Ek salueer my vrou
Het jy al in die oggend wakker geword en tot jou ontsteltenis
moes uitvind dat jou vrou ewe skielik baie, baie kwaad is?
Gisteraand het ons voor ons aan die slaap geraak het nog vir
oulaas lekker rustig gelê en gesels, en nou, ‘n paar uur later, hierdie skok!
Sy is boos!
Terwyl ek die beker lekker warm swart koffie versigtig op haar bedkassie neersit en
nog nie regtig kon uitvra wat nou eintlik verkeerd is nie, kom dit soos die atoombom wat destyds bokant Herosjima losgelaat is! Sy ís kwaad vir my!
Sy het gedroom! My
vrou droom nooit nie. So sê sy. Maar, laasnag het sy gedroom! En om alles te kroon, sy het van mý
gedroom! ‘n Nagmerrie, di’s wat sy gehad
het, nie dat ek so lelik of boos is nie!
Nee, in haar droom was sý reg en ék verkeerd!
As sy die nag droom, is dit soos die werklikheid self. Sy droom in “detail”. Ek vermoed sy droom ook nie soos ander mense
in swart en wit nie, maar in kleur.
Volkleur!
“Ek is nog stééds kwaad vir jou!” sis sy hier langs my in die bed. En op haar gesig kan ek sien dat dit die
waarheid is. Ek vermoed sy is nog nie
heeltemal wakker nie en bly maar vir eers stil.
“Ek het vir jou koffie gemaak,” sê ek ietwat later toe ek hoor dat haar asemhaling
rustiger word. “Dankie” sê sy nou rustiger.
Wanneer mý vrou iets in haar kop het kan mens maar doen of sê
wat jy wil. As sý besluit het verwag sy
dat dit so gedoen moet word. Nie omdat
sy lelik of selfsugtig is nie, nee, sommer maar net omdat sy SY is. So, omdat sy graag omgee en ‘n baie goeie
hart het. Omdat sy ‘n “omgee” hart
het. As daardie soort hart besluit het
om aan iemand iets goeds te doen of iets lekkers te gee, sal sy die hemele
daarvoor versit.
Ek dink nou maar aan die kere, en dit is elke jaar,wat sy na
die kinders in Nederland vlieg. Wanneer
sy die tasse hier pak word daar net die nodigste klere gepak.
Sy het haar klere daar by hulle gelos, die eerste keer toe sy daarheen
gevlieg het. Die res word sommer daar
gekoop. Nee, die twee tasse is albei
volgepak met geskenke, kondensmelk, droëwors, kits poedings, Mrs Balls chutney en…en…en… So is dit dan ook as sy
terugvlieg. Dan is die twee tasse
volgepak met sjokolade, koekies, klein geskenkies, Hollande tee, drop, kaas en…en…en.
En die meeste is geskenke! So is sy, al is sy ‘n introvert!
En dit is nou presies oor hierdie “omgee” waarom sy gedroom het!
Die hele episode kom al ‘n lang pad.
Dit het een oggend daar in die nuwe inkopie sentrum begin. Om presies te wees, binne in Ackermans.
Daardie oggend was sy vasbeslote om vir my ‘n nuwe denim
broek te koop, en ek moes aanpas! Haar
argument was dat ek nie met so ‘n broek saam met haar Nederland toe kan vlieg nie. Nou, ek is in die eeste plek nie ‘n ou
vir nuwe broeke koop nie en in die
tweede plek haat ek aanpas! Maar sy was
hierdie keer beslis, dit was mos darm nie al van vandag af dat sy so geneul het
oor die ou denim broeke wat nie meer oor my maag gepas het en ook al hier en
daar begin verweer het nie. En dan was
daar nog die skoene waarmee ek so lank mee loop en die hemde wat ek ‘n paar
jaar gelede gekoop het. Ou goed!
Wanneer sy beslis is trek haar lippe so styf en dan weet ek,
vandag gaan sý wen! Hierdie beslistheid
kom mos darm al ook ‘n lang pad. Destyds
al, toe ons mekaar net een maand geken het, het sy besluit dat ons sommer so
gou moontlik verloof moet raak en drie maand daarna is ons getroud. Daarna het al die ander beslissinge gevolg.
My hare was te kort en ek moes dit langer laat groei, tot oor
die bak ore. My gunsteling “check” broek
moes plek maak vir ‘n meer modieuse “bellbottom” broek.
Die hemde moes meer kleurvol raak.
Ek was darm te rustig en moes ook darm my stem laat hoor. En so het ons aangegaan.
Ek moet toegee, baie van hierdie “beslissinge” was seker ook
nodig. Ek meen nou, ek kom uit ‘n huis
waarvan ons sewe kinders was. Ons het
ook maar net die nodigste gehad. Jy moes
daardie broek en daardie hemp dra totdat dit noodgedwonge eendag tyd geword het vir ‘n nuwe. In daardie tyd kon dit nogal lank neem want
die goed was nogal sterk. Sy weer was
die enigste dogter van vier kinders. Dit
speel nogal ‘n rol, dink ek.
Daarom daardie droom!
Ek dink al die goed wat jou pla hoop nogal op in jou onderbewusyn en as
jy nou nie ‘n dromer is nie en jy dan tóg die nag ‘n geleentheid kry om te
droom, nouja, dan bars die bom!
