Onbewus van die twee opgeskote
bokwagtertjies wat hom vanuit die skadu van ‘n oorhangende rots dophou, tuur
Pieter oor die dorre rotsbesaaide landskap voor hom uit.
Met ‘n sagte klik klak druk hy die coke
blikkie met sy vingers plat. Hy het so
pas die laaste koel lafenis afgesluk. Al
is dit nog redelik vroeg in die oggend, brand die son alreeds warm op die
skurwe graniet rotse rondom hom.
Met moeite en stram
spiere wat pyn kom hy langsaam orent
vanaf die klip waarop hy sit. Nou soek hy ‘n plek waar hy van die platgedrukte
blikkie ontslae kan raak. Sy pa het hom
van kleins af geleer dat mens nie sommer blikke en papiere oral in die veld
rond strooi nie.
Terwyl hy so ingedagte staan kan hy dit nie verhelp om die
ruwe skoonheid van die fantastiese gevormde rotse in grysblou en donker bruin
kleure van hierdie wêreld te bewonder nie.
Daar vêr onder, deur die
somerdeinserigheid, kronkel die bruin waters van die Oranjerivier op sy lang en moeisame tog na die Atlantiese
oseaan.
Sy
gedagtes gaan onwillekeurig terug na daardie dag toe hy vol opwinding besluit
het om na hierdie onherbergsame deel van die wêreld te kom. Hierdie avontuur het eintlik al begin die dag toe hy so tussen al die ou boeke en koerante
deurgesnuffel het. Hy was vir die winter
vakansie met besoek by sy oupa en ouma op hul Vrystaatse plaas.
Dit was sy laaste dag
op die plaas en omdat hy nou al alles gedoen het wat hy wou doen en ook alles
gesien het wat hy wou sien, het hy uit skone verveeldheid besluit om ‘n bietjie op die solder van die ou plaashuis te gaan rond snuffel.
Daar, tussen ‘n klomp ou stofbedekte boeke het hy dié
besonderse klein boekie ontdek. Terwyl
hy vlugtig deur die boekie blaai kon hy agterkom dat die verhaal te doene gehad
het met die een of ander skat wat in die middel 1800’s iewers in die land
begrawe was. Daar was ook ‘n rowwe
handgetekende skets van waar die skat begrawe sou wees.
Vol van
nuuskierigheid is hy boek in die hand vinnig met die ou houttrap na
benede. Met ‘n lekker koppie koffie
langs hom het hy homself op die hout bankie onder die druiwe prieël
tuisgemaak. Na sowat ‘n uur moes sy ouma
hom byna dwing om nou eers die boekie neer te sit en om aandete saam met haar
en oupa te kom nuttig.
So tussen die ete deur het sy oupa al laggend meer
kommentaar oor die verhaal van die boekie gelewer.
Sy oupa kon nog goed onthou watter groot opskudding dié boekie
destyds onder die mense veroorsaak het.
Die verhaal gaan oor ‘n sekere Engelsman wat sy fortuin hier in Suid
Afrika kom soek het.
Daardie jare was die diamant delwerye in Suid Afrika ‘n baie
gewilde manier om te probeer om jou
rykdom aan te vul. Gedurende 1867 het
iemand ‘n diamant op die oewer van die Oranjerivier naby Hoopstad opgetel. Daarna was daar geen keer aan fortuinsoekers
nie. Daar word geskat dat daar teen 1870
ongeveer 10000 delwers in dié gebied was.
So het dit dan gebeur dat hierdie Engelsman een aand in ‘n
kroeg in Londen tehore gekom het van die “maklike” manier om rykdom te
verwerf. Tussen al die ongelooflike
verhale deur kon diamante so te sê in die rivier beddings opgetel word. Dan was daar ook nog die storie van siener
van Rensburg wat voorspel het dat ‘n diamant so groot soos ‘n skaapkop, gevind
sou word.
Na al hierdie stories het die Engelsman sonder versuim
besluit om per boot vanaf Engeland na Kaapstad te vaar waar hy dan ook deel van
al die ander fortuinsoekers sou word.
