Search This Blog

Sunday, January 27, 2013

Karoo droom


www.weetjeda.blogspot.com

www.angazi-jimmyd.blogspot.com






















Mietjie skrik vervaard wakker as die oggend sonnetjie warm deur die kamervenster  oor haar gesig skyn. Sy maak haar moeë oë oop.
“My jitte, sê sy verbaas”  “het ek tog nie aan die slaap geraak nie?!”  Sy swaai haar bene van die yster katel af en voel die koue sementvloer onder haar kaal voete.  Sy loop na die klein kombuisie.    Die werklikheid tref haar nou eers. “Ek moes nie vanoggend weer kom lê het nie!”  Praat sy nou hard met haarself. 

Sy het vanoggend die twee dogters by die stasie afgesien.  Hulle was moeg om hier in die ou klein dorpie te sit en vergaan.  Daarom het hulle besluit om stad toe trek.  Sy vee ‘n traan uit haar oog.  Toe sy van die stasie af terugkom, het sy van moegheid so ‘n bietjie op die yster kateltjie kom lê.   

In die klein kombuisie stap sy na die hoekkassie teen die muur en haal die groot geblomde blikbeker af.  Met díe skep sy water uit die grys  emmer wat langs die kombuis deur staan.  Sy haal die piet fluit keteltjie van die houtrak af en gooi die water daarin.  Dan haal sy ‘n vuurhoutjie uit die dosie wat op die tafel lê en steek versigtig die parafien primus stofie op.  Wanner die vlam mooi sterk brand, sit sy die keteltjie op die stofie.   Toe sy omdraai en op die stoel langs die witgeskropte tafel gaan sit, onthou sy skielik! 

“My gedorie!”  Roep sy verbaas uit.  “Het ek tog nie in die kort tydjie wat ek ingesluimer het gedroom nie?!”  “Dit is nou vir jou ‘n ding!  Wanneer laas het ek gedroom?!”  Dink sy. 

Met die gesuis van die primus stofie in haar ore en die sterk parafien reuk wat in die kombuisie hang, probeer sy die droom beelde een na die ander terugroep. “dit was nou ‘n lekker droom!”  praat sy weer met haarself.

 In haar droom was sy so gelukkig !  Sy kan dit nie beskryf nie.   Dan onthou sy die onbekende mans persoon wat na haar toe aangestap gekom het.  “Dit was bietjie donker,”  dink sy terwyl sy haarself met moeite probeer inspan om die gesig van nader te kan sien. “Snaaks”  dink sy weer. “ Ek kannie die gesig so lekker uitmaak nie.    Wat ek darm wel kan onthou is die mooi glimlag om sy mondhoeke!  Dit sal my altyd by bly”  Dink sy met ‘n effense glimlag.

Terwyl sy so daar sit met ‘n vêraf uitdrukking op haar gesig, dwaal haar gedagtes onwillekeurig terug na die lekker “ou” dae, die dae toe sy só gelukkig was.  Net soos in die droom van nou!

Daar op hulle pragtige karoo plaas, Dwaalberg, het sy en Gys Lategan baie gelukkig in hulle eie wêreldjie geleef.  So tussen die droë karoo bossies het hulle met hulle dorper skape geboer.   Aanvanklik was die lewe baie goed vir haar.  “Daar was eintlik niks om oor te kla nie”  Kom dit by haar op.

 Nadat sy skool voltooi het, het sy in die dorp se poskantoor werk gekry.  Dit is daar dat sy vir Gys ontmoet het.  Sy onthou nog die dag toe sy hom die eerste keer gesien het.  Hy moes vroeër op landbou skool klaarmaak om die leisels op die plaas oor te neem.  Beide sy ouers was ‘n maand gelede tragies in ‘n motor ongeluk oorlede.  Daardie spesifieke dag het hy ingekom dorp toe om vir die eerste keer pos uit te haal.  Hy het nie ‘n posbus sleuteltjie gehad nie daarom dat sy sommer self die pos oor die toonbank vir hom gegee het.

