Search This Blog

Sunday, January 27, 2013

Karoo droom


www.weetjeda.blogspot.com

www.angazi-jimmyd.blogspot.com






















Mietjie skrik vervaard wakker as die oggend sonnetjie warm deur die kamervenster  oor haar gesig skyn. Sy maak haar moeë oë oop.
“My jitte, sê sy verbaas”  “het ek tog nie aan die slaap geraak nie?!”  Sy swaai haar bene van die yster katel af en voel die koue sementvloer onder haar kaal voete.  Sy loop na die klein kombuisie.    Die werklikheid tref haar nou eers. “Ek moes nie vanoggend weer kom lê het nie!”  Praat sy nou hard met haarself. 

Sy het vanoggend die twee dogters by die stasie afgesien.  Hulle was moeg om hier in die ou klein dorpie te sit en vergaan.  Daarom het hulle besluit om stad toe trek.  Sy vee ‘n traan uit haar oog.  Toe sy van die stasie af terugkom, het sy van moegheid so ‘n bietjie op die yster kateltjie kom lê.   

In die klein kombuisie stap sy na die hoekkassie teen die muur en haal die groot geblomde blikbeker af.  Met díe skep sy water uit die grys  emmer wat langs die kombuis deur staan.  Sy haal die piet fluit keteltjie van die houtrak af en gooi die water daarin.  Dan haal sy ‘n vuurhoutjie uit die dosie wat op die tafel lê en steek versigtig die parafien primus stofie op.  Wanner die vlam mooi sterk brand, sit sy die keteltjie op die stofie.   Toe sy omdraai en op die stoel langs die witgeskropte tafel gaan sit, onthou sy skielik! 

“My gedorie!”  Roep sy verbaas uit.  “Het ek tog nie in die kort tydjie wat ek ingesluimer het gedroom nie?!”  “Dit is nou vir jou ‘n ding!  Wanneer laas het ek gedroom?!”  Dink sy. 

Met die gesuis van die primus stofie in haar ore en die sterk parafien reuk wat in die kombuisie hang, probeer sy die droom beelde een na die ander terugroep. “dit was nou ‘n lekker droom!”  praat sy weer met haarself.

 In haar droom was sy so gelukkig !  Sy kan dit nie beskryf nie.   Dan onthou sy die onbekende mans persoon wat na haar toe aangestap gekom het.  “Dit was bietjie donker,”  dink sy terwyl sy haarself met moeite probeer inspan om die gesig van nader te kan sien. “Snaaks”  dink sy weer. “ Ek kannie die gesig so lekker uitmaak nie.    Wat ek darm wel kan onthou is die mooi glimlag om sy mondhoeke!  Dit sal my altyd by bly”  Dink sy met ‘n effense glimlag.

Terwyl sy so daar sit met ‘n vêraf uitdrukking op haar gesig, dwaal haar gedagtes onwillekeurig terug na die lekker “ou” dae, die dae toe sy só gelukkig was.  Net soos in die droom van nou!

Daar op hulle pragtige karoo plaas, Dwaalberg, het sy en Gys Lategan baie gelukkig in hulle eie wêreldjie geleef.  So tussen die droë karoo bossies het hulle met hulle dorper skape geboer.   Aanvanklik was die lewe baie goed vir haar.  “Daar was eintlik niks om oor te kla nie”  Kom dit by haar op.

 Nadat sy skool voltooi het, het sy in die dorp se poskantoor werk gekry.  Dit is daar dat sy vir Gys ontmoet het.  Sy onthou nog die dag toe sy hom die eerste keer gesien het.  Hy moes vroeër op landbou skool klaarmaak om die leisels op die plaas oor te neem.  Beide sy ouers was ‘n maand gelede tragies in ‘n motor ongeluk oorlede.  Daardie spesifieke dag het hy ingekom dorp toe om vir die eerste keer pos uit te haal.  Hy het nie ‘n posbus sleuteltjie gehad nie daarom dat sy sommer self die pos oor die toonbank vir hom gegee het.

Daardie rooikop boer was egter nie van die stadige soort nie, daarom dat dit ook nie lank geduur het voordat hulle besluit het om te trou nie.  Uit die huwelik was daar vir hulle twee dogters, Joleen en Leentjie, gebore.  Sy en Gys het nie veel uit die  lewe verwag nie.  Hulle grootste ideaal was om saam oud te word en om toe te sien dat die twee dogters ook eendag goeie mans sal vind.

Ongelukkig het die teëspoed hulle verwagtinge vroeg in hul lewe in die wiele kom ry.  Dit was terwyl Gys een oggend besig was om aan die windpomp te werk, dat die tragedie hulle getref het.  Sy voete het op die gladde nat  trap  van die windpomp gegly,en daardie oggend, terwyl die reën saggies oor die dorre aarde neergesif het, het Thys die tydelike met die ewige verwissel.

Nou het sy en die twee dogters van ses en sewe onderskeidelik,  alleen agter gebly.  Na die teraard bestelling en die lewe daarna, het dit maar moeilik gegaan.  Sy dink aan al die jong mans van die kontrei wat kastig wou kom hulp aanbied op die plaas. 
“Hulle was net agter my mooi lyfie aan,!”  dink sy.  Nadat dit egter baie duidelik geword het dat hierdie jong weduwee nie in “hulp” belang gestel het nie, het die vloei van jong manne na haar plaas stadig maar seker opgedroog.

“Miskien moes ek maar nie so koppig gewees het nie,” praat sy met haarself.
“As ek weer getrou het sou ek tien teen een nog steeds op die plaas gebly het en nie hier in die losieshuis kamertjie gesit het nie.” wonder sy.  Maar as enkel ouer het sy besluit om die leisels op die plaas self oor te neem. 

“Ja”, sê sy vir haarself.  “Die harde werk op die plaas het beslis sy tol geëis.”
Oor die jare heen het sy ‘n gedaante verwisseling ondergaan.  Die eens skraal lyfie moes plek maak vir heelwat groter nommertjies.  Om twee dogters alleen groot te maak en ook die boerdery terselfdertyd te behartig, was beslis ook nie ‘n maklike taak nie.