Met sy aankoms in Kaapstad het die man dan ook so gou as moontlik te perd
na die diamantvelde vertrek. Daar
aangekom het hy gou deel geword van die brandarm bywoners, handearbeiders en
boere wat met pik, graaf, sif en kruiwa die grond omgedolwe het.
Swendelaars en skelms wat jou uit jou diamant rykdom kon kul
was natuurlik op die voorstoep van die diamant velde te vinde. So was hierdie Engelsman dan ook nie verniet
die “swartskaap” van sy welgestelde familie in Engeland gebrandmerk nie. Al te gou het hy sy rykdom bymekaar gemaak en
het hy besluit om die pad te vat, terug Engeland toe.
Met sy terugtog na Kaapstad, het hy een aand langs die
Oranjerivier in die Noord-kaap, kamp opgeslaan. Hier het hy die idee gekry om
‘n deel van sy diamant rykdom in die onherbergsame gebied te versteek. Hy wou nie al sy geld en diamante met een slag saam met hom
terugneem nie. Sy plan was om dan later na
Suid Afrika terug te keer met die hoop om dan vir hom grond aan te koop en om
met skape te boer.
Ongelukkig vir die arme man het hy malaria opgedoen en is hy
op sy terugreis op die boot oorlede.
Langs sy lyk in die bed van sy kajuit, is daar egter ‘n briefie gevind
met ‘n kort verduideliking en ‘n handgetrekte kaart van waar die diamante
versteek was. Volgens oupa het baie
mense na die verskyning van die boekie
dan ook met ossewa of perdekar die pad gevat om na die skat te gaan soek. Niemand kon egter bevestig of die diamante
wel gevind was nie.
Omdat hy van nature ‘n avontuurlustige mens is, het
Pieter besluit dat hierdie ‘n groot uitdaging vir hom sou wees. Om te dink dat
hy ‘n skat, net soos in die stories wat sy ma kleintyd vir hom gelees het kon
vind, het hom nog meer vasberade gemaak om na hierdie gebied te reis. Met die
aanbreek van die somervakansie het hy sy pik, graaf, eenmanstentjie en slaapsak
agter in sy bakkie gelaai. Toe het hy die lang pad vanaf die Kaap na
Riemvasmaak aangepak.
Dit was ‘n lang rit hierheen en hy moes halfpad op Springbok oornag. Die volgende oggend baie vroeg het hy die
volgende skof tot by Kakamas aangepak. In
kakamas het hy die bakkie volgemaak met brandstof en het hy by die Pink padstal stilgehou en vir hom nog ‘n
paar eetgoedjies gekoop. Hy moes natuurlik ook seker maak dat hy genoeg
drinkwater agter in die bakkie het. Net
buite die dorp op die pad na Upington, het hy stadig oor die lang brug oor die Orangerivier gery.
“Wat ‘n besonderse wêreld” het hy met homself gepraat en byna by die bordjie
aan die linkerkant van die pad wat lees Riemvasmaak,
verby gery. Hier het die teerpad na ‘n grondpad verander. Behalwe vir ‘n paar
sandstukke wat mens nogal onverhoeds vang, was die pad redelik goed. Na sowat
55 kilometers en ‘n paar keer se hekke
oop en toe maak, het hy die Riemvasmaak nedersetting bereik. Stadig, om nie van die hoenders wat voor die bakkie
verby hardloop dood te ry nie, het hy tot by die Rooms katolieke kerk gery.
Hier het hy toestemming verkry om verder na die Norbit Kai
kamp te ry. Volgens wat hy van die
handgetrekte kaart kon uitmaak, is die diamante tussen die huidige Norbit Kai
en Wabrand kampe versteek. ‘n Moeilike,
somtyds half onbegaanbare pad, en verby die indrukwekkende rafyn het hy teen laatmiddag sy eindbestemming bereik. Hier het hy ook gou agter gekom dat hy maar
die selfoon in die bakkie kon los. Hier
is geen selfoon opvangs nie.
Daardie aand, terwyl
hy die reuk van die hardekool vuurtjie deur sy neusgate insnuif, kon hy
hom verlustig aan die duisende
skitterende sterre in die donker hemelruim. Terwyl sagte naggeluide hom
geselskap hou het hy rustig die warm koffie uit sy blikbeker opgeslurp. Hy was nogal moeg!