Daardie rooikop boer was egter nie van die stadige soort nie, daarom dat dit ook nie lank geduur het voordat hulle besluit het om te trou nie.  Uit die huwelik was daar vir hulle twee dogters, Joleen en Leentjie, gebore.  Sy en Gys het nie veel uit die  lewe verwag nie.  Hulle grootste ideaal was om saam oud te word en om toe te sien dat die twee dogters ook eendag goeie mans sal vind.

Ongelukkig het die teëspoed hulle verwagtinge vroeg in hul lewe in die wiele kom ry.  Dit was terwyl Gys een oggend besig was om aan die windpomp te werk, dat die tragedie hulle getref het.  Sy voete het op die gladde nat  trap  van die windpomp gegly,en daardie oggend, terwyl die reën saggies oor die dorre aarde neergesif het, het Thys die tydelike met die ewige verwissel.

Nou het sy en die twee dogters van ses en sewe onderskeidelik,  alleen agter gebly.  Na die teraard bestelling en die lewe daarna, het dit maar moeilik gegaan.  Sy dink aan al die jong mans van die kontrei wat kastig wou kom hulp aanbied op die plaas. 
“Hulle was net agter my mooi lyfie aan,!”  dink sy.  Nadat dit egter baie duidelik geword het dat hierdie jong weduwee nie in “hulp” belang gestel het nie, het die vloei van jong manne na haar plaas stadig maar seker opgedroog.

“Miskien moes ek maar nie so koppig gewees het nie,” praat sy met haarself.
“As ek weer getrou het sou ek tien teen een nog steeds op die plaas gebly het en nie hier in die losieshuis kamertjie gesit het nie.” wonder sy.  Maar as enkel ouer het sy besluit om die leisels op die plaas self oor te neem. 

“Ja”, sê sy vir haarself.  “Die harde werk op die plaas het beslis sy tol geëis.”
Oor die jare heen het sy ‘n gedaante verwisseling ondergaan.  Die eens skraal lyfie moes plek maak vir heelwat groter nommertjies.  Om twee dogters alleen groot te maak en ook die boerdery terselfdertyd te behartig, was beslis ook nie ‘n maklike taak nie.

Daar in die dorre Karoo het die jare ook so met ‘n stok aangestap.  “Die reënval is maar skaars in hierdie deel van die land, so ongeveer een honderd milimeter reën per jaar.”  Dink sy terwyl sy vinnig kyk of die water in die keteltjie nog nie borreltjies maak nie.
 “As dit tog maar net meer gereën het!”  Sug sy.  “Dan sou ek  nie later jare van die aanhoudende droogte uitgeboer het nie!”  Sy gaan sit weer op die stoel.

 Na die veiling op die plaas waar al haar aardse besittings verkoop was om sodoende die skuld te kon dek, moes sy noodgedwonge  trek.  Met die laaste paar sente in haar sak het sy en die twee dogters in ‘n losieshuis op die dorp ingetrek. 

“Ai.” Sug sy.  “Die twee kinders het so vinnig groot geword.  Om te dink dat dit ook al weer drie jaar gelede is dat hulle van die plaas na die dorp getrek het!  Jolene was toe al dertien en Leentjie was twaalf  jaar oud.”   Omdat haar hande vir niks verkeerd gestaan het nie, kon sy darm  op die dorp ‘n werkie by die plaaslike slaghuis kry.   Sy het geweet van hoe om met vleis te werk en ook hoe om brood te bak.  Daarom dat die bakker hom later ook oor haar ontferm het.

 Sy gooi drie teelepeltjies suiker in haar koffie beker terwyl sy vir die water wag om te kook.   Met die twee inkomstetjies kon sy en die dogters darm oorleef.
Dit is veral Jolene wie nie hierdie stilsit lewe in die losieshuis kon hanteer nie,   “my arme twee kinders,” prewel sy so vir haarself.  “Wel, een of ander tyd sou dit ook maar moes kom,” dink sy.