Daar in die dorre Karoo het die jare ook so met ‘n stok aangestap.  “Die reënval is maar skaars in hierdie deel van die land, so ongeveer een honderd milimeter reën per jaar.”  Dink sy terwyl sy vinnig kyk of die water in die keteltjie nog nie borreltjies maak nie.
 “As dit tog maar net meer gereën het!”  Sug sy.  “Dan sou ek  nie later jare van die aanhoudende droogte uitgeboer het nie!”  Sy gaan sit weer op die stoel.

 Na die veiling op die plaas waar al haar aardse besittings verkoop was om sodoende die skuld te kon dek, moes sy noodgedwonge  trek.  Met die laaste paar sente in haar sak het sy en die twee dogters in ‘n losieshuis op die dorp ingetrek. 

“Ai.” Sug sy.  “Die twee kinders het so vinnig groot geword.  Om te dink dat dit ook al weer drie jaar gelede is dat hulle van die plaas na die dorp getrek het!  Jolene was toe al dertien en Leentjie was twaalf  jaar oud.”   Omdat haar hande vir niks verkeerd gestaan het nie, kon sy darm  op die dorp ‘n werkie by die plaaslike slaghuis kry.   Sy het geweet van hoe om met vleis te werk en ook hoe om brood te bak.  Daarom dat die bakker hom later ook oor haar ontferm het.

 Sy gooi drie teelepeltjies suiker in haar koffie beker terwyl sy vir die water wag om te kook.   Met die twee inkomstetjies kon sy en die dogters darm oorleef.
Dit is veral Jolene wie nie hierdie stilsit lewe in die losieshuis kon hanteer nie,   “my arme twee kinders,” prewel sy so vir haarself.  “Wel, een of ander tyd sou dit ook maar moes kom,” dink sy.

“Já,  hier in die dorp het sy ook nou haar twee kinders  verloor!.  Die plek is so verskriklik stil sonder die twee, dit is om van gek te word,!!”  sug sy terwyl sy die suiker potjie hard op die tafel neersit.    Altwee die kinders het besluit dat daar groener weivelde in die stad was. 

Vanoggend, terwyl die ryp nog wit op die gras gelê het, het sy die twee kinders op die stasie afgesien.  Terwyl die tweetjies opgewonde deur  die kompartement se venster geloer het, het sy die groot bruin koffer aangegee.  “Leentjie, het jy die padkos”, het sy besorg gevra.   “Ja ma.....”  Lag Leentjie  uitgelate.  Sy sien hoedat die kondukteur  by die kondukteurs wa uithang en met sy rooi vlag vir die drywer waai.  Dan, met die harde gefluit en die gestoom van die vertrekkende  swart  lokomotief in haar ore, draai sy vinnig om en loop haastig  terug losieshuis toe.  Sy vee nou ‘n paar trane weg. 

“Ek sál nie omkyk nie,!”  sê sy kliphard.  Moeg en uitasem het sy by die losieshuis aangekom en traag met haar swaar lyf op die yster katel gaan lê. 

Buite het die son sy kop agter die klip koppie uitgesteek en het die ryp op die droë gras stadig begin smelt.  Alleen in haar kamertjie was sy nie daarvan bewus nie.  Die moegheid en die eensaamheid het haar oorval!

Die skril gefluit van die piet fluit op die primus stofie ruk haar  tot die werklikheid terug.  Vinnig staan sy op.  Sy haal die keteltjie van die stofie af en sit dit op die tafel neer.  Dan draai sy die stofie se dansende geel en blou vlam dood en maak vir haarself ‘n lekker sterk koppie moer koffie.  

Sy drink die koffie vinnig, sit dan die leë koffie beker in die opwas skottel en stap vinnig na die kamer deur.  Toe sy die deur agter haar toetrek en na buite stap weet sy dat sy ‘n half uur laat vir werk is.   

“Gelukkig het ek darm die verskoning van die kinders,” praat se weer met haarself terwyl sy aanstap slaghuis toe.

Die dae sleep traag verby.  Sy wens sy kon die kinders se stemme net een keer hoor.   Nou, twee maande nadat hulle met die trein vertrek het, is dit veral  die kleintjie, Leentjie, wie sy die meeste mis.  Die kind met die pragtige rooi hare en die droewige ogies!.
“Ag my Vader,”  dink sy. “ Wat sal tog van hierdie enetjie word?”
Sy kry die kind altyd so jammer. 

“Gelukkig is Jolene weer ‘n maklike mens.”  Troos sy haarself.  “Sy kan sommer gou gou met enigeen bevriend raak.”  ”Haar pa se kind, sê die mense wie vir Gys geken het altyd.” 

Met haar lang blonde hare moes die mense in die straat altyd omdraai om vir ‘n tweede keer na Joleen te staar.   In die begin kom daar gereeld pos vanaf die stad.  Uit een van die briefies verneem sy dat Jolene nou by ‘n haarkapster werk gekry het.  Leentjie en sy bly in ‘n kamertjie in ‘n losieshuis, terwyl Leentjie ook op soek is na werk.  Maar nou wil dit voorkom asof die briefies uit die stad opgedroog het.

 Vanoggend toe ontvang sy die laaste briefie.   Dit lees:
“liewe ma, ek en Leentjie vertrek volgende week met die skip na Engeland.  Vriende van my hier het vir ons twee daar werk as kinder oppassers gekry.  Moenie bekommerd wees nie.  Ons sal laat weet as ons daar is.  Ons sal onsself mooi oppas.  Liefde, Joleen.”

  “Ja, dit is haar Joleen.  Kan altyd ‘n plan maak.  Net soos haar pa was,” rol dit deur haar gedagtes.

Die maande gaan sleepvoetend verby en so breek Kersfees ook aan.  Kersfees oggend staan sy vroeg op om reg te maak vir die kerk diens. 

