Search This Blog

Showing posts with label fietse. Show all posts
Showing posts with label fietse. Show all posts

Sunday, February 10, 2013

en die waters vloei verby






Die kombuis tafel is al klaar afgedek en my ma is besig om die skottelgoed te was.  Terwyl sy was, droog Alta die nat borde en koppies af.   

“Pak bietjie die breekgoed in die staalkas.”  Sê my ma vir Alta.

 Alta is my suster, net ouer as ek.  Sy loop na die olyfgroen staal kombuiskas met die geriffelde glas skuif deurtjies.  Ek kon ure voor hierdie kas staan en deur die glas na die mooi goedjies kyk  wat my ma aan weerskante van die koppies gepak het. 

Ek onthou nog die weer mannetjie en vroutjie.  Hulle het in ‘n plastiek huisie gestaan.   As die vroutjie buite gestaan het het die son geskyn.  Die mannetjie het weer ‘n reën jassie gedra en het ‘n sambreeltjie in sy hand gehou.   Sodra daar vog in die lug was het hy uit die huisie gekom.  Dan was almal verlig want dit sou kom reën. 

 Alta pak die breekgoed netjies terug in die kombuiskas en skuif die glas deurtjies weer toe.  Daar was ook ander goedjies in die staalkas weggebêre, maar ons mag nie aan alles gevat het nie.  Die bekertjie met verskillende soorte knope was nogal vir my baie interessant.  As my ma my toegelaat het, kon ek myself ure daarmee vermaak.   

Somers  aande was gewoonlik kuier aande.  Ek gaan by die voordeur uit om te sien of daar nog nie mense gekom het nie.  Die gewoonte was dat familie of bure in die aande bymekaar kom om te kuier. 

Dan gewaar ek die twee kleurige beige en wit Vauxhall wat voor die klein hekkie van ons huis tot stilstand kom.  Die twee voordeure gaan feitlik  gelyktydig  oop en oom Daantjie en ‘ant Lettie klim uit die motor uit.  Ek hardloop vinnig die huis binne en kondig aan.  “Oom Daantjie en ‘ant Lettie hulle is hier!”

Waar my pa op die sement voorstoep van die huis sit, kom hy orent en loop hulle halfpad tussen die kleinhekkie en die voorstoep tegemoet.   “Goeie naand, goeie naand,” klink die oor en weer gegroetery.   So asof hulle mekaar jare laas gesien het. 

 ‘Ant Lettie het haar gunsteling rok aan.  Dit is die bekende blou rok met groot wit blomme daarop.  Sy het nooit in ‘n winkel ingegaan nie.  Haar “rokkies”, of “tente”, soos ons agteraf gespot het, was altyd láát maak.  Hulle stap saam op die sement paadjie na die voordeur van die huis.  My pa maak die gaasdeur wat die vlieë uithou oop en almal stap na binne.

Ek was alweer buite en gewaar ook nou van ons bure,  oom en antie Lombaard.  Hulle stap agter die Vauxhall verby  in die rigting van die klein hekkie.   Ek harloop weer die huis binne en kondig weereens aan.  “Oom Lombaard en antie Lombaard is hier!”

Nou kom my ma ook by die voordeur uit en loop die Lombaards op die sement paadjie tussen die roos beddings tegemoet.  “Goeie naand,  di’s warm vanaand, né?” sê vra sy.”   “Já, sê die oom.  Di’s báie warm vanaand,” en vee die sweet met sy bruin sakdoek van sy voorkop af. 

Oom Lombaard was die slagter.  Ek het altyd koerante bymekaar gemaak en dit dan by hom vir ‘n rooi worsie en ‘n tiekie gesmous.  Hy het die vleis eers met sulke groot wit papiere en dan met die koerante toegedraai.  Hulle stap saam na die voordeur.  “loop maar sommer deur na die kombuis,” kom dit van my ma.