“Já,  hier in die dorp het sy ook nou haar twee kinders  verloor!.  Die plek is so verskriklik stil sonder die twee, dit is om van gek te word,!!”  sug sy terwyl sy die suiker potjie hard op die tafel neersit.    Altwee die kinders het besluit dat daar groener weivelde in die stad was. 

Vanoggend, terwyl die ryp nog wit op die gras gelê het, het sy die twee kinders op die stasie afgesien.  Terwyl die tweetjies opgewonde deur  die kompartement se venster geloer het, het sy die groot bruin koffer aangegee.  “Leentjie, het jy die padkos”, het sy besorg gevra.   “Ja ma.....”  Lag Leentjie  uitgelate.  Sy sien hoedat die kondukteur  by die kondukteurs wa uithang en met sy rooi vlag vir die drywer waai.  Dan, met die harde gefluit en die gestoom van die vertrekkende  swart  lokomotief in haar ore, draai sy vinnig om en loop haastig  terug losieshuis toe.  Sy vee nou ‘n paar trane weg. 

“Ek sál nie omkyk nie,!”  sê sy kliphard.  Moeg en uitasem het sy by die losieshuis aangekom en traag met haar swaar lyf op die yster katel gaan lê. 

Buite het die son sy kop agter die klip koppie uitgesteek en het die ryp op die droë gras stadig begin smelt.  Alleen in haar kamertjie was sy nie daarvan bewus nie.  Die moegheid en die eensaamheid het haar oorval!

Die skril gefluit van die piet fluit op die primus stofie ruk haar  tot die werklikheid terug.  Vinnig staan sy op.  Sy haal die keteltjie van die stofie af en sit dit op die tafel neer.  Dan draai sy die stofie se dansende geel en blou vlam dood en maak vir haarself ‘n lekker sterk koppie moer koffie.  

Sy drink die koffie vinnig, sit dan die leë koffie beker in die opwas skottel en stap vinnig na die kamer deur.  Toe sy die deur agter haar toetrek en na buite stap weet sy dat sy ‘n half uur laat vir werk is.   

“Gelukkig het ek darm die verskoning van die kinders,” praat se weer met haarself terwyl sy aanstap slaghuis toe.

Die dae sleep traag verby.  Sy wens sy kon die kinders se stemme net een keer hoor.   Nou, twee maande nadat hulle met die trein vertrek het, is dit veral  die kleintjie, Leentjie, wie sy die meeste mis.  Die kind met die pragtige rooi hare en die droewige ogies!.
“Ag my Vader,”  dink sy. “ Wat sal tog van hierdie enetjie word?”
Sy kry die kind altyd so jammer. 

“Gelukkig is Jolene weer ‘n maklike mens.”  Troos sy haarself.  “Sy kan sommer gou gou met enigeen bevriend raak.”  ”Haar pa se kind, sê die mense wie vir Gys geken het altyd.” 

Met haar lang blonde hare moes die mense in die straat altyd omdraai om vir ‘n tweede keer na Joleen te staar.   In die begin kom daar gereeld pos vanaf die stad.  Uit een van die briefies verneem sy dat Jolene nou by ‘n haarkapster werk gekry het.  Leentjie en sy bly in ‘n kamertjie in ‘n losieshuis, terwyl Leentjie ook op soek is na werk.  Maar nou wil dit voorkom asof die briefies uit die stad opgedroog het.

 Vanoggend toe ontvang sy die laaste briefie.   Dit lees:
“liewe ma, ek en Leentjie vertrek volgende week met die skip na Engeland.  Vriende van my hier het vir ons twee daar werk as kinder oppassers gekry.  Moenie bekommerd wees nie.  Ons sal laat weet as ons daar is.  Ons sal onsself mooi oppas.  Liefde, Joleen.”