“Ek wonder wat dit met my is,”  dink sy terwyl sy haar hare voor die spieël agter die deur kam.  “Ek kan net nie vanoggend die snaakse droom uit my gedagtes uit kry nie.”  
Sy sien weer daardie onbekende gesig met die effense glimlaggie om die mondhoeke.  Dan spring haar gedagtes weer na die kinders. 

“Ek wonder of hulle ook vanoggend in die koue Engeland na die Kersdiens sal gaan,” dink sy as sy vir ‘n laaste maal na die droewige gesig in die spieël loer.

In haar laaste briefie skryf Jolene dat sy en Leentjie warm klere en ook  jasse moes koop.    Al gou is sy aangetrek en reg om te loop.   Die kerk is nie vêr van die losieshuis af nie.  Dit is nog redelik vroeg, daarom dat sy maar stadig aanstap. 

Met die wat sy vanoggend so vêr en diep dink, merk sy eers nie die swart motor wat aan haar regterkant stilhou nie. 

“Hiert jy!”  Skrik sy vir die motor.  Die linkerkantse deur gaan oop en ‘n mans persoon vra of sy nie wil saam ry nie.  “Ek is ook oppad kerk toe,” sê hy.  “Ja, ek ook”, sê sy terwyl sy half onseker in die motor inklim.

Sy draai haar effens skuins om te sien of sy die man wel ken.  Dan voel sy hoedat die bloed haar gesig verlaat.  “Dit is dan hy!”  “Dit is die gesig van die droom!  Daardie oë, en die effense laggie om die mondhoeke,!”  flits dit deur haar gedagtes.  Sy hoor nie hoedat die man homself aan haar bekendstel nie. 

“Voel u sleg dame?”  hoor sy hom later  vra.  “Nee, nee, stamel sy, ek dink dit is maar die bloeddruk, “ sê sy en voel skoon uitasem. 

 Stink Kerneels.   Dit is die bynaam wat die dorps mense hom gegee het.  Seker omdat hy so baie geld het dat hulle hom dié bynaam gegee het.  Stink Kerneels  is ‘n afgetrede boer en het vyf plase in die distrik gehad.  Nou het hy vir hom hier in die dorp ‘n huis kom koop. 

“Die vrou is ook al ‘n paar maande oorlede.”  So vertel hy terwyl hulle op die rooi draad stoele van die koffie winkel sit.   Hy het vir hulle koffie bestel.   
“Ek is  ook maar eensaam en geniet die geselsie”  sê hy terwyl hy senuweeagtig aan sy das trek.  “Ek sal jou darm seker weer sien!?”  sê vra hy.  Sy kon die huiwering in sy stem agterkom. 

“Ja... ja alteseker,” hoor sy haarself vinnig sê.  Stilletjies bid sy dat dit tog so moet wees.  Terwyl sy haar laaste slukkie koffie wegsluk, weet sy.  Dit ís hy!  Ja, dit is hý, die gesig van haar  droom. 

Elke namiddag kom haal Kerneels haar by die werk.  Dit het nou ‘n gewoonte geword.  
“Sal ons weer ‘n slukkie koffie gaan drink,?”  vra hy elke keer.  Dan  sit hulle weer op die koffie winkeltjie se rooi draad stoele en gesels lekker terwyl hulle koffie drink.  Na die tweede koppie koffie, ry hul na die losieshuis waar hy haar aflaai.  Wanneer die swart motor se stof om die draai verdwyn, lag sy saggies. 

“Ek weet dat jy môre weer terug sal kom,!”  “Jy móét terugkom,!”  praat sy met Kerneels, al kan hy haar nie hoor nie.

Nou is dit ook so dat Kerneels ook nie ‘n man is wat gras onder sy voete sal laat groei nie.  Terwyl hulle weer een Vrydag middag op die koffie winkeltjie se stoep sit en koffie drink, maak kerneels keel skoon. 

“Mietie,” sê hy half senuagtig.    “Ek dink dit het tyd geword dat ek en jy aan die toekoms moet begin dink”  Sy oë vonkel en hy neem nog ‘n sluk van die moer koffie voordat hy verder gaan. 

“Jy sien, die saak staan so,” sê hy terwyl hy met die teelepeltjie speel.  “Met die dat jy nou so alleen in die losieshuis bly en die kamer naas die groot huis oop is, het ek gewonder of jy nie maar jou intrek daar wil neem nie.”  “Dan kan  jy ook sommer oor die huishouding toesig hou,” voeg hy saaklik by.

“Kerneels?,” sê vra sy.  Nou wat het so ‘n getrekkery dan nou met die toekoms te doen?”  Sy voel ‘n opgewondenheid in haar opwelm.
“Nee kyk”, sê hy terwyl hy uit die koppie wat nou al leeg is probeer drink.   “Die saak staan nou so,” sê hy  meer vasberade.  “Mietie, ek wil jou permanent by my hê.”  Sy sien die glimlaggie om sy mondhoeke, net soos in die droom.

“Ja Kerneels,” hoor sy haarself saggies sê.  “Ek voel ook so.”   “Ek sal jou ook graag by my wil hê.”  Sy lag saggies.

Nou was die koeël deur die kerk.  Lank nadat Kerneels haar al by die losieshuis afgelaai het en die stof van die motor al lankal  gaan lê het, het sy nog steeds daar in die skemerte gestaan.    “Die lewe is ‘n droom!”  Sy neurie die liedjie saggies terwyl sy die deur van haar losieshuis kamer agter haar toe trek.

Vanoggend was sy lank voor die tortel duifie se geroep al op.  Sy het al haar goedjies  ingepak want Kerneels het gesê dat hy vroeg sou kom.  Presies om sewe uur hou Kerneels met die swart motor voor die losieshuis stil 

“Goeie môre Kerneels!  Roep sy opgewonde uit en gee hom sommer ‘n klapsoen op die mond. 

“Mensig”, roep hy verbaas uit en bloos bloedrooi.  Dit het hy sowaar nie verwag nie!
 Nadat sy haar karige besittings in die kattebak van die motor gelaai het, loop sy  vir oulaas deur die kamer met sy klein kombuisie.  Dan sluit sy die deur van die kamer en draf stap vinnig om die huis tot by die kafee.  Met ‘n opgewekte “goeie môre,” gee sy die sleutel van die kamer by die kafee eienaar af.