Vroeg die volgende oggend het die bosduiwe hom wakker
gekoer. Toe het sy soektog met alle erns begin. Die son was warm en so af en
toe kon hy hoor hoedat die ou bobbejaan brandwag die ander waarsku dat hier ‘n
indringer in die omgewing is. Die koel nagte het hom darm met ‘n rustige slaap
beloon. Na drie dae van gate grawe, rotse
omrol en op hande en knieë op die harde grond rondkruip, het hy tot sy
teleurstelling, in plaas van
skitterende diamante, met slegs stukkende vingers en seer spiere
daarvan afgekom. Tog weet hy dat onder die sand en tussen die klippe ‘n ander
skat, een van halfedelgesteentes weggesteek lê, gereed om deur nog ‘n ander
tipe fortuinsoeker ontdek te word.
Omdat sy kos en water ook nou gedaan was, het hy besluit om
maar net soos die baie onsuksesvolle skatsoekers voor hom, liewer huiswaarts te
keer. Met ‘n laaste blik oor hierdie speelplek van die reuse, trek ‘n vet ou bloukop koggelmander wat die
kuns aangeleer het om rustig op sy gusteling klip te sit en wag, sy aandag.
Hierdie outjie is miskien die enigste een wat die geheim van die
versteekte diamante ken, dink hy met ‘n glimlag en draai om om sy laaste
goedjies bymekaar te maak.
Hy besluit om die laaste twee snytjies brood en drie appels
daar op ‘n skurwe plat klip te los. “Die
bobejane sal wel hierdie vonds waardeer”, sê hy vir homself. Dan, nadat hy sy goedjies alles in die bakkie
gelaai het, klim hyself in en skakel die enjin aan. Stadig ry hy met die klipperige tweespoor
paadjie aan. Wie weet, dink hy.
Eendag kom ek dalk weer terug nét om die wonder van hierdie volmaakte
skepping weer te kan ervaar…………en verdwyn dan stadig om ‘n paar massiewe rotse.
Die twee bokwagterjies wag totdat die bakkie
heeltemal verdwyn en hardloop dan nuuskierig na die plek waar Pieter vir die
drie dae na sy skat gesoek het. Gulsig raap hulle die brood en appels op. Dan onthou die een dat Pieter iets onder die
groot rots ingedruk het. Met moeite beur
hulle aan die rots en uiteindelik rol dit om.
Op die plek waar die rots gestaan het sien hulle die
platgedrukte coke blikkie raak. Maar dit is nie al nie. “Waarom sou die witman dan sy tabak sakkie
ook daar onder die klip ingedruk het?”
Wonder hulle saam.
Die een tel die sakkie op.
Hy woel die toutjie waarmee dit vasgebind is los en gooi die inhoud uit
op die grond. “waarom sou die
eienaardige basie dan ‘n sakkie met ‘n klomp blink klippies daarin hier onder
die rots indruk?” vra die kleiner een vir sy maat. Met harde laggende stemme en met hul groot vonds veilig in besit, wip hulle rats
soos wildsbokkies kaalvoetend oor die yl
plantegroei en tussen die harde klippe
deur terug na hul kaya daar onder by die droë rivierloop.
Daardie aand langs die vuur deel hul opgewonde hul
ondervindinge van die drie dae met hul pa wat rustig aan sy pyp sit en
suig. “Dan moet julle maar bedags as
julle so agter die bokke aan oppas met die mooi klippies ook speel, en nie net
met julle se dolosse nie” sê die ou man terwyl ‘n glimlag om sy verrimpelde
mondhoeke speel.
Die vuurtjie is so te sê uitgebrand. Met ‘n laaste paar vlammetjies wat hier en
daar opspring en dan weer gaan lê, speel die liggloed daarvan skitterend oor
die klompie klippies wat daar eenkant in die sand lê. Die ou man se hart is vanaand bly. Dit is die mooi klippies wat vanaand sy hart
so bly maak, dink hy. Dan kruip hy ook maar onder die karos in en
wag vir die slaap om hom te kom haal.
Groete van klippie tot klippie
Jimmy