  “Ja, dit is haar Joleen.  Kan altyd ‘n plan maak.  Net soos haar pa was,” rol dit deur haar gedagtes.

Die maande gaan sleepvoetend verby en so breek Kersfees ook aan.  Kersfees oggend staan sy vroeg op om reg te maak vir die kerk diens. 

“Ek wonder wat dit met my is,”  dink sy terwyl sy haar hare voor die spieël agter die deur kam.  “Ek kan net nie vanoggend die snaakse droom uit my gedagtes uit kry nie.”  
Sy sien weer daardie onbekende gesig met die effense glimlaggie om die mondhoeke.  Dan spring haar gedagtes weer na die kinders. 

“Ek wonder of hulle ook vanoggend in die koue Engeland na die Kersdiens sal gaan,” dink sy as sy vir ‘n laaste maal na die droewige gesig in die spieël loer.

In haar laaste briefie skryf Jolene dat sy en Leentjie warm klere en ook  jasse moes koop.    Al gou is sy aangetrek en reg om te loop.   Die kerk is nie vêr van die losieshuis af nie.  Dit is nog redelik vroeg, daarom dat sy maar stadig aanstap. 

Met die wat sy vanoggend so vêr en diep dink, merk sy eers nie die swart motor wat aan haar regterkant stilhou nie. 

“Hiert jy!”  Skrik sy vir die motor.  Die linkerkantse deur gaan oop en ‘n mans persoon vra of sy nie wil saam ry nie.  “Ek is ook oppad kerk toe,” sê hy.  “Ja, ek ook”, sê sy terwyl sy half onseker in die motor inklim.

Sy draai haar effens skuins om te sien of sy die man wel ken.  Dan voel sy hoedat die bloed haar gesig verlaat.  “Dit is dan hy!”  “Dit is die gesig van die droom!  Daardie oë, en die effense laggie om die mondhoeke,!”  flits dit deur haar gedagtes.  Sy hoor nie hoedat die man homself aan haar bekendstel nie. 

“Voel u sleg dame?”  hoor sy hom later  vra.  “Nee, nee, stamel sy, ek dink dit is maar die bloeddruk, “ sê sy en voel skoon uitasem. 

 Stink Kerneels.   Dit is die bynaam wat die dorps mense hom gegee het.  Seker omdat hy so baie geld het dat hulle hom dié bynaam gegee het.  Stink Kerneels  is ‘n afgetrede boer en het vyf plase in die distrik gehad.  Nou het hy vir hom hier in die dorp ‘n huis kom koop. 

“Die vrou is ook al ‘n paar maande oorlede.”  So vertel hy terwyl hulle op die rooi draad stoele van die koffie winkel sit.   Hy het vir hulle koffie bestel.   
“Ek is  ook maar eensaam en geniet die geselsie”  sê hy terwyl hy senuweeagtig aan sy das trek.  “Ek sal jou darm seker weer sien!?”  sê vra hy.  Sy kon die huiwering in sy stem agterkom. 

“Ja... ja alteseker,” hoor sy haarself vinnig sê.  Stilletjies bid sy dat dit tog so moet wees.  Terwyl sy haar laaste slukkie koffie wegsluk, weet sy.  Dit ís hy!  Ja, dit is hý, die gesig van haar  droom. 

Elke namiddag kom haal Kerneels haar by die werk.  Dit het nou ‘n gewoonte geword.  
“Sal ons weer ‘n slukkie koffie gaan drink,?”  vra hy elke keer.  Dan  sit hulle weer op die koffie winkeltjie se rooi draad stoele en gesels lekker terwyl hulle koffie drink.  Na die tweede koppie koffie, ry hul na die losieshuis waar hy haar aflaai.  Wanneer die swart motor se stof om die draai verdwyn, lag sy saggies. 

“Ek weet dat jy môre weer terug sal kom,!”  “Jy móét terugkom,!”  praat sy met Kerneels, al kan hy haar nie hoor nie.