Daardie aand sit hulle nie op die koffie winkeltjie se grys stoep en koffie drink nie. 
“O, hoe pragtig is die ou geelhout meubels nie,!  roep sy uit toe hulle die voorhuis van die ou herehuis binnestap.  Sy verwonder haar aan die Pierneef skilderye teen die muur.  “Ek  is versot op Tretchikof,!”  roep sy saggies uit as sy  die bekende olieverf skildery  bokant die kaggel gewaar. 

 Die bediende het vir hulle heerlike boere kos gekook.  Na ete gaan sit sy en Kerneels buite op die groot rooi gepoleerde sement stoep  “Kerneels,” sê sy byna onhoorbaar...  terwyl ‘n Koel aand luggie saggies tussen die druiwe prieël  deurwaai.  Kerneels kyk na haar en die nou bekende glimlaggie speel om sy mondhoeke.  “Sjjjt,!”  sê hy saggies.  “Luister na die kriekies daar onder by die vlei.” 

Met haar gedagtes wat holderstebolder  rondspring, sit sy met ‘n glimlag op haar gesig en luister.  Dit was al ná  tien uur toe sy nag sê en na haar stoep kamer stap  . Sy trek die deur saggies agter haar toe.  Haar kers het sy al lankal doodgeblaas maar die slaap wil net nie vannaand kom nie.  Daar in haar sagte bed met die massiewe embuia hout kopstuk, lê sy en planne maak.   In die donkerte van die nag  neem sy ‘n besluit wat haar lewe sou omkeer. 
“Van môre af gaan ek my ou liggaam weer tergkry,!”  belowe sy haarself en draai om op haar sy om te slaap.

Ietwat huiwerig, terwyl hulle weer die volgende aand op die stoep sit, bespreek sy haar nuwe voorneme met kerneels.  Hy is in die wolke.  “Sodra jy in my oorle Kate se aandrok kan inpas, trou ons!”  roep hy hard en gelate uit.

 Sy en Kerneels stap nou elke aand vêr ente en sy maak seker dat sy reg eet.  Eindelik breek die dag aan en sy kan al “aanpas”.   Na nog bykans ses maande “fit” sy.  Sy draai om en om en verwonder haar aan die beeld in die lang spieël.

Kersfees oggend sit sy en Kerneels weer langs mekaar in die groot ou klipkerk.  Sy met ‘n glimlag op haar gesig, hy merkbaar gespanne.  Haar hand klem sy hand vaster terwyl die dominee  die laaste van die huweliks gebooie van Kerneels Stenekamp en Mietie Lategan lees.

“Ek het vanmiddag ons boot kaartjies gekoop.”  Kondig Kerneels die aand by  die eetkamer tafel aan.  “Oor twee weke vertrek ons op ons “honeymoon” na Engeland.”  Sê hy en glimlag vir haar.   As deel van die “honeymoon,” sal hulle ook die kinders besoek.  Jolene is intussen met ‘n apteker daar in die vreemde getroud.  Leentjie sal saam met hulle terug kom.  Huis toe.

Sy wou nie vanmiddag hê dat Leentjie of Kerneels saam met haar na Dwaalpoort moes ry nie.  Sy wil alleen afskeid neem.    

Daar by  die half vervalle graf, so tussen die karoo bossies, praat sy saggies met Gys. 
“Jy hoef jou nie meer te bekommer nie,” prewel sy.  “Die blommetjies is net om dankie te sê.”  Sy vee ‘n traan uit haar linker oog. 

Wanneer die  son water trek en die lang skadus van die paar regop sipres bome rondom die graf gereed maak om te gaan slaap, stap sy stadig terug na die blou Dodge wat kerneels vir haar gekoop het.   Sy kyk nog eenmaal om.  “Nag Gys,” sê sy.  Dan klim sy in die motor, skakel dit aan en ry stadig, te stadig, deur die stukkende ou draad plaashek en verby die ou opstal, terug huis toe.   Agter haar lê Dwaalpoort, maar voor haar strek ‘n splinter nuwe lewe tot by die groot ou herehuis.... en daarna.  Haar nuwe droom lewe het uiteindelik  aangebreek!

Naskrif:
Mevrou Mietie Stenekamp was later jare die voorsitster van die  Christelike vroue vereniging op die dorp.  Sy en Leentjie, nou ook mevrou Leentjie Pieterse, het ook fiksheids klasse vir die vrouens van die dorp aangebied.

Mietie se pragtige glimlag was altyd aansteeklik.  Sy het ‘n mooi woordjie vir ieder en elk gehad terwyl haar altyd helpende hand in menigte behoefte vervul het.  

Die les wat ons uit hierdie verhaaltjie kan leer is:  Moenie dat die lewe jou onder kry nie, droom altyd – en hou vas aan jou drome, die hoop beskaam nooit  nie en, ONTHOU WAARVANDAAN JY KOM.

  ©Kopiereg weetjeda blogger @blogspot 26/01/2013

Saturday, January 19, 2013

Die opwen blik treintjie







www.weetjeda.blogspot.com 




                e-pos                                                           jimmydeacon@yahoo.com
Nommer twee
My verhaal speel af in die jaar 1961.  Ons het in Upington, ‘n dorpie daar vêr in die warm Noord Kaap gebly.  Ek was  ‘n skolier aan die laerskool Oranje Noord en was op daardie stadium in Standerd drie.  Ons het nie binne in die sakegebied van die dorp  gebly nie,  maar in Middelpos,  een van die woongebiede so  plus minus vier  kilometer  buite die dorp op  pad na Olifantshoek.

Saterdag oggende het ek en my jongste broertjie Andrew, gewoonlik  saam met my pa dorp toe gery.  My pa het as verkoopsbestuurder vir die Britse Singer naaimasjien maatskappy,  Bourne & company,   gewerk.

