www.weetjeda.blogspot.com
e-pos jimmydeacon@yahoo.com
Nommer twee
My verhaal speel af in die jaar 1961.
Ons het in Upington, ‘n dorpie daar vêr in die warm Noord Kaap
gebly. Ek was ‘n skolier aan die laerskool Oranje Noord en
was op daardie stadium in Standerd drie.
Ons het nie binne in die sakegebied van die dorp gebly
nie, maar in Middelpos, een van die woongebiede so plus minus vier kilometer buite die dorp op pad na Olifantshoek.
Saterdag oggende het ek en my jongste broertjie Andrew,
gewoonlik saam met my pa dorp toe
gery. My pa het as verkoopsbestuurder
vir die Britse Singer naaimasjien maatskappy, Bourne & company, gewerk.
Dit was altyd vir ons twee ‘n groot ondervinding om op ‘n
Saterdag oggend in die dorp te kon wees.
Daar in die dorp aangekom het ons baie gou die strate ingevaar. Ons het gewoonlik ‘n draai by Tiekie Bazaar gemaak,
daar het ons onsself altyd verwonder aan die pragtige speelgoed, ek onthou nog
alles was “made in Japan.” Dan was daar ook
oom Goosen se Algemene Handelshuis waar die boks mannetjies was. Dit was twee blik mannetjies in ‘n bokskryt
van blik wat begin boks het nadat dit opgewen was. Partymaal as oom Goosen ons gewaar het, het hy vir ons die boks
mannetjies opgewen sodat hulle kan boks.
Een spesifieke plek wat ons graag besoek het was die afslaer se winkel. Daardie plek was ‘n ontdekkers paradys. Tussen al die meubels, gereedskap, implimente
en dies meer het daar ook baie kartondose op die grys sement vloer rondgestaan. Binne in hierdie kartondose was daar ‘n
mengelmoes van goed. Dit was soos ‘n
“lucky packet”. Niemand het ooit regtig
geweet wat alles daarin was nie. As die
afslaer die bod op een van hierdie kartondose toegeslaan het, het daar altyd ‘n gelag opgeklink van die
omstanders as die afslaer dan grapsgewys
gesê het dat die persoon wat dié kartondoos gekoop het, maar by die huis moet gaan kyk watse “rubbish”
hy daarin gekry het.
Terwyl ek en Andrew so tussen die rommel deur snuffel, sien
ek dit raak! Half weggesteek tussen al
die kartonne op ‘n rak teen die wit afgeskilferde muur, was daar ‘n kleinerige
maar veelkleurige karton- dosie met ‘n prenjie van ‘n speelgoed treintjie daarop! Sukkelend skuur ek by ‘n stapel ou stowwerige boeke verby, en
bereik dan my vonds. Ek kon my oë nie
glo nie. ‘n Egte blik treintjie met
spore en al en dit kon met ‘n sleuteltjie opgewen word! Dit was wat ek nog altyd wou gehad het!
Bewerig steek ek my hand uit en haal die kartondosie van die rak af. Vlugtig merk ek die afslaer skuins agter my
op. “Hou jy daarvan”? Vra hy.
Ek glimlag skaam vir hom. “Dan
moet jy Saterdag daarop kom bie”, sê hy, en lag skalks. “Ja oom”, sê ek. Half onwillig plaas ek my vonds terug op die
rak. “Sal so maak oom”, sê ek weer. Opgewonde hardloop ek en Andrew die gebou
uit. Sonder om enigsens te twyfel het ek
daardie Saterdag oggend geweet dat daardie treintjie myne sou word.
Terug by die huis daardie middag, kon ek en Andrew net nie
uitgepraat raak oor die opwen blik treintjie met spore en al nie. Min het ek geweet hoe lank dit gaan neem vir
die volgende paar dae om verby te gaan.
Die dag van die veiling
Ek was vroeg wakker. Op‘n Saterdag
oggend was dit nie nodig om so vroeg soos gedurende die week op te staan
nie. Dan het ek altyd in my bed bly lê
en vir die eerste sonstrale gewag om deur my kamervenster en oor die “pink” laaikas
te skyn. Honderde silwer stofdeeltjies
het dan op en neer in die sonstrale rondgedans.