Binne in die kombuis word daar weer oor en weer  gegroet.  Geselsend neem die kuiergaste hulle sitplekke in rondom die groot hout tafel met die bont plastiek kleetjie daarop.  Daardie kleetjies het altyd so lekker geruik as hulle nuut was, onthou ek nog.    Vandag was ‘n dag van baie stories en my ma sorg dat sy by die koppen end en naby die wit  “General Electric” yskas sit.  Die een het meer as die ander te vertel.  Dit is egter ‘ant Lettie wat die voortou neem.  Ek het haar altyd dopgehou.  Dan kyk ek wie vee eerste sy arms af as sy praat.    Met ‘n “stíl nou suster!,” maak oom Daantjie haar gou gou stil toe hy merk dat my ma opstaan en die klein transistor radiotjie wat op die yskas staan, aanskakel.

 Dit is kwart oor sewe en die bekende kenwysie van die “du Plooys van Soetmelksvlei” begin speel.   My ma draai die volume harder sodat almal mooi kan hoor.   Almal, selfs ‘ant Lettie is nou tjoep stil. 

Die spanning in die kombuis neem merkbaar toe as die dowe oom Bart van die storie  se “Hoe sêêê?” almal om die tafel vermaak.  “Die dowe ou ding!,” snork ant Lettie verontwaardig.  “Ag suster!,” kom dit dan van oom Daantjie.  Oom Bart begin ook nou met sy nukke wat weer daartoe aanleiding gee dat tant Hybie se skril stemmetjie die hele kombuis van hoek tot kant vul.  Die gehoor rondom die tafel leef hulle gou diep in die storie in.  Te gou is die vyftien minute verby en speel die kenwysie alweer.

My ma staan vanaf die tafel af op en skakel die radiotjie af.  “Wie stem vir koffie en wie stem vir tee,?”  vra sy.  Almal stem vanaand vir koffie.   Alta moet ook nou kom hand bysit.  Sy skuif weer die staalkas se glas deurtjies oop en haal die koffie koppies uit.  My ma stap na die hoekrak teen die oorkantste muur en haal die halfmaan silwer elektriese ketel van die rak af.    Sy vul dit  met koue water vanuit die kraan by die sink en plaas dit weer op die hoekrak waar sy  die elektriese muurprop  inprop.

Wanneer die sterk geur van moer koffie die kombuis vul is dit tyd dat die kinders buite moet gaan speel.   Waar ek op die klein vuilgoed drommetjie langs die room kleur Agfa koolstoof sit, probeer ek nog bietjie tyd wen.  Gou sien my ma my raak en met ‘n “wil jy vanaand tande tel?,” is ek gou gou by die kombuis deur uit.

Ons kinderjare was speel jare.  Ek onthou nog hoedat ek met die hoenders gespeel het.  Ek het ‘n hoender gevang, die kop onder die linker vlerk ingedruk en dit dan dronk gedraai.  Na ‘n rukkie het al my ma se hoenders in ‘n sirkel, kop onder die vlerk, op die grond gelê.  Dit het kompleet gelyk asof hulle koploos was.  Wanneer die Augustus winde die Noordkaap se rooi stof oor die aarde gewaai het, het ek en Andrew, di’s nou my jongste broertjie, met kartondose  oor ons koppe in die wind rond gehardloop.  Ons het ons verbeel ons vlieg.  Tol gooi en albasters speel was ook gewild.

 Elkeen van ons het ‘n Boxer tabaksakkie met kleurvolle albasters en ‘n paar yster ghoene in gehad.  Ek was baie lief vir die rooi en blou albasters.  Die albasters was vir my baie waardevol.  In die aande voor ek gaan slaap het het ek eers weer getel hoeveel ek deur die dag  “gewen” het.   Na die Saterdag middag se “matinee” rolprent vertoning  by die “Plaza” of die “Twentieth Century fox” bioskoop sale, het ons weer net “cowboys & crooks” gespeel.

 Omdat die Somers aande so warm was en die son so laat onder gegaan het, was dit dan ook nie snaaks dat ons tot baie laat buite gespeel het nie.  Ons het wegkruipertjie, kenniekie, bok bok staan styf hoeveel vingers op jou lyf, ring a ring a rosy  en baie ander speletjies gespeel.  Soms het die groter kinders ook toktokkie gespeel.    Met die fietse het ons na die rooi duine in die veld gery en daar piekniek gehou.  Nooit was daar ‘n vervelige oomblik nie.