Dit was altyd vir ons twee ‘n groot ondervinding om op ‘n Saterdag oggend in die dorp te kon wees.  Daar in die dorp aangekom het ons baie gou die strate ingevaar.  Ons het gewoonlik ‘n draai by Tiekie Bazaar gemaak, daar het ons onsself altyd verwonder aan die pragtige speelgoed, ek onthou nog alles was “made in Japan.”  Dan was daar ook oom Goosen se Algemene Handelshuis waar die boks mannetjies was.  Dit was twee blik mannetjies in ‘n bokskryt van blik wat begin boks het nadat dit opgewen was.  Partymaal as oom Goosen  ons gewaar het, het hy vir ons die boks mannetjies opgewen sodat hulle kan boks.
Een spesifieke plek wat ons graag besoek het was die  afslaer se winkel.  Daardie plek was ‘n ontdekkers paradys.  Tussen al die meubels, gereedskap, implimente en dies meer het daar ook baie kartondose op die grys sement vloer rondgestaan.  Binne in hierdie kartondose was daar ‘n mengelmoes van goed.  Dit was soos ‘n “lucky packet”.  Niemand het ooit regtig geweet wat alles daarin was nie.  As die afslaer die bod op een van hierdie kartondose toegeslaan het,  het daar altyd ‘n gelag opgeklink van die omstanders as die afslaer dan grapsgewys  gesê het dat die persoon wat dié  kartondoos gekoop het,  maar by die huis moet gaan kyk watse “rubbish” hy daarin gekry het.

Terwyl ek en Andrew so tussen die rommel deur snuffel, sien ek dit raak!  Half weggesteek tussen al die kartonne op ‘n rak teen die  wit  afgeskilferde muur, was daar ‘n kleinerige maar veelkleurige karton- dosie met ‘n prenjie van ‘n speelgoed treintjie daarop!  Sukkelend skuur ek  by ‘n stapel ou stowwerige boeke verby, en bereik dan my vonds.  Ek kon my oë nie glo nie.  ‘n Egte blik treintjie met spore en al en dit kon met ‘n sleuteltjie opgewen word!  Dit was wat ek nog altyd wou gehad het!

Bewerig steek ek my hand uit en haal die kartondosie  van die rak af.  Vlugtig merk ek die afslaer skuins agter my op.  “Hou jy daarvan”?  Vra hy.  Ek glimlag skaam vir hom.  “Dan moet jy Saterdag daarop kom bie”, sê hy, en lag skalks.  “Ja oom”, sê ek.  Half onwillig plaas ek my vonds terug op die rak.  “Sal so maak oom”, sê ek weer.  Opgewonde hardloop ek en Andrew die gebou uit.  Sonder om enigsens te twyfel het ek daardie Saterdag oggend geweet dat daardie treintjie myne sou word.

Terug by die huis daardie middag, kon ek en Andrew net nie uitgepraat raak oor die opwen blik treintjie met spore en al nie.  Min het ek geweet hoe lank dit gaan neem vir die volgende paar dae om verby te gaan.










Die dag van die veiling

Ek was vroeg wakker.  Op‘n Saterdag oggend was dit nie nodig om so vroeg soos gedurende die week op te staan nie.  Dan het ek altyd in my bed bly lê en vir die eerste sonstrale gewag om deur my kamervenster en oor die “pink” laaikas te skyn.  Honderde silwer stofdeeltjies het dan op en neer in die sonstrale rondgedans.  Toe ek klein was het my ma altyd vir my gesê dat dit feetjies was wat so in die sonlig gedans het.    

Maar daardie Saterdag oggend was ek al lank voor die silwer feetjies uit my bed.  Andrew was ook al wakker.  Ons twee het ‘n kamer gedeel. 
Tyd vir draaie loop was daar nie daardie oggend nie.  Met ons aankoms by die afslaer se winkel was daar alreeds ‘n paar ooms wat pyp in die mond deur die goed wat opgeveil gaan word gesuffel het.  Met Andrew agter my aan is ons twee die winkel binne.  Nou het dit heel anders gelyk.  Die goed was nie meer so deurmekaar gepak nie  en die kartondosie met die opwen treintjie het nou redelik voor in die winkel op ‘n groot hout eetkamer tafel tussen stapels boeke en ander rommel gestaan.

Meer ooms en ook ‘n paar tannies het begin opdaag.  Die veiling sou om nege uur begin.  Ek was baie benoud toe een tannie die kartondosie  met die opwen treinjie optel, aandagtig daarna kyk, en dit toe weer versigtig terugsit.  So asof sy daaraan gedink het om self daarvoor te bie.

Eindelik het die afslaer se harde stem weerklink.  Die veiling het begin.  Ek het die blink vyftig sent stuk in my regter hand stywer vasgeklou.  ‘n Ou hout bed sonder ‘n matras was eerste onder die hamer.  “Ek het twee rand, twee rand, twee rand, wie sê drie rand” ?  “Drie rand het ek, drie rand, drie rand, drie rand, wie se ses rand”?  En so word die ou bed uiteindelik vir agt rand verkoop.  ‘n Trap orrel was  volgende aan die beurt en word vir twaalf rand verkoop.  Daarna volg ‘n yskas, ‘n stoof en ‘n paar kartondose  met wie weet wat daarin.
   
Daar was nou al soveel mense rondom ons dat dit moeilik was om tussen almal deur die treintjie in die oog te hou.  Dan, ewe skielik gryp die afslaer die kartondosie en hou dit met die een hand hoog in die lug, so asof hy bedoel het dat ons dit ook moes kon sien.  “Dames en here”, bulder hy dit uit, “wie gaan vir my ‘n bod vir hierdie prágtige speelgoed treinjie gee”?        

Sonder om te dink en asof ek en Andrew die enigste twee mense daar in die bedompige met rook gevulde afslaers gebou tussen al die grootmense  is, roep ek hard uit.  “Vyftig sent”!  Daar was ‘n oomblik van stilte.  Dan begin daar ‘n harde gelag opklink van die verbaasde ooms  rondom ons,  maar op daardie oomblik was dit net ek en die opwen treinjie wat saak gemaak het.  “Vyftig sent het ek, vyftig sent het ek, vir die eerste maal, vir die tweeeede maal, vir die dérde maal”!  Bulder die afslaer dit uit.  “Daardie seun daar in die hoek, dit is joune”!   
 Nadat ek my vyftig sent betaal het en glad vergeet het om vir die oom dankie te sê, was daar weer nie daardie oggend tyd vir draaie loop in die dorp nie.  Ons het ook nie eers vir ons pa gewag om daardie middag saam met hom terug huis toe te ry nie.  So vinnig as wat ons dun beentjies ons kon dra, het ons twee die kilometers afgedraf huis toe.

  By die huis aangekom sou ons beurte maak om die blik treinjie op te wen sodat dit op die swart spoortjies kon loop.  In ons verbeelding sou ons met dié blik treintjie oor die groot rooi geverfde yster treinbrug oor die bruin waters van die  Oranjerivier rammel, terwyl die swart rook gelate by die blik skoorsteentjie uit borrel.  Ons sou verbeeldings plekke wat ons nie van geweet het nie besoek.  Maar vir ons twee sou dit nie meer verbeelding wees nie, want hierdie was ‘n régte égte opwen blik treintjie.  Een wat ook spore gehad het om op te loop.  So het ons twee daardie dag ooreen gekom.



Monday, January 14, 2013

Goeie more




Goeie more
Lekker om te sien dat daar al vriende is wat op my nuwe blog loer.  Welkom aan julle van Suid Afrika, Amerika, Engeland, Duitsland en Nederland.
Ek sal my nuwe “skets” Maandag plaas.  Intussen, vertel asseblief vir jou vriende en familie om ook ‘n draai hier te kom maak.  Onthou ook, julle mag maar  “comments” deur stuur.
Lekker dag daar waar jy is.  Geniet die weer!
Tot volgende keer.
Jimmy

Swart op Swart




Daar is soveel wonderlike kleure waarmee ons vandag omring word, maar dit is die kleur swart, wat in die verlede ‘n baie gewilde kleur was, die meest pertinentste kleur saam met donker bruin, donker groen, donker blou en wit.  Vandag is swart nog steeds ‘n gewilde kleur, sal ek sê ‘n besonderse kleur?  Dit is ook ’n kleur van elegansie!  

Baie mense sien die kleur egter as somber, maar dit is ook tog dié kleur wat die hele verlede van ons voorvaders oorheers het.  Kom ons kyk na die simboliese betekenis van die kleur swart.  Deur die eeue heen was die negatiewe oorwegend aan hierdie sogenaamde sombere kleur gekoppel.  Swart ontken die aanwesigheid van lig.  Simbolies word swart  ook gesien as die kleur van die dood, die kleur van duisternis, donker tonnels, swart dae, en ‘n toestand van depressie.  In ons nuwe generasie moes swart egter terugstaan vir die pragtigste variasies van helder geel, rooi, blou, groen, pers, en bruin skakerings.  Nieteenstaande die soms negatiewe siening van die eens magtige kleur swart bly dit in ons moderne leeftyd voorbestaan.



 Dink maar aan die 1950’s en vroër.  As jy te jonk is vir daardie stoere goue ou jare, doen jou dan ‘n guns en gaan “google” fotos en films van daardie jare.  Sal ons ouer garde dan ooit die ou swart en wit rolprente, swart en wit TV beelde, swart en wit fotos, en die swart en wit illustrasies in die koerante van toé, kan vergeet?. 

 En wie onthou nog die wonderlike ou swart stoom lokomotief wat al blasend en rokend soveel mense van sy tyd se belangrikste vervoer middel was ?.  Die was ook in swart.  Tog was dit so mooi!  Tot en met en gedurende die wonderlike 1950’s was so te sê alles en almal maar in swart en wit getooi    Ek dink dat mense eers regtig kleur ontdek het vanaf die middel 1960’s.  Mans met swart pakke klere, die ouderlinge en diakens se swart manel pakke, (my ma het hulle die “swart kraaie” genoem) vrouens met swart rokke, selfs die kinder klere was daardie jare in swart en wit.  Swart was ook ‘n kleur vir rou as iemand gesterwe het.  Ek onthou nog die swart rou bandjies wat die mans en seuns om hulle arms moes dra as iemand in die familie gesterwe het.  Die blink swart lykswa en die begrafnis ondernemers getooi in hulle swart pakke klere bly my ook nog by.  Vroue moes vir tenminste drie maande lank net swart rokke en swart sykouse dra terwyl hulle oor ‘n geliefde gerou het.

Dit is ook net met dié kleur waarmee ‘n mens soveel mêêr kan sê, soos..................

Uit die Nederlandse taal het ons byvoorbeeld die van, Swart verkry.  Die verskillende haarkleure van mense het dan ook verskillende vanne opgelewer waarvan die van Swart een daarvan is.  Die van Swart dui dus op die swart haarkleur en nie op ‘n swart velkleur nie.
Dan is daar ook swartskaap.  Hier is die kleur gekoppel aan ‘n persoon in die familie wat deur die sekere familie lede uitgestoot is.  Ons sê hy of sy is die swartskaap in die familie.  Dit kan ook gekoppel word aan die verhaal waar Jakob sy skape uit die kudde van Laban uitgekeer het.  Ons lees dit is Genesis 32.
Zwartschaap (swartskaap) is ook die naam van ‘n dorp in die provinsie Drente in Nederland. 
Toe ons kinders was het ons ‘n liedjie gesing wat so klink:   Swartskaap swartskaap, het jy baie wol, ja baas ja baas drie sakke vol.                                                    
En onthou jy nog die swart kat reeks soos geskryf deur Gert Basson wie onder die skuilnaam Chris Sasner geskryf het?  Dit was baie gewild onder die tieners van toe en baie van hulle het van hierdie swart geklede held gedroom.
Henry Ford het daarop aangedring dat sy Ford karre swart geverf moes wees.  Hy het ook gesê dat die karre enige kleur geverf kan word so lank as wat dit swart is.
Dan is daar ook nog swart Piet.  Toe ek ‘n kind was het dié knaap nog bestaan, maar jammerlik dat hy saam met die ou Suid Afrika die pad gevat het.  Swart Piet, oftewel “Zwarte Piet” is nog ‘n lewende tradisie soos wat kan kom in Nederland.  Zwarte Piet is Sinterklaas se handlanger en tydens Sinterklaas fees bring Zwarte Piet geskenkies as hy deur die skoorstene van die huise klim, en niemand sien as hy inkom nie want almal slaap.
Een van die gevaarlike spinnekoppe in Suid Afrika is die swart knoppies spinnekop.  Oorsee word hulle ook weduwee spinnekoppe genoem seker maar omdat die weduwee swart klere dra.
Dan is daar nóg ‘n swart kat waarvoor jy versigtig moet wees as dit jou pad kruis.  Volgens oorlewering kan jy baie ongeluk op jou pad verwag wanneer hierdie swart kat jou pad kruis.  (veral as dit Vrydag die 13 de is)
En wat van daardie mooie swart blinkleer tiekie hak dames skoene!  Hoe die dame daarmee kan loop is nog een van die wondere van die wêreld.
Die ou mense het ook in die aande toe daar nog nie T.V. was nie, om die kombuis tafel stories van die swart spoke vertel.  Hierdie spoke is baie gevaarlik omdat hulle swart is.  Die tradisionele kleure van die Halolween spoke is ook swart en oranje, alhoewel deesdae ook persblou, groen en rooi spoke gesien kan word.
Volgens oorlewering is die duiwel ook swart
En wat van ‘n koppie lekker swart koffie so vroeg in die oggend!  Die Afrikaanse “boeretroos” woordjie word gebruik om ‘n lekker koppie swart koffie, sonder melk of room te beskryf.
jy beitel my met jou swart oë en spits woorde jy draai jou leiklipkop jy lag en
breek my tente op maar jy offer my elke aand vir jou Here God.  jou moesie-oor is
my ............  Dit is hoe Antjie krog die pragtige swart oë besing het.

En dan kan die see ook swart wees!  Die swart see is ‘n binnelandse see by Europa.  Dié see is die skeiding tussen Oos Europa en Wes Asië.  Die rede vir dié naam is egter nie die kleur van die water nie, maar kan aan ‘n antieke toewysing wees soos swart het Noord aangedui, rooi het het Suid en geel het Oos aangedui.

Kit was die blitsige, pratende swart motor van Michael Knight.  Wie kan hierdie ongelooflike swart gevaarte vergeet!  Dit moes nét swart wees.  Geen ander kleur sou deug nie.


Bly jy in die Swartland ?  Dan beteken dit dat jy een van daardie gelukkige mense is (watter kleur jy ook al is) wat net ongeveer 50 km.  Vanaf Kaapstad bly, en jy sal heel moonlik ook brei as jy praat.

Die “192 pages COUNTER BOOK” waarin skool kinders skryf is ook nog altyd swart.  Is nie verbaas dat die boek nog nie hier by ons van kleur verander het nie!

Ook die Bybel was ook altyd swart.  Ek het darm al wit Bybels gesien maar dit wil voorkom asof swart maar die oorheersende kleur vir dié Boek is.

Ons het ook mos die geneigdheid om te sê:   Iemand het nou my naam letterlik swart gesmeer.  In ons moderne tegnologiese era kan die gewraakte kleur ook seker maar verander word na “rooi,” of “pers”.

Hier is ook ‘n paar Nederlandse spreekwoorde wat van toepassing is op die kleur “swart” Zwart werken: werken zonder belastingen te betalen - Zwartrijden: rijden met de bus, trein of tram zonder te betalen -De pot verwijt de ketel dat hij zwart ziet: iemand beschuldigen van iets dat men zelf ook doet   -   Hij liegt dat hij zwart ziet: een grote leugenaar zijn.

Ander dinge wat oorspronklik swart was en waarvan sommige nog steeds swart is, is: Mans kamme, oog mascara, stowe, bad proppe, motor bande, mans pakke, muur proppe en teerpaaie.

Soos wat ons oor die afgelope jare gesien het is daar wel op goot skaal wegbeweeg vanaf hierdie alles oorheersende kleur van die verlede, maar tog is daar sommige dinge wat nét swart kán wees!  Geen ander kleur, hoe helder ook al, sal vir hierdie dinge deug nie.  So is daar ook mense in ons tyd wat in ekstase kan raak oor hierdie kleur, swart.  (diegene wat weier om ‘n ander kleur motor te ry as net swart.  Hier by ons kan jy hulle ook al van vêr af hoor aankom, die gedoef doef doef doef!) Is jy ook ‘n aanhanger van swart?
Wat sê jý van die, kleur, swart?      -  Jimmmy
Ps.  Jy kan ook vir my “reply” – sien hier
Onder  - ek sal ook graag van jou stories wil hoor!



Sunday, January 13, 2013

Baie welkom by my blog




Baie  welkom  by  my  blog.  
Met hierdie blog wil ek graag met jou gesels, of praat, soos party mense sal sê.   Sommer net lekker tong in die kies praat!    Om graag lekker tel praat, aard ek daar na my pa. Hy was ook lief om met mense te praat.   Net soos my pa gaan ek nie politiek praat of mense met woorde aanval nie.  Ek wil ook nie lelik van mense praat nie, want dit is nie soos my pa was nie.  In my pa se lewe was daar nie so iets soos internet, scype, selfone ensovoorts nie.   Hy moes, as hy met iemand wou praat, iemand gaan opsoek om mee te praat en dit kon hy baie goed doen.  Hy was soos hulle sê, ‘n mens mens, of sommer ‘n regte praat mens.   O ja, hy kon ook baie lekker lag!  As hy gelag het moes ons ook lag.   Dit was aansteeklik.   Weer, net soos hy, mag ons ook maar lag as ons mét mekaar praat.    Dit het hom ook besig gehou!, ek bedoel nou die gepratery.    Eintlik dink ek persoonlik dat dit ‘n baie goeie eienskap is om te kan praat.....om dit wat jy weet of wat jy dínk jy weet, met ander te kan deel.   (ek praat nou nie van skinder nie)   Daarom ook dat ek hierdie blog noem : weetjedat.   Daar is ook nog ‘n ander storie verbonde aan hierdie naam van my blog.  

