Search This Blog

Sunday, February 3, 2013

amsterdam








Terwyl ek oor een van meer as ‘n duisend brûe stap, verwonder ek my aan die pragtige ou wêreld  stad.  Honderde fietse staan styf teenmekaar in fiets rakke langs die nou strate ingedruk.  Lyk kompleet asof hulle aanmekaar vasgeplak is.   Ek wonder hoe jy nou sal weet watter fiets joune is!  Almal lyk dan dieselfde.   Met ‘n kultuur van fietsry is Amsterdam seker dié mees fiets vriendelike stad in die wêreld.

Hier regs langs my is die Brouwersgracht .  Brouwersgracht is 'n kanaal in die sentrum van die stad en een van vele gragte.  Twee boothuise lê rustig op die donker water.  Kannie glo dat mense permanent in ‘n boot kan bly nie!  En dit nogal op ‘n kanaal.   Kompleet met wasgoed draad en tuintjie sien ek iemand op een van die bote met ‘n besem vee.

 Vroeër jare het die kanaal as tuiste gedien vir  terugkerende skepe uit Asië met speserye aan boord.        Langs die Brouersgracht was groot pakhuise opgerig wat as depot vir die handelsware gedien het.     Brouerye was ook algemeen bekend in die gebied.  Later jare is dié  pakhuise in woonstelle omskep.  Sommige van die duurste in Amsterdam.  Volgens die daaglikse dagblad, “Het Parool,” is  Brouwersgracht aangewys as die mooiste straat in Amsterdam.

Já, dit is die groot stad Amsterdam!  Met sy populasie van ongeveer 820,256 mense en dit alléén in sy stedelike gebied, is hierdie hoofstad van Nederland ook bekend as die "Venesië van die Noorde."  Met sy meer as een honderd kilometer van kanale, sowat 1500 brûe en 90 eilande, kan ‘n mens allermins aan ‘n minder gepaste naam vir die stad dink.

Van eilande gepraat.   Hierdie eilande van Amsterdam is nie natuurlik gevormde eilande nie, maar is deur die Nederlanders eiehandig gebou. Van die vroeë kunsmatige eilande was drywende hout  strukture in die stil waters.  Die sentrale stasie van Amsterdam is op een van die “eilande” gebou.  Hierdie spoorwegstasie is een van die belangrikste spoorweg hubs van die Nederlande en word deur 250,000 passasiers per dag gebruik.

‘n Dogtertjie is besig om ‘n paar van die honderde duiwe op die plein te voer.  Dan kom ‘n klein seuntjie met swaaiende armpies aangehardloop en probeer om een van die duiwe te vang.  Twee of drie duiwe vlieg egter net so twee meter weg en stap dan maar weer rustig  tussen die malende mense voete voort.


 “ Ek stap nou oor “Dam Square.”(Dam soos in Afrikaans)   Omring deur wonderlike geboue en ander toerisme-aantreklikhede en af en toe die klanke van die pragtige klokkespel wat oor die plein aangesweef kom,  bied “Dam Square” verskeie moet-sien besienswaardigheids  plekke op jou besoek aan Amsterdam.  Hierdie Duif-gevulde historiese sentrum in die stad is al lank 'n byeenkoms plek vir plaaslike Amsterdam inwoners asook besoekers.  Die groot vierkant (“square”) lê in die historiese sentrum van die stad, ongeveer 750 meter suid van die belangrikste vervoer hub, “Centraal Station”. 

 Aan die westelike kant van die vierkant is die neoklassieke Royal Palace, wat as  stadsaal vanaf die vroeë 1655’s en later as koninklike verblyf in 1808 gedien het.  Alhoewel dit bekend staan as die Paleis, woon die koninklike familie nie meer hier nie.   Baie spesiale geleenthede word nog steeds hier  in die paleis gehou vir die regters van Amsterdam.   Dit is ook die grootste sekulêre gebou in Europa sinds die 17de eeu. Die paleis is wel oop vir die publiek maar slegs wanneer daar geen spesiale geleenthede gehou word nie.

Die kelnerin met die “G- string” beweeg vinnig tussen die stoep tafeltjies deur om die klante te bedien.  Hier digby is die bekende “De Wallen,” of “Walletjies.”  Hierdie rooi-lig distrik wat deel is  van die stedelike gebied, en waar 'n konsentrasie van prostitusie en seks-georiënteerde besighede, soos sekswinkels, strip clubs, volwasse teaters, ens. voorkom,  is die term afkomstig van die rooi ligte wat as tekens in die bordele gedien het. 