Hoe dankbaar is ek vandag  dat daar nie daardie jare TV’s, video speletjies, selfone, rekenaars en Ipads was nie.  Ons het ook nie sakrekenaars gehad nie maar moes die tafels tot by die twaalf maal tafel uit ons koppe leer.  Om met klippies en dolosse te kon speel in plaas van battery aangedrewe karre, was eweneens ‘n baie groot voorreg.  Dit het ons ryper geskaaf en ons  geleer om in ons verbeelding te lewe.  Ek het ook baie boeke gelees.  Ons het geknip en geplak en ingekleur.  Ons het ook geleer om planne te maak, ons eie hout karre ontwerp en hout gewere wat met gebuigde draadjies geskiet het, gemaak.  Kortom, die lewe van ‘n tiekie en ‘n sikspens was, hoe hard ook al partymaal,  ons leermeester gewees! 
 
Gelukkig is ‘n kind nie altyd so intens bewus van die hardheid van die lewe nie.  “Comics” met karakters soos  “Little Lotta”, “Ritchie Rich”, “Casper the friendly ghost” en “Hot stuff” was deel van ons lewe.  Hierdie kleurryke karaktertjies was ons verbeelding maats.  Saam met hulle en in die wonder wêreld van “die Patrys” jeug tydskrif, het ons sorgelose dae belewe.  Ek kon nie wag vir Sondag se Landstem nie, sodat ek saam met Ben en Babsie met vakansie see toe kon gaan.  Ons het nie in vrees gelewe nie.  My enigste “vrees” was my standerd drie onderwyser, meneer Cornelisen, se blou plaks. 

In hierdie wêreld van ons land het die son vroeg en warm uit die ooste opgekom.  As jy nie ‘n fiets gehad het nie, moes jy maar skool toe loop.  Dit is waarom my ma besluit het dat ek en Andrew  hoede moes kry.  Sy was bang dat ons sonsteek sou opdoen.  So is ons dan saam met haar na Lenhoff se winkel om die hoede te koop.  Hierdie was die komieklikste hoede.  Dit was donker grys en was van felt gemaak.  Die hoede het soos Lord oom Piet se hoed gelyk.  Nodeloos om te sê, ons het hierdie hoede maar min gedra.  Voordat ons by die skool aangekom het, het ons vinnig die hoede afgehaal en eers weer opgesit as ons na skool naby die huis was. 

Om ‘n pak slae in die skool vry te spring omdat ek wéér nie my huiswerk gedoen het nie, het ek somtyds siek gespeel.  By my ma was daar egter nie so ‘n ding  dat daar van die skool af weggebly word nie.   Wanneer sy dan in die rigting van die kasterolie bottel beweeg het, het die skoolsiekte ook net so vinnig die wyk geneem.  Dan was dit maar aantrek, skooltas neem en skool toe gaan. 

Daar was egter één keer wat ek kan onthou dat ek regtig siek was.  Ek het die heelnag maagpyn gehad en toe ek die volgende oggend huilend van pyn wakker word, het my ma gesien dat dit hierdie keer nie skoolsiek was nie.  Dokter Eksteen is na die huis ontbied en ek was in die hospitaal opgeneem  “Ag ons haal hom sommer gou gou uit.”  Het hy glimlaggend gesê.  My blindederm was nog daardie dieselfde dag verwyder.

Die meeste van die tyd was daar nie geld vir nuwe skool skoene nie.  As dit stukkend was moes dit na die skoenmaker gaan om herstel te word.  As daar nie dáárvoor geld was nie, het ons maar kaalvoet skool toe gegaan.  Ek dink die meneer het verstaan!  

Dit is net na nege uur.  Die kuiergaste het hul laaste koppie koffie gedrink, die spookstories is klaar vertel en almal is nou besig om huiswaarts te keer.  Môre is weer ‘n harde werksdag en ons kinders moet ook skool toe gaan.    Oom Lombaard en sy vrou groet laaste en verdwyn ook deur die kleinhekkie die donker nag in.   Nou is dit tyd vir ons om ook bed toe te gaan.  Vannaand is dit egter so warm dat my ma ons roep om van die enkel bedjies uit die huis na buite te dra.  Sy en my pa gaan vannaand buite slaap.  Hulle kan nie hierdie hitte hanteer nie. 

