onder die groot rots ingedruk het.  Met moeite beur hulle aan die rots en uiteindelik rol dit om.

Op die plek waar die rots gestaan het sien hulle die platgedrukte coke blikkie raak.  Maar dit is nie al nie.  “Waarom sou die witman dan sy tabak sakkie ook daar onder die klip ingedruk het?”  Wonder hulle saam.

Die een tel die sakkie op.  Hy woel die toutjie waarmee dit vasgebind is los en gooi die inhoud uit op die grond.  “waarom sou die eienaardige basie dan ‘n sakkie met ‘n klomp blink klippies daarin hier onder die rots indruk?” vra die kleiner een vir sy maat.  Met harde laggende stemme en met hul  groot vonds veilig in besit, wip hulle rats soos  wildsbokkies kaalvoetend oor die yl plantegroei en tussen die  harde klippe deur terug na hul kaya daar onder by die droë rivierloop.

Daardie aand langs die vuur deel hul opgewonde hul ondervindinge van die drie dae met hul pa wat rustig aan sy pyp sit en suig.  “Dan moet julle maar bedags as julle so agter die bokke aan oppas met die mooi klippies ook speel, en nie net met julle se dolosse nie” sê die ou man terwyl ‘n glimlag om sy verrimpelde mondhoeke speel.

Die vuurtjie is so te sê uitgebrand.  Met ‘n laaste paar vlammetjies wat hier en daar opspring en dan weer gaan lê, speel die liggloed daarvan skitterend oor die klompie klippies wat daar eenkant in die sand lê.  Die ou man se hart is vanaand bly.  Dit is die mooi klippies wat vanaand sy hart so bly maak,  dink hy.  Dan kruip hy ook maar onder die karos in en wag vir die slaap om hom te kom haal.

Groete van klippie tot klippie
Jimmy

No comments:

Post a Comment