 Hierdie rooi lig gebiede is egter nie eie aan Amsterdam alleen nie.  Daar is gebiede in baie groot stede rondom die wêreld wat 'n internasionale reputasie verwerf het as “rooi lig” distrikte.   Ek het nie die “walletjies” besoek nie maar dink dat ek so tussen die seks winkeltjies en “g-string” kelnerinne  genoeg van dié bedryf gesien het.

 Vrolike musiek van ‘n draai orreltjie,  (“draai orgeltjie”) roep my na die oorkant  van die straat.  Ek wag vir die “tram” om voor my verby te ry en stap dan haastig tussen die baie mense deur na die anderkant.   Met verwondering gaan staan ek langs die ou man (“orgelman”) wat op die sypaadjie sit en die slingertjie om en om draai.  Die vrolike musiek borrel uit die orreltjie en uit verwondering gooi ek twee euros in sy blikkie.  Ek vergeet dat dit in ons geld ongeveer twintig rand is!

Amterdam is ook natuurlik die tuiste van”Die Nachtwacht” deur Rembrandt.  Van Gogh het ook ‘n klein rukkie in  Amsterdam gewoon en daar is 'n museum toegewy aan sy werk.  Die belangrikste museums van Amsterdam is geleë op die Museumplein (Museum Square)   Dit is geleë aan die suidwestelike kant van die Rijksmuseum.  Dié museum is in die laaste gedeelte van die 19de eeu op die terrein van die voormalige “World's Fair” gebou.  Die noordoostelike deel van die vierkant word begrens deur die baie groot Rijksmuseum.

Die Rijksmuseum beskik oor die grootste en belangrikste versameling van klassieke Nederlandse kuns.   Hierdie museum is in 1885 geopen.  Die versameling van bykans 'n miljoen voorwerpe word hier gehou.  Rembrandt se kuns hou natuurlik die meeste verband met Amsterdam.  Sy werk en die werk van sy leerlinge word hier in die Rijksmuseum vertoon.

Dan is daar ook nog die Van Gogh museum.   Dit is Amsterdam se grootste museum van moderne kuns.  Kunswerke van kunstenaars soos Piet Mondrian, Karel Appel, en Kazimir Malevich, kan hier besigtig word.
Hier in Amsterdam vind jy ook ander kleiner museums soos, die “Verzetsmuseum” (Weerstand Museum), die “Anne Frank Huis” (Anne Frank Huis), en die” Rembrandt” (Rembrandt Huis),  sowel as die “Tropen.” (Museum van die trope)

Een dag alleen is nie genoeg om ‘n besoek aan Amsterdam af te lê nie.  Dus beveel ek aan dat jy jouself vir een volle week in die “Botel” (Motel op die water) gaan tuismaak en die stad dan te voet verken.  Maak net seker dat die Suid Afrikaanse rand se waarde goed is teenoor die euro.  Op die huidige oomblik sal jy ongeveer R12.00 vir een euro moet opdok!
Maar nou ja, ons kan ook maar droom!  EENDAG, miskien, dan neem ek jou met my mee!


Gedig
AMSTERDAM -  Geskryf  deur   Jimmy Deacon   http://www.youtube.com/watch?v=BzD9dshDVpU                                                                            
                                                                                                                    (klank/vidio luister)

Amsterdam jou strate, van water en van klip, jou stegies en jou brûe, waar mens en fietse mik, deur klokkespel en dagga geur, met draai orrel wat wink,  vir elkeen wat jou niemandsland se bitter water drink.

Eendag moet jy met my mee, na  Amsterdam se see, van mense en van fietse, en water in hul weë.

Stap saam met my deur strate en ruik die geur van kaas, met klompe aan ons voete, ís ons in geen haas,  om deur jou stad te wandel, met duiwe om ons heen, sal ons jou nooit vergeet nie, o mooiste, mooiste een.

Jy , waterstad met mense, wat op jou strate dryf, in bootjie huis met blommebak, en wasgoed lyn wat wys, dat jy o stad van drome, van draai orrel en lag, tot nou toe altyd rustig, vir more lê en wag.

Eendag moet jy met my mee, na Amsterdam se see, van mense en van fietse, en water in hul weë.

Amsterdam o Amsterdam, hoe kan ek ánders dink, hoe kan ek teen die prikkels skop tewyl jy vir my wink.  Terwyl jou water gragte roep, jou duiwe na my soek.   O stad van water en van see, van mense op jou weë!.

Groete
Jimmy      
© jimmy deacon weetjeda blogger. blogspot



2 comments:

  1. Ek moet nog met jou mee na die waterstad by die see

    ReplyDelete
  2. ja jy kan maar mee. net nie nou nie, nou sneeu dit spierwit!

    ReplyDelete