Alta het sommer haar matras op die grasperkie voor die huis neergelê.  Sy kry ook warm.  Ek en Andrew slaap maar vannaand alleen in die huis in ons kamer.
Ek lê op my bed en dink na oor die dag se gebeure.  Skielik tref dit my dat ek nie  my skool huiswerk klaar gedoen het nie.  Ek probeer om ‘n plan vir môre uit  te dink, maar kan aan niks dink nie.    Ek voel hoedat my ooglede swaar word en troos my daaraan dat dit moontlik is dat dit vannag verskriklik baie kan kom reën.   Dan, omdat die water so verskriklik diep sal wees, sal ons nie môre skool toe kan gaan nie.  Dit het jammerlik nooit gebeur nie!

Persoonlik dink ek dat daar nie nog so ‘n wonderlike plek soos die Noord -Kaap is nie.  Ongelukkig, net soos in ons hele land, het die tyd ook nie daar stilgestaan nie.  Ja,die goeie ou tye het verander.  Lenhoff se winkel het plek gemaak vir Woolworths.  Dokter Eksteen lewe ook nie meer nie en ek sien nie meer “comics” teen vyf sent (sikspens) elk nie.  Bure en familie kuier ook nie meer in die aande saam nie.  Mense doen nie meer in die aande “window shopping” nie.  Dit het te gevaarlik geword om saans buite rond te loop.  Die tv het die kuier aandjies en die inry teaters oorgeneem.    

Daar is egter twee dinge in hierdie deel van die wêreld  wat nié verander het nie.  Ek het nou net op TV na die weervoorspelling gekyk en agter gekom dat  eerstens , na drie en sestig jaar van mý  lewe, Upington in die Somer maande  nog stééds diep in die veertig grade raak.    Die son is nog steeds nét so warm daar in die pragtige ou Noord Kaap.  Tweedens kronkel die donker groen bome en die bruin modder waters van die Oranjerivier nog steeds op sy lang en moeisame pad na die Atlantiese oseaan, verby  hierdie pragtige Noord Kaapse  oewer dorpie.

Naskrif.
Net soos die waters wat al klaar verby gevloei het en nie weer teruggekeer kan  word nie, so sal ons nie weer daardie eenvoudige en  sorgelose tye terugkry nie.   Die éénvoud van daardie tyd was die prys wat ons daarvoor betaal het.  Vir ons was die prys nie te hoog nie.   Daardie unieke lewe sónder plaasboer bloed en geweldadige roof kan nie met al die wêreld se geld teruggekoop word nie.  Wanneer die rook van die buitebande die lug verdonker en die skreeuende  waansinnige massas dansend en woedend “demand,” dan maak ek my oë toe en bid.   “Here,  vergewe hulle, want hulle het U agtste gebod oortree en ons vryheid is van ons gesteel!” 
Die  ou groot staanhorlosie se ratte het verstrengel geraak in die  gulsige vingers van die jaar 1994.  Nou is daar nie meer omdraai kans nie.  Nou bly daar maar alleen GELOOF, HOOP en LIEFDE oor.  Kom ons gryp na die LIEFDE en bly hoop en glo dat ons kinders of kleinkinders eendag ‘n “mooi” storie sal hê om te vertel.   
Groete
Jimmy


Sunday, February 3, 2013

amsterdam








Terwyl ek oor een van meer as ‘n duisend brûe stap, verwonder ek my aan die pragtige ou wêreld  stad.  Honderde fietse staan styf teenmekaar in fiets rakke langs die nou strate ingedruk.  Lyk kompleet asof hulle aanmekaar vasgeplak is.   Ek wonder hoe jy nou sal weet watter fiets joune is!  Almal lyk dan dieselfde.   Met ‘n kultuur van fietsry is Amsterdam seker dié mees fiets vriendelike stad in die wêreld.

Hier regs langs my is die Brouwersgracht .  Brouwersgracht is 'n kanaal in die sentrum van die stad en een van vele gragte.  Twee boothuise lê rustig op die donker water.  Kannie glo dat mense permanent in ‘n boot kan bly nie!  En dit nogal op ‘n kanaal.   Kompleet met wasgoed draad en tuintjie sien ek iemand op een van die bote met ‘n besem vee.

 Vroeër jare het die kanaal as tuiste gedien vir  terugkerende skepe uit Asië met speserye aan boord.        Langs die Brouersgracht was groot pakhuise opgerig wat as depot vir die handelsware gedien het.     Brouerye was ook algemeen bekend in die gebied.  Later jare is dié  pakhuise in woonstelle omskep.  Sommige van die duurste in Amsterdam.  Volgens die daaglikse dagblad, “Het Parool,” is  Brouwersgracht aangewys as die mooiste straat in Amsterdam.

Já, dit is die groot stad Amsterdam!  Met sy populasie van ongeveer 820,256 mense en dit alléén in sy stedelike gebied, is hierdie hoofstad van Nederland ook bekend as die "Venesië van die Noorde."  Met sy meer as een honderd kilometer van kanale, sowat 1500 brûe en 90 eilande, kan ‘n mens allermins aan ‘n minder gepaste naam vir die stad dink.

Van eilande gepraat.   Hierdie eilande van Amsterdam is nie natuurlik gevormde eilande nie, maar is deur die Nederlanders eiehandig gebou. Van die vroeë kunsmatige eilande was drywende hout  strukture in die stil waters.  Die sentrale stasie van Amsterdam is op een van die “eilande” gebou.  Hierdie spoorwegstasie is een van die belangrikste spoorweg hubs van die Nederlande en word deur 250,000 passasiers per dag gebruik.

‘n Dogtertjie is besig om ‘n paar van die honderde duiwe op die plein te voer.  Dan kom ‘n klein seuntjie met swaaiende armpies aangehardloop en probeer om een van die duiwe te vang.  Twee of drie duiwe vlieg egter net so twee meter weg en stap dan maar weer rustig  tussen die malende mense voete voort.


 “ Ek stap nou oor “Dam Square.”(Dam soos in Afrikaans)   Omring deur wonderlike geboue en ander toerisme-aantreklikhede en af en toe die klanke van die pragtige klokkespel wat oor die plein aangesweef kom,  bied “Dam Square” verskeie moet-sien besienswaardigheids  plekke op jou besoek aan Amsterdam.  Hierdie Duif-gevulde historiese sentrum in die stad is al lank 'n byeenkoms plek vir plaaslike Amsterdam inwoners asook besoekers.  Die groot vierkant (“square”) lê in die historiese sentrum van die stad, ongeveer 750 meter suid van die belangrikste vervoer hub, “Centraal Station”. 

 Aan die westelike kant van die vierkant is die neoklassieke Royal Palace, wat as  stadsaal vanaf die vroeë 1655’s en later as koninklike verblyf in 1808 gedien het.  Alhoewel dit bekend staan as die Paleis, woon die koninklike familie nie meer hier nie.   Baie spesiale geleenthede word nog steeds hier  in die paleis gehou vir die regters van Amsterdam.   Dit is ook die grootste sekulêre gebou in Europa sinds die 17de eeu. Die paleis is wel oop vir die publiek maar slegs wanneer daar geen spesiale geleenthede gehou word nie.

Die kelnerin met die “G- string” beweeg vinnig tussen die stoep tafeltjies deur om die klante te bedien.  Hier digby is die bekende “De Wallen,” of “Walletjies.”  Hierdie rooi-lig distrik wat deel is  van die stedelike gebied, en waar 'n konsentrasie van prostitusie en seks-georiënteerde besighede, soos sekswinkels, strip clubs, volwasse teaters, ens. voorkom,  is die term afkomstig van die rooi ligte wat as tekens in die bordele gedien het. 

 Hierdie rooi lig gebiede is egter nie eie aan Amsterdam alleen nie.  Daar is gebiede in baie groot stede rondom die wêreld wat 'n internasionale reputasie verwerf het as “rooi lig” distrikte.   Ek het nie die “walletjies” besoek nie maar dink dat ek so tussen die seks winkeltjies en “g-string” kelnerinne  genoeg van dié bedryf gesien het.