Nou is dit ook so dat Kerneels ook nie ‘n man is wat gras onder sy voete sal laat groei nie.  Terwyl hulle weer een Vrydag middag op die koffie winkeltjie se stoep sit en koffie drink, maak kerneels keel skoon. 

“Mietie,” sê hy half senuagtig.    “Ek dink dit het tyd geword dat ek en jy aan die toekoms moet begin dink”  Sy oë vonkel en hy neem nog ‘n sluk van die moer koffie voordat hy verder gaan. 

“Jy sien, die saak staan so,” sê hy terwyl hy met die teelepeltjie speel.  “Met die dat jy nou so alleen in die losieshuis bly en die kamer naas die groot huis oop is, het ek gewonder of jy nie maar jou intrek daar wil neem nie.”  “Dan kan  jy ook sommer oor die huishouding toesig hou,” voeg hy saaklik by.

“Kerneels?,” sê vra sy.  Nou wat het so ‘n getrekkery dan nou met die toekoms te doen?”  Sy voel ‘n opgewondenheid in haar opwelm.
“Nee kyk”, sê hy terwyl hy uit die koppie wat nou al leeg is probeer drink.   “Die saak staan nou so,” sê hy  meer vasberade.  “Mietie, ek wil jou permanent by my hê.”  Sy sien die glimlaggie om sy mondhoeke, net soos in die droom.

“Ja Kerneels,” hoor sy haarself saggies sê.  “Ek voel ook so.”   “Ek sal jou ook graag by my wil hê.”  Sy lag saggies.

Nou was die koeël deur die kerk.  Lank nadat Kerneels haar al by die losieshuis afgelaai het en die stof van die motor al lankal  gaan lê het, het sy nog steeds daar in die skemerte gestaan.    “Die lewe is ‘n droom!”  Sy neurie die liedjie saggies terwyl sy die deur van haar losieshuis kamer agter haar toe trek.

Vanoggend was sy lank voor die tortel duifie se geroep al op.  Sy het al haar goedjies  ingepak want Kerneels het gesê dat hy vroeg sou kom.  Presies om sewe uur hou Kerneels met die swart motor voor die losieshuis stil 

“Goeie môre Kerneels!  Roep sy opgewonde uit en gee hom sommer ‘n klapsoen op die mond. 

“Mensig”, roep hy verbaas uit en bloos bloedrooi.  Dit het hy sowaar nie verwag nie!
 Nadat sy haar karige besittings in die kattebak van die motor gelaai het, loop sy  vir oulaas deur die kamer met sy klein kombuisie.  Dan sluit sy die deur van die kamer en draf stap vinnig om die huis tot by die kafee.  Met ‘n opgewekte “goeie môre,” gee sy die sleutel van die kamer by die kafee eienaar af.

Daardie aand sit hulle nie op die koffie winkeltjie se grys stoep en koffie drink nie. 
“O, hoe pragtig is die ou geelhout meubels nie,!  roep sy uit toe hulle die voorhuis van die ou herehuis binnestap.  Sy verwonder haar aan die Pierneef skilderye teen die muur.  “Ek  is versot op Tretchikof,!”  roep sy saggies uit as sy  die bekende olieverf skildery  bokant die kaggel gewaar. 

 Die bediende het vir hulle heerlike boere kos gekook.  Na ete gaan sit sy en Kerneels buite op die groot rooi gepoleerde sement stoep  “Kerneels,” sê sy byna onhoorbaar...  terwyl ‘n Koel aand luggie saggies tussen die druiwe prieël  deurwaai.  Kerneels kyk na haar en die nou bekende glimlaggie speel om sy mondhoeke.  “Sjjjt,!”  sê hy saggies.  “Luister na die kriekies daar onder by die vlei.” 