Toe ek klein was het my ma altyd vir my gesê dat dit feetjies was wat so
in die sonlig gedans het.
Maar daardie Saterdag oggend was ek al lank voor die silwer
feetjies uit my bed. Andrew was ook al
wakker. Ons twee het ‘n kamer gedeel.
Tyd vir draaie loop was daar nie daardie oggend nie. Met ons aankoms by die afslaer se winkel was
daar alreeds ‘n paar ooms wat pyp in die mond deur die goed wat opgeveil gaan
word gesuffel het. Met Andrew agter my
aan is ons twee die winkel binne. Nou
het dit heel anders gelyk. Die goed was
nie meer so deurmekaar gepak nie en die
kartondosie met die opwen treintjie het nou redelik voor in die winkel op ‘n
groot hout eetkamer tafel tussen stapels boeke en ander rommel gestaan.
Meer ooms en ook ‘n paar tannies het begin opdaag. Die veiling sou om nege uur begin. Ek was baie benoud toe een tannie die kartondosie met die opwen treinjie optel, aandagtig daarna kyk, en dit toe weer
versigtig terugsit. So asof sy daaraan
gedink het om self daarvoor te bie.
Eindelik het die afslaer se harde stem weerklink. Die veiling het begin. Ek het die blink vyftig sent stuk in my regter
hand stywer vasgeklou. ‘n Ou hout bed
sonder ‘n matras was eerste onder die hamer.
“Ek het twee rand, twee rand, twee rand, wie sê drie rand” ? “Drie rand het ek, drie rand, drie rand, drie
rand, wie se ses rand”? En so word die
ou bed uiteindelik vir agt rand verkoop.
‘n Trap orrel was volgende aan
die beurt en word vir twaalf rand verkoop.
Daarna volg ‘n yskas, ‘n stoof en ‘n paar kartondose met wie weet wat daarin.
Daar was nou al soveel mense rondom ons dat dit moeilik
was om tussen almal deur die treintjie in die oog te hou. Dan, ewe skielik gryp die afslaer die kartondosie
en hou dit met die een hand hoog in die lug, so asof hy bedoel het dat ons dit
ook moes kon sien. “Dames en here”, bulder
hy dit uit, “wie gaan vir my ‘n bod vir hierdie prágtige speelgoed treinjie gee”?
Sonder om te dink en asof ek en Andrew die enigste twee
mense daar in die bedompige met rook gevulde afslaers gebou tussen al die grootmense
is, roep ek hard uit. “Vyftig sent”! Daar was ‘n oomblik van stilte. Dan begin daar ‘n harde gelag opklink van die
verbaasde ooms rondom ons, maar op daardie oomblik was dit net ek en die
opwen treinjie wat saak gemaak het. “Vyftig
sent het ek, vyftig sent het ek, vir die eerste maal, vir die tweeeede maal,
vir die dérde maal”! Bulder die afslaer
dit uit. “Daardie seun daar in die hoek,
dit is joune”!
Nadat ek my vyftig
sent betaal het en glad vergeet het om vir die oom dankie te sê, was daar weer
nie daardie oggend tyd vir draaie loop in die dorp nie. Ons het ook nie eers vir ons pa gewag om
daardie middag saam met hom terug huis toe te ry nie. So vinnig as wat ons dun beentjies ons kon
dra, het ons twee die kilometers afgedraf huis toe.
By die huis aangekom sou ons beurte maak om
die blik treinjie op te wen sodat dit op die swart spoortjies kon loop. In ons verbeelding sou ons met dié blik treintjie
oor die groot rooi geverfde yster treinbrug oor die bruin waters van die Oranjerivier rammel, terwyl die swart rook
gelate by die blik skoorsteentjie uit borrel.
Ons sou verbeeldings plekke wat ons nie van geweet het nie besoek. Maar vir ons twee sou dit nie meer
verbeelding wees nie, want hierdie was ‘n régte égte opwen blik treintjie. Een wat ook spore gehad het om op te
loop. So het ons twee daardie dag ooreen
gekom.
So mooi storie my oompie!
ReplyDeleteDankie Rika, ek's bly jy hou daarvan. Lekker aand
ReplyDelete