 Vrolike musiek van ‘n draai orreltjie,  (“draai orgeltjie”) roep my na die oorkant  van die straat.  Ek wag vir die “tram” om voor my verby te ry en stap dan haastig tussen die baie mense deur na die anderkant.   Met verwondering gaan staan ek langs die ou man (“orgelman”) wat op die sypaadjie sit en die slingertjie om en om draai.  Die vrolike musiek borrel uit die orreltjie en uit verwondering gooi ek twee euros in sy blikkie.  Ek vergeet dat dit in ons geld ongeveer twintig rand is!

Amterdam is ook natuurlik die tuiste van”Die Nachtwacht” deur Rembrandt.  Van Gogh het ook ‘n klein rukkie in  Amsterdam gewoon en daar is 'n museum toegewy aan sy werk.  Die belangrikste museums van Amsterdam is geleë op die Museumplein (Museum Square)   Dit is geleë aan die suidwestelike kant van die Rijksmuseum.  Dié museum is in die laaste gedeelte van die 19de eeu op die terrein van die voormalige “World's Fair” gebou.  Die noordoostelike deel van die vierkant word begrens deur die baie groot Rijksmuseum.

Die Rijksmuseum beskik oor die grootste en belangrikste versameling van klassieke Nederlandse kuns.   Hierdie museum is in 1885 geopen.  Die versameling van bykans 'n miljoen voorwerpe word hier gehou.  Rembrandt se kuns hou natuurlik die meeste verband met Amsterdam.  Sy werk en die werk van sy leerlinge word hier in die Rijksmuseum vertoon.

Dan is daar ook nog die Van Gogh museum.   Dit is Amsterdam se grootste museum van moderne kuns.  Kunswerke van kunstenaars soos Piet Mondrian, Karel Appel, en Kazimir Malevich, kan hier besigtig word.
Hier in Amsterdam vind jy ook ander kleiner museums soos, die “Verzetsmuseum” (Weerstand Museum), die “Anne Frank Huis” (Anne Frank Huis), en die” Rembrandt” (Rembrandt Huis),  sowel as die “Tropen.” (Museum van die trope)

Een dag alleen is nie genoeg om ‘n besoek aan Amsterdam af te lê nie.  Dus beveel ek aan dat jy jouself vir een volle week in die “Botel” (Motel op die water) gaan tuismaak en die stad dan te voet verken.  Maak net seker dat die Suid Afrikaanse rand se waarde goed is teenoor die euro.  Op die huidige oomblik sal jy ongeveer R12.00 vir een euro moet opdok!
Maar nou ja, ons kan ook maar droom!  EENDAG, miskien, dan neem ek jou met my mee!


Gedig
AMSTERDAM -  Geskryf  deur   Jimmy Deacon   http://www.youtube.com/watch?v=BzD9dshDVpU                                                                            
                                                                                                                    (klank/vidio luister)

Amsterdam jou strate, van water en van klip, jou stegies en jou brûe, waar mens en fietse mik, deur klokkespel en dagga geur, met draai orrel wat wink,  vir elkeen wat jou niemandsland se bitter water drink.

Eendag moet jy met my mee, na  Amsterdam se see, van mense en van fietse, en water in hul weë.

Stap saam met my deur strate en ruik die geur van kaas, met klompe aan ons voete, ís ons in geen haas,  om deur jou stad te wandel, met duiwe om ons heen, sal ons jou nooit vergeet nie, o mooiste, mooiste een.

Jy , waterstad met mense, wat op jou strate dryf, in bootjie huis met blommebak, en wasgoed lyn wat wys, dat jy o stad van drome, van draai orrel en lag, tot nou toe altyd rustig, vir more lê en wag.

Eendag moet jy met my mee, na Amsterdam se see, van mense en van fietse, en water in hul weë.

Amsterdam o Amsterdam, hoe kan ek ánders dink, hoe kan ek teen die prikkels skop tewyl jy vir my wink.  Terwyl jou water gragte roep, jou duiwe na my soek.   O stad van water en van see, van mense op jou weë!.

Groete
Jimmy      
© jimmy deacon weetjeda blogger. blogspot