Met haar gedagtes wat holderstebolder  rondspring, sit sy met ‘n glimlag op haar gesig en luister.  Dit was al ná  tien uur toe sy nag sê en na haar stoep kamer stap  . Sy trek die deur saggies agter haar toe.  Haar kers het sy al lankal doodgeblaas maar die slaap wil net nie vannaand kom nie.  Daar in haar sagte bed met die massiewe embuia hout kopstuk, lê sy en planne maak.   In die donkerte van die nag  neem sy ‘n besluit wat haar lewe sou omkeer. 
“Van môre af gaan ek my ou liggaam weer tergkry,!”  belowe sy haarself en draai om op haar sy om te slaap.

Ietwat huiwerig, terwyl hulle weer die volgende aand op die stoep sit, bespreek sy haar nuwe voorneme met kerneels.  Hy is in die wolke.  “Sodra jy in my oorle Kate se aandrok kan inpas, trou ons!”  roep hy hard en gelate uit.

 Sy en Kerneels stap nou elke aand vêr ente en sy maak seker dat sy reg eet.  Eindelik breek die dag aan en sy kan al “aanpas”.   Na nog bykans ses maande “fit” sy.  Sy draai om en om en verwonder haar aan die beeld in die lang spieël.

Kersfees oggend sit sy en Kerneels weer langs mekaar in die groot ou klipkerk.  Sy met ‘n glimlag op haar gesig, hy merkbaar gespanne.  Haar hand klem sy hand vaster terwyl die dominee  die laaste van die huweliks gebooie van Kerneels Stenekamp en Mietie Lategan lees.

“Ek het vanmiddag ons boot kaartjies gekoop.”  Kondig Kerneels die aand by  die eetkamer tafel aan.  “Oor twee weke vertrek ons op ons “honeymoon” na Engeland.”  Sê hy en glimlag vir haar.   As deel van die “honeymoon,” sal hulle ook die kinders besoek.  Jolene is intussen met ‘n apteker daar in die vreemde getroud.  Leentjie sal saam met hulle terug kom.  Huis toe.

Sy wou nie vanmiddag hê dat Leentjie of Kerneels saam met haar na Dwaalpoort moes ry nie.  Sy wil alleen afskeid neem.    

Daar by  die half vervalle graf, so tussen die karoo bossies, praat sy saggies met Gys. 
“Jy hoef jou nie meer te bekommer nie,” prewel sy.  “Die blommetjies is net om dankie te sê.”  Sy vee ‘n traan uit haar linker oog. 

Wanneer die  son water trek en die lang skadus van die paar regop sipres bome rondom die graf gereed maak om te gaan slaap, stap sy stadig terug na die blou Dodge wat kerneels vir haar gekoop het.   Sy kyk nog eenmaal om.  “Nag Gys,” sê sy.  Dan klim sy in die motor, skakel dit aan en ry stadig, te stadig, deur die stukkende ou draad plaashek en verby die ou opstal, terug huis toe.   Agter haar lê Dwaalpoort, maar voor haar strek ‘n splinter nuwe lewe tot by die groot ou herehuis.... en daarna.  Haar nuwe droom lewe het uiteindelik  aangebreek!

Naskrif:
Mevrou Mietie Stenekamp was later jare die voorsitster van die  Christelike vroue vereniging op die dorp.  Sy en Leentjie, nou ook mevrou Leentjie Pieterse, het ook fiksheids klasse vir die vrouens van die dorp aangebied.

Mietie se pragtige glimlag was altyd aansteeklik.  Sy het ‘n mooi woordjie vir ieder en elk gehad terwyl haar altyd helpende hand in menigte behoefte vervul het.  

Die les wat ons uit hierdie verhaaltjie kan leer is:  Moenie dat die lewe jou onder kry nie, droom altyd – en hou vas aan jou drome, die hoop beskaam nooit  nie en, ONTHOU WAARVANDAAN JY KOM.

  ©Kopiereg weetjeda blogger @blogspot 26/01/2013

2 comments: