Search This Blog

Sunday, March 31, 2013

Die groot skrik



Sakkie gaan staan doodstil en luister aandagtig.  Die nag is pik giet swart en aan die linkerkant van die teerpad waar hy nou staan, kan hy  ‘n paddakoor iewers verder weg hoor.  Dit moes vroeër in die nag gereën het want die warm bedompige reuk van die reën hang nog sterk oor die teerpad en die veld.  Met die windjie wat liggies begin waai kry hy ook nou die reuk van verrotte water. Dan hoor hy weer die gedempte stemme iewers verder weg voor hom .


 Hy wonder hoeveel hulle is en hoe vêr hulle vanaf  hom af is. Soos wat hy kan aflei is hulle oppad in sy rigting.  Dofweg kan hy ook die ge-girts garts van hul voetstappe op die los grys langs die teerpad duideliker hoor.


Vannaand sal hierdie van der Merwe ‘n plan moet maak, dink hy terwyl hy   sy eie hartklop kan hoor. Hy is man alleen en het geen wapen van enige aard by hom nie. Nie eers ‘n knipmes nie!  Weghardloop kan hy nie want dan sal hulle hom beslis hoor en hom agterna sit.  Gewoonlik  het hulle ook nog messe of knopkieries  by hulle, dink hy nou benoud.  ‘n Kriekie begin eentonig hier langs hom in die grassies te kriek.  Enige beweging van sy kant sal nou verkeerd wees. Dink Sakkie dink! As jy nog nooit ‘n plan gemaak het nie sal jy dit nou moet maak,! Flits  dit deur sy gedagtes.


Vroeër die aand toe dit nog half lig was het ‘n ou omie en tannie hom goedgunstiglik opgelaai daar waar hy net buite Hanover langs die afdraai na Middelburg gestaan het. Hy en die ander ouens het vanaf Prieska met ‘n oop vragmotor ‘n “lift” gekry tot net voor Hanover. Daar was hulle egter gestrand.  Die feit dat hy in uniform was en rooi hare het het natuurlik ook gehelp om hier ‘n “lift” te kry, dink hy nou met ‘n effense glimlag.  Hy onthou hoe die ander ouens wat saam met hom op pas was en ook duimgegooi het gespot het en gesê het dat hulle nie langs die rooikop wil staan nie,  want niemand sal so ‘n lelike rooikop oplaai nie.  Hulle het dus aan die anderkant van die pad gestaan. 


Met ‘n groot glimlag het hy agter in die Ford ingeklim en terwyl die omie wegtrek het hy vermakerig vir sy “pêlle” deur die oop venster  gewaai.
Soos dit nou maar met duimgooi gaan, kon die oumense hom net tot anderkant Cradock help.  Daar by die afdraai pad na hul plaas,  het hulle hom afgelaai.  Hy het eers ‘n rukkie gestaan om te sien of daar nie nog motors oppad was nie maar het later maar begin aanstap.  Feit dat dit Sondag was en daar nie veel voertuie op die pad was nie het die moonlikheid vir ‘n “lift” nog moeiliker gemaak. Die sewe dae pas was in elk geval te kort om  nog so te staan en wag, het hy besluit.


Sy ouers moes seker al teen hierdie tyd baie bekommerd gewees het. Hy moes al gister namiddag by die huis in Port Alfred gewees het, het die gedagtes deur sy kop gemaal.  As die weermag bus nie by Prieska gebreek het nie, sou hy al lankal by die huis gewees het. Die bus drywer het gesê hulle sal die bus regkry, maar ‘n paar van hulle wou dit nie hoor nie en het besluit om verder duim te gooi. Tyd was kosbaar!


 As jy so lank van die huis af weg was maak elke sekonde saak. Gelukkig is daar nog net drie maande van diensplig oor, het hy tevrede gedink.  En om te dink dat hulle byna die “rumours” geglo het wat gesê het dat die regering die diensplig  tydperk met nog ses maande gaan verleng!  Baie van die manne het gevloek toe hulle dit hoor.  Ander weer het net doodstil gesit, so met hulle eie gedagtes geworstel.  Terwyl hy so aan’t stap was het hy gemerk dat die groen fosfor wystertjies van sy arm horlosie op kwart voor twaalf staan.


Hy het sommer na sy lekker warm bed by die huis verlang.  In die weste kon hy die blitse sien uitslaan.  “Dit moet nou  nét nie besluit om nog vannag te reën ook nie,”  het hy met homself gepraat.  Op die grens het hy oorgenoeg van reën gehad.  Daar was tye dat hy tot op sy onderbroek natgereën het.  Daardie reën in Ovamboland kon vir dae, vir weke,  aanmekaar aanhou, onthou hy. 


Toe hy ‘n voertuig op die teerpad agter hom hoor aankom het hy gaan stilstaan en sy duim in die lug uitgehou. Die voertuig het merkbaar spoed verminder maar dan op die ingewing van die oomblik het die bestuurder besluit om nie stil te hou nie. Met die rooi agterliggies wat al verder in die donker voor hom uit  verdwyn het, het  hy teleurgesteld besluit om maar aan  te hou met stap. 


Die werklikheid van die oomblik tref hom toe hy die rooi gloed van ‘n sigaret nou net ‘n paar tree voor hom gewaar.  Die gepraat is ook nou baie duideliker. Hy evalueer die situasie vinnig.  Hulle moet beslis meer dan twee mense wees, skiet dit deur sy gedagtes.  Dit is duidelik dat hulle hom nog nie in die donkerte  gewaar het nie.


Om nie soos ‘n paal bo water uit te staan nie, buk hy stadig en laag af tot op sy hurke.  Dan, nét toe die drie mans vlak voor hom kom spring hy met ‘n onaardse geskreeu op en trap  hard met sy stewels op en af  op die los gruis.  “Ek  is die duiwel! – die duiwel! – ek kom om jou te haal!” skreeu hy so hard as wat hy kan.  Die arme drie mans weet nie wat hulle tref nie!  Hulle gil en skreeu, en huil  deurmekaar! “Oooo my mamma! Ooooo my pappa! Help ons ! help ons! Ons is verlore! Ons is verlore siele! Los ons tog net asseblief!” So tussen die geskreeu en die gille deur hoor hy takke kraak, klippe rol en water spat. Die rumoer eggo op en neer deur die klofie totdat dit heelwat later, wat vir hom soos ‘n ewigheid voel, vêr weg in die stik  donker nag verdwyn. Dan is dit stil. Doodstil.


Uitgeput gaan sit hy plat op sy sitvlak op die teerpad.  Die weer dreun nou hard  net hier bokant hom en hy kan al die eerste druppels op sy gesig en arms voel val.  Nou  is dit asof die sluise van die hemel bokant hom oopgemaak word.  Groot druppels begin hard op die teerpad neer te val.  Blitsende weerligstrale skeur deur die donkerte en verlig die wêreld wyd rondom hom.  Opeens  sien hy die motorlige deur die vallende reën nader kom en hoor hy die gedreun van die voertuig bo die van die reën. Met ‘n gepiep en ‘n gekreun kom die voertuig vlak langs hom tot stilstand.  “Die bus!  Die weermag bus!” roep hy verbaas uit en bestyg vinnig die paar gladde nat  trappies tot by die deur.


Wanneer  een van die soldate hom herken skreeu dié hard. “Di’s die rooikop!” Almal begin lag.  “Hy lyk vir my so baie na tant koek se hoenderhaan” sing hulle dit luid uit en klap hom hard op sy nat  rug.  “Welkom terug ou rooies!” skreeu een.  “Het jy lekker met die Ford gery?” gil ‘n ander. “Gedag jy sal voor ons by die huis wees, né?” roep ‘n ander een vermakerig  uit.  


Uiteindelik,  nadat almal tot bedaring gekom het en die meeste alweer begin snork het, sak hy stadig in sy sitplek weg en maak sy oë toe.   Hy wonder wat van die arme drie vreemdelinge geword het. Hulle het beslis die skrik van hulle lewe gehad.  Glo hulle regtig dat dit die duiwel was wat hulle kom haal het,? wonder hy en kan nie help om saggies te begin lag nie.  Hy wens hy kon hulle gesigte sien,  maar nog meer die “storie” hoor wanneer hulle by hulle huise aankom. 


Wat sý “storie” betref, nou ja, dit is seker nie nodig dat hy dit aan enigiemand hoef oor  te vertel nie! Hy is mos ‘n soldaat, en ‘n soldaat wat van die grens af kom het mos geen banghaar op sy kop nie!  Al wat nou saak maak is dat hy oppad huis toe is.  Met die gedruis van die bus se wiele  op die nat teerpad raak hy vinnig aan die slaap.

Groete
Jimmy

Sunday, March 10, 2013

Die treinreis


















Ek kyk by die venster uit terwyl die elektriese trein teen ‘n spoed van ongeveer een honderd en veertig kilometer per uur verby huisies, motors, mense,  groen landerye met bont koeie,  en af en toe ‘n paar bote op die water kanale verby spoed.

Dit was Saterdag oggend. My reis na Amersfoort  het ongeveer vyftien minute gelede op die trein stasie van Heerenveen begin. 

Ek het my treinkaartjie teen ‘n spesiale aanbiedings prys by die supermark groep Albert Hein gekoop. Daar langs die kasregisters, terwyl jy wag op jou beurt om vir jou goedere te betaal, koop jy sommer jou treinkaartjie,afslag aanbiedinge by pretparke ensovoorts.  So het ook honderde ander Nederlanders hulle spesiale aanbiedings prys kaartjies gekoop, het ek agter gekom toe ek op die stasie vir die trein gestaan en wag het. Almal was oppad iewers heen. Hierdie spesiale aanbieding het nog tot die naweek gegeld.

Toe die geel en blou elektriese trein die stasie binnekom moes ek vinnig speel. Nadat ek met baie moeite uiteindelik in die gangetjie van die rytuig  gestaan het, kon ek verstaan waarom almal gelyktydig probeer het om binne die rytuig te kom.  Die trein was stampvol! Al twee honderd en dertig sitplekke in die tweedeklas en veertig sitplekke in die eersteklas rytuie was alreeds beset. Die wie saam met my op die stasie gestaan en wag het, het natuurlik goed geweet wat die situasie was en het heimlik gehoop dat daar darm nog een of twee sitplekke oop sou wees.


Die gelukkiges wat vroeër opgeklim het het rustig op die gemaklike donkerrooi sitplekke rug aan rug gesit. Sommige verdiep in die nuutste nuus in die koerant en andere was weer met die iphone aan’t speel. Die een spesifieke man het sy hele reis op die iphone dopgehou.  Hy kon presies bepaal waar hulle op enige gegewe oomblik was. Kort kort het hy dan vir sy vrou wie blykbaar nie so ‘n groot belangstelling in die nuwe speelding getoon het nie, probeer wys waar hulle op daardie stadium was.

Twee Nederlandse dametjies wie so skuins regoor my gesit het, het weer kort kort hul cv’s uit hul handsakke gehaal en dit dan druk bespreek. Van waar ek gestaan het kon ek so te sê elke woord  daarop lees. Ek kon aflei dat beide oppad was vir onderhoude as lugwaardinne. Die een het dan ook tot vervelens toe  die klein handspieëltjie uit haar sak gehaal en haar dan van alle kante af daarin beskou terwyl sy terselfdertyd  besig was om haar grimering op te knap. Onder die bespreking deur het hul dan ook met groot inspanning en met die “oulikste” aksent die Engelse taal teenoor mekaar  probeer bemeester.

Terwyl ek probeer het om  my voete so ‘n bietjie te  verskuif trap ek byna op ‘n korterige vroutjie so regs langs my se toon. Haar vinnige en duidelike uitdrukking van misnoeë laat ‘n paar sittendes vinnig opkyk.  Ek merk hoedat ‘n lang maer vrou wie aan my linkerkant langs die venster sit my op en af beskou.  Ek besluit om vir haar te glimlag maar sy dog seker ek is mal en met ‘n ruk van haar kop besluit sy om liewer die wêreld buite die trein dop te hou.

Die passasiers wat heel agter in die rytuig gestaan het was die “gelukkiges”. Hulle kon met hul rug teen die muur staan en so die gewig op hul voete beter beheer.

Tot die ergenis van die “staandes” het een sittende omie besluit om toilet toe te gaan. Met die rondskuiwery om dit vir hom moontlik te maak om tussen almal deur te  beweeg kon ek die geleentheid aangryp om ‘n beter staanplek te bekom. Ek kon myself so posisioneer dat ek my rug teen ‘n klein gedeelte van die hoekmuur kon stut.

My nuwe staanplek het my langs twee opgeruimde ouerige dames aan my regterkant  gebring. Met reisbrosjures in alby hande het hulle sonder om asem te skep,  geklets. Terwyl ek my aan hulle opgeruimtheid bewonder het het die een skielik opgekyk. “Is uw ook van Nederland?” vra die een naaste aan die paadjie terwyl sy stip na my kyk. “Nee, ik ben van Zuid afrika” probeer ek op my beste Nederlands. “Ooo?, dan waarnatoe is uw op reis?” vra sy weer. “Ik ben op reis naar Amersfoort” sê ek en glimlag vir haar. “Dan gaat uw ook zeker een bezoek aan de dierenpark  bringen?” vra sy weer. Ek dink vinnig hoe om korrek te antwoord. “Já!,” sê ek vinnig.”já!, ik zal graag een bezoek aan het dierenpark wil brengen,” se ek. Ek het geleer dat as jy nie weet wat om te sê nie jy dan maar “já!” sê.  Dit gee jou ook ‘n bietjie tyd om te dink oor hoe jy kan antwoord.

Die “já!” is ‘n manier om iets te beklemtoon en kan ook sommer as ‘n vinnige antwoord gebruik word. Somtyds is dit  ook ‘n woordjie wat sommer so in die lug kan hang. So niksseggends.  Somtyd sal iemand so tussen die praat deur ook “já,já!” sê, en almal sal glimlaggend en met groot begrip met ‘n “já,!” beaam. Ek het ook geleer dat na- praat nogal somtyds ‘n maklike manier kan wees om te kummunikeer.  Mens moes net mooi luister wat iemand sê en dan die dieselfde sin net omdraai en bevestig wat die ander persoon gesê het.

Die groot probleem kom egter as die ander persoon uit nuuskierigheid of neus instekerig  oor die Suid Afrikaanse politiek wou  gesels. Gewoonlik het hulle met Nelson  Mandela begin.  Dan het ek hulle maar toegelaat om te praat en  gewoonlik met ‘n, “já,!”  “dit kom tog wel goed,” geantwoord, waarop die ander een my dan half onseker en miskien bietjie half verward  aangekyk het en dan maar stilgebly het.

Skielik stop die trein. Ek lees op die naambordjie dat ons nou in Zwolle is. Gelukkig is daar nou nog net so ongeveer ‘n half uur van staan oor voordat ek by Amersfoort moet afklim, dink ek verlig.  Die deur van die rytuig gaan oop en uit alle rigtings bestyg nog mense die trein. Niemand klim af nie!  Waar gaan almal staan? Dink ek met verbasing. Wat ek egter nie in berekening mee gehou het nie is dat in hierdie land baie mense is en dat hulle teen hierdie tyd al gewoond daaraan is om so te reis.

Die deur skuif toe en tot my verbasing het almal iewers ‘n staanplekkie gevind. Met ‘n skril fluit van die trein  vertrek ons alweer oppad na Amersfoort. Nou herrangskik al die staandes hulself en selfs mense uit ander rytuie kom kyk of hier nie miskien ‘n beter staanplekkie is nie.

Die trein beweeg nou  heelwat stadiger. Nog huise, mense en motors swiep verby die oop venster aan my regterkant. Hier en daar begin passasiers hulle koerante opvou en die twee ou  dames druk hul reisgidse terug in hul handsakke. Die een kyk op na my en glimlag vriendelik. So asof sy my ‘n lekker wil toewens.  Die omie wat toilet toe was probeer ook nou sy pad na sy sitplek terugvind.  Die twee dametjies het ook hul cv’s veilig in hul handsakke weggebêre en die een beskou haarself nog vir oulsaas in die klein handsplieëltjie voordat sy dit ook haastig terug in haar handsak druk.  Die man met die iphone kyk ook nou oor sy vrou se skouer by die venster uit.  Die iphone het beslis  gehelp om die reis te verkort.

Dan sien ek die stasie naambord raak en verskuif vir oulaas my moeë voete.

Die besoek aan die dierenpark was nogal baie interessant maar ek was baie dankbaar toe ek later daardie namiddag weer in die trein kon klim. Hierdie keer was daar omtrent geen siel in die rytuig nie.  Almal hou natuurlik nog lekker naweek iewers by vriende of familie, dink ek. Môre sal natuurlik weer ‘n ander storie wees as almal weer besluit om huiswaarts te keer. Dankbaar dat ek nie weer die heeltyd hoef te staan nie sink ek heerlik terug in my donkerrooi sitplek.
Het die twee dametjies toe hulle onderhoude geslaag,? Het die laaste bietjie grimering toe die ding gedoen,? En hoe het dit met die Engels gegaan,? Wonder ek.

Dit is net skemer, so twintig oor tien die aand, toe die trein op die spoorweg statión Heerenveen stilhou.  Die deur skuif oop en ek klim dankbaar uit.
“Já,!” praat ek moeg en saggies met myself as ek die pad huis toe vat terwyl dit net net wil donker word.
Groete
Jimmy