“Ek was laasnag só kwaad vir jou!” sê sy darm nou ietwat
rustiger. Sy neem ‘n slukkie van die
lekker koffie wat ek gemaak het en ek kan sien dat die kwaadheid nou bietjie
afneem. “Wat ek nie kan verstaan nie” sê
sy weer,” is dat jy geld het om vir ander mense te gee maar jy kannie vir jou
ordentlike klere koop nie,” kom dit weer bietjie driftig. “Jy gee vir Liena,” di’s nou haar ma se
bediende wat ook maar swaar kry,” sommer so maklik R500 maar jy kannie eers vir jou nuwe skoene koop
nie, jy maak dit liewer met “silikoon” reg!”
“Ek verstaan jou nie” brom sy
verder. Ek glimlag.
Ek lê met my kop teen die kopstuk van die bed en slurp stadig
aan my warm tee. In so ‘n situasie moet
‘n man baie wysheid aan die dag lê, het ek oor die jare geleer. En jy moet ook stilbly totdat die waters weer
rustig vloei.
Na nog so ‘n paar opmerkings van misnoë oor my hardkoppigheid
ontdek ek die geleentheid om te begin praat.
“ja” sê ek rustig, en begin verder praat. “Ek het eintlik ‘n verrassing vir jou,” sê ek
droog. Met ‘n “en wat is dit?,” plaas sy
haar koffie beker op die bedkassie langs haar neer, gereed om te hoor.
Nou is dit my beurt om beheer oor hierdie situasie oor te neem.
Ek glimlag skalks en sê. “Wat jy
nie weet nie is dat ek eintlik self besluit het om vir my ‘n nuwe broek te
koop, maar jy het my voorgespring.”
Daarvan hou sy! “Ek weet dat ek
die wind nou heeltemal uit haar seile gehaal het. Sy lê nou heelwat rustiger terug teen haar
kopkussing en draai haar kop in my rigting.
Ek verlustig my nou terdeë in hierdie oomblik en met ‘n glimlag om my
mond gaan ek rustig voort.
“Ja,” sê ek weer. “Ek
wou jou eintlik daardie oggend verras, maar toe spring jy my wéér voor,” sê ek
glimlaggend. Ek sien die glimlag wat om
haar mondhoeke begin speel en weet, “ons” het weer gewen! “Ek kan dit nog steeds nie glo nie, ek meen
dat jy vir jou ‘n broek wou koop,” sê sy
weer. “Ja” sê ék weer. “Ek het eintlik daaraan gedink om nog ‘n
tweede broek te gaan koop, daardie een
wat jy gekoop het sit nogal lekker”
Hierdie laaste sinnetjie was die kersie op die koek! Die droom is vergete. Die geveg is gewen, en die stof het gaan lê. Ons besluit om nog ‘n bietjie langer in die
bed te lê, net om sommer lekker te lê en gesels.
Dít is mý vrou met wie ek nou al byna ses en dertig jaar mee
getroud is, en sy met my natuurlik. Ja,
so is ek nie net met háár getroud nie maar is ek ook met haar unieke persoonlikhed
getroud. Somtyds mag sy maar reg wees
en somtyds mag ek maar reg wees. Ons
elkeen is mos ook maar mens!
Die een ding wat ek oor die jare geleer het is dat God haar
as ‘n persoonlike en ‘n unieke mens
gemaak het. Ek kan nie God se handewerk
verander nie, ek het lankal opgehou probeer, maar ek kan wel leer om saam met Sý handewerk te lewe. Ek haal graag aan: Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat
die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.
En dit is presies wat sy vir my geword het. ‘n Hulp, ‘n onmisbare hulp om by my te
pas. ‘n Hulp om my somtyds “anders” te
laat dink, anders te laat doen en
anders te laat praat. Ja, ‘n hulp om somtyds op te steun en wat bereid is om te luister as ek so baie
praat. Iemand wat saam met my 5 uur in
die oggend gaan stap en iemand wat seker maak dat ek my bloeddruk pilletjies
drink. Iemand wat saam met my ‘n bak warm gestoomde vrugte met vla kan eet en in
die aand kan sê, “nou was hierdie bord groente wat jy gemaak het darm lekker!” Selfs iemand wat in stomende warm
water bad, net sodat die water nog warm kan wees sodat ek lank in die bad kan lê
en ontspan, al het ek al in die oggend gestort. Ja, selfs ‘n hulp as ek kar bestuur!
(vrouens dink mos jy kan nie behoorlik sien nie)
Seker daarom dat ek so geseënd is.
Die Psalm së: “Jou vrou is soos ‘n vrugbare wingerdstok binne-in
jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel. Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik
eet; gelukkig is jy, en dit gaan met jou goed!”
Ja, gelukkig is ek. En dit gaan
met my goed omdat ek hierdie vrou gekry het.
Die les wat ons miskien ook moet leer is: As God iets goed gemaak het,
moenie dan probeer om dit af te breek en oor te maak nie. Jy gaan nie die kar wat jy ry afbreek en
oormaak nie. Jy gaan die kar
geniet! So, geniet dan ook jou
vrou!
Sy mag miskien somtyds dink dat sy my nou “verander” het, maar dit is
nie so nie. Deur haar unieke
persoonlikheid het sy eintlik van my ‘n beter mens gemaak, en sy weet dit
miskien nie eens nie, maar ek het ook in die proses van haar ‘n beter mens
gemaak. Job sê mos: Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand
op ons twee kan lê nie. Nee, ons
twee is mos een, soos die Prediker sê: Twee is beter as een, want hulle het ‘n
goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid.
En dan, as ek miskien weer eendag die geleenheid mag kry om te kies,
dan kies ek maar die wie ek ken!
So salueer ek dan my vrou!
Groete, van man tot vrou.
Jimmy