Jy sal miskien vir my  sê dat die naam ‘n bietjie vreemd klink!   Sooo.... Nederlands.    Ja, in ‘n mate is jy dan tog reg.    Jy sien, ek het ‘n kleindogter van so ongeveer 6 jaar oud.   Haar naam is Rebecca en sy woon in Nederland.   Vandat sy begin praat het het sy altyd begin met : Weeeet je?   Sy kon dit so uitrek as sy dit sê.    Alles wat sy weet wil sy aan andere vertel.    As sy praat, móét jy luister.   Sy aard weer na haar ma, Jennifer, wie ook as kind eindeloos kon aanhou en aanhou met praat.   Ek is verseker dat dit ‘n gawe is!   Ook geen wonder dat Jennifer nou Engels in Nederland doseer nie!
Nou wil ek ook met hierdie blog vir jou vertel wat ek dínk ek weet en somtyds wat ék dink my opinie oor ‘n saak is.   Sommer net so lekker my kop leegmaak en jy luister.

‘n Ander vraag wat jy miskien vir my wil vra is, nou waarom is die blog in Afrikaans en nie in Engels nie, of tweetalig nie?    Nou ja, as jy dan wíl weet, ek is ‘n boertjie, groot geword in Upington in die Noord Kaap waar ons nóóit Engels gepraat het nie, wat nog te sê Nederlands!   Snaaks, die Griek met die kafee moes ook maar noodgedwonge Afrikaans aanleer!

Ek onthou nog goed dat as ek die telefoon beantwoord het en daar met ‘n “vloekskoot” iemand aan die anderkant Engels gepraat het, het ek sommer die foon neergeplak!   My onderwysers kon darm Engels praat, of so dink ek, want hulle het ons die taal probeer leer praat en ek het die taal darm elke keer geslaag met 33 1/3%.   Dit was die slaag syfer! 

My ander familie wat ook in die dorp gebly het, was weer Engels.   Hoe dit gebeur het dat hulle Engels en ons Afrikaans was, weet ek nie.   Ek  was nog nie gebore toe dit gebeur het nie.   Ek dink dit het ook maar te doene gehad met die Natte en die Sappe van daardie jare.   Tot die ontsteltenis van my een “auntie”, was ek nogal ‘n uitgesproke Nat.   Sy kon my nie baie veel nie, of soos die Nederlanders sou sê, sy het geen sin in my gehad nie.   Volgens ‘n ander “auntie,” sou ons wat net op daardie stadium Afrikaans magtig was, maar moeilik deur die lewe kom!

Maar, die tye het verander.   Vandag sien ek op die internet dat stoere Afrikaans sprekende mense nou liewer in Engels kommunikeer.   Seker ook maar omdat dit byna die gebruikstaal geword het.    Ek onthou nog dat die naaste groot plek aan ons, ek praat nou nie van Kakamas nie, Kimberly  was en hierdie plek was nét Engels!   Somtyds moes my pa na Kimberly  ry vir besigheid.   Ek het een of twee maal saam met hom daarheen gery, maar dit was beslis nie om Engels te gaan praat nie.   Daar was ‘n winkel waar jy enigiets onder die son kon koop.   Ek het altyd die advertensies van die winkel in die koerant dopgehou en dan  dae en nagte om gedroom van die dag wanneer ek my spaargeld daar kan gaan bestee.   Maar om terug te kom na die taal storie.

Dan moet ons ook nie vergeet dat die land nog daardie jare onder die Britte was nie.   Die Republiek van Suid Afrika het eers gedurende 1961 tot stand gekom.      Ek was toe in standerd 4.   Ek onthou nog hoe ons as skoolkinders met ons grys kort broekies en ons wit skool hempies aan en  die nuwe Suid Afrikaanse vlaggies in die hand, langs die teerpad gestaan het terwyl die optog ter ere van die Republiek van Suid Afrika by ons verby beweeg het en die “army” verby marsjeer het.    Dit was ook die tyd toe die pennies, die sjillings en ponde na Rande en sente verander het en my poskantoor spaarboekie se balans inskrywing ook verander moes word na Rand en sent.
Maar om nou nie te vêr van my storie af te dwaal nie, kom ons kom wéér terug na die Engelse taal.    Ek het darm met verloop van tyd ook geleer om in Engels te kan kommunikeer, en nou, met die kinders in Nederland, moet ek ook myself in Nederlands kan uitdruk.     Die spreekwoord sê mos: “Nood leer bidde.”  

Dit is waarom ek graag wil hê dat nie net die Afrikaans sprekendes my blog moet lees nie, maar ook die Engelse en selfs die Nederlanders.   As hulle die blog in óns taal kan lees sal hulle mos ook leer. ( dit is soos wanner jy in plaas van die “You” die Huisgenoot lees om ook die taal te kan leer)   Ek kan ook van tyd tot tyd met daardie Engelse en Nederlandse vriende in hulle taal komunikeer en dan leer ons mos so van mekaar!  

So, met die taal kwessie nou ook uitgesorteer, hoop ek dat jy hierdie blog van my van harte sal geniet.     Ons kan ook gedagtjies en storietjies met mekaar uitruil. 
                                                                               

                                              

As  jy  vir my e- pos wil stuur is jy ook welkom om dit aan jimmydeacon@yahoo.com te stuur.    O ja, en moenie vergeet om ‘n draai by my ander blog, www.angazi-jimmyd.blogspot.com te gaan maak nie.    Daar kan jy na my fotos kyk wat ek geneem het toe ons vir 3 jaar getoer het.
Tot later dan